23 dae gelede
Cat se oë gaan eindelik oop vir wat voor haar is
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan voort met die verhaal  “’n Tyd om Lief te Hê” van GWENDOLINE KORDOM. Geniet nou die slothoofstuk.

‘EK KAN nie glo wat ek hoor nie. Verdomde plante,” sê Cat.

“Ek het aangeneem jy praat van dwelms toe jy van smokkelary praat.

“Nou moet arme Joan dit ontgeld. Kevin beter bid en hoop sy is ongedeerd.”

“Ek is bly om te sien jou veggees is terug,” sê Francois droog.

“Die plantstorie het blykbaar eers onlangs opgeduik.

“Die Chinese gebruik dit vir medisinale doeleindes. Die spesifieke plant groei iewers in die Namib- woestyn en ook in die dorre areas van die Namastreek.

“Die Chinese het plaaslike ouens gebruik om die plant uit te haal. Vir ’n werklose man is R10 000 baie geld. ”

“Waar pas Kevin in die storie?” vra Cat.

“Toe dinge warm word aan daardie kant, het van die Chinese hier in ons dorp kom skuil. Charlie het met die mense bevriend geraak en kort voor lank het hy Kevin oor die plante ingelig.

“Kevin wou natuurlik self sien hoe die plant lyk.

“Hy herken toe daardie plant. Dit groei op ’n dorre deel aan die westelike kant van sy ouers se plaas.”

Catharina skud haar kop in ongeloof. “En toe?” vra sy.

Hulle sit in ’n klein kantoortjie by die plaaslike polisiekantoor.

“Hy en Charlie het snags die plante uitgehaal. ’n Maand gelede ontdek Charlie ’n nuwe koper wat meer betaal en boonop belangstel in ’n sekere spesie reptiele.

“Vir een reptiel betaal die nuwe koper blykbaar ’n halfmiljoen rand.”

Cat snak na haar asem.

“Charlie probeer toe die ou kopers ontduik, maar dit het nie goed geëindig nie. Boonop was nie net die polisie op hul spoor nie, maar ook die natuurbewaringseenheid.

“Charlie gaan reguit tronk as hy ontslaan word. Kevin se pa het hom lankal aan ons oorgegee.

“Ons was juis in die proses om ’n strik vir Kevin te stel.”

“Arme oom Christo. Sy hart is seker gebroke,” sê Cat hartseer.

“Die skurk wat jou ruit uitgegooi het – dit was ’n boodskap van die Chinese.

“Hy het die ander helfte van die plante iewers versteek. Die ouens soek dit voordat die nuwe kopers opdaag.

“Jou kêrel is duidelik meer bekommerd oor die geld as oor jou.”

“Ek kan nog steeds nie glo dat Kevin betrokke is nie,” hoor hy haar sê.

Haar woorde steek soos ’n dolk deur hom. Sy kom nog wragtig op vir die papbroek.

“Geld laat mense snaakse dinge doen,” sê hy.

“Tog maak dit nie van hom ’n slegte mens nie. Of dink jy omdat jy vir wet en orde opstaan, is jy verhewe bo ander?

“Kevin is ook maar net ’n mens.”

Francois voel hoe hy ontplof.

“Dit gaan oor integriteit, Cat. Iets wat by Kevin duidelik ontbreek.

“En ek wou nog altyd dié werk doen. Dit is ten minste ’n eerlike werk en ek hoef nie die hele tyd te hoor ek hou my windgat nie, veral nie van mense soos jy nie.”

“So maklik om die balk in ’n ander se oog te sien en die splint in jou eie mis te kyk, nè?”

Hulle staar na mekaar. Toe vlieg die deur oop.

’n Jong konstabel met wakker oë verskyn.

“Ons het hom, Sarge.”

Verlig vlieg Francois op. Cat volg hom onmiddellik. Hy keer haar by die deur.

“Jy bly net hier. Ek sal jou inlig sodra ek klaar is.”

Voordat sy tot verhaal kan kom, het hy deur agter hom toe geslaan.

’n Hele paar minute later stap Francois by die deur in. Cat staar angstig na hom.

“Jou kêrel het intussen ’n ruggraat gegroei. Hy gaan saam met ons werk om die Chinese vas te trek en ook vir Joan te red.

“Ek neem jou na my huis tot alles verby is.”

“Hy is nie meer my kêrel nie en ek gaan nêrens saam met jou nie.”

“Ek het nie die tyd om met jou te redeneer nie. Jy beter doen wat ek vra of ek boei jou aan iets vas.”

“Ek verkies om by oom Frits te wag,” gee sy vinnig in.

“Nes jy verkies.”

Francois lei haar deur die gebou na buite. Toe druk hy haar summier in die motor.

Minute later klop hy aan oom Frits se deur.

Die deur swaai oop en ’n verbaasde oom Frits staar na hulle.

“Ek het nie tyd om te verduidelik nie, oom Frits, maar sal jy toesien dat Cat hier bly totdat ek terugkeer? En maak asseblief doodseker sy gaan nêrens nie.”

Toe prop hy haar in ’n verbaasde oom Frits se hande.

“Die man se arrogansie gaan my nog eendag ’n kopaar laat bars,” hoor hy haar sê net voordat hy die deur agter hom toeklap.

Sy tred is lig en sy hart klop vinnig toe hy sy weg maak na die voorhek. Hy wonder of die gedagte om Cat weer te sien iets daarmee te doen het …

Cat stap onrustig op en af oor die vierkantige mat op oom Frits se sitkamervloer. Dis drie ure later en Francois het nog niks laat weet nie. Arme Joan is seker al teen dié tyd ’n bondel vrees.

“Ai, my kind, wil jy nie maar liewer sit nie?” vra oom Frits.

“Ek kan nie sit nie, Oom. As Joan iets moet oorkom …”

“Bly positief, kind.”

Sy knik en staar by die venster uit. Toe sien sy Francois se motor voor die hek stilhou.

Sy vlieg by die deur uit en sien hoe hy ’n bedremmelde Joan na die hek lei. Sy verkort die afstand met vinnige treë en gryp haar vas.

“Sy wou nie mediese hulp aanvaar nie.

“Sy sê hulle het niks aan haar gedoen nie,” sê Francois.

“Gelukkig is niemand in die onderonsie beseer nie.

Vier Chinese is gevang. Kevin sal teen hulle getuig. Vir sy eie aandeel sal hy die nodige tyd in die tronk deurbring.”

Joan lig haar kop. “Catharina, ek is so bly om jou te sien, kind.

“Dié storie het my laat besef hoe belangrik familie is. Ek sal van hierdie oomblik af die tante wees wat jy verdien.”

Oor Joan se kop staar Francois met ’n sagte blik na haar.

PRESIES ’n week later sit Catharina een oggend op die stoep. Sy hoor die geklingel van koppies uit die kombuis.

Joan het besluit om ’n rukkie by haar in te trek. Sy neem haar rol as tante dié keer ernstig op.

’n Motordeur wat toeklap, ruk haar uit haar gedagtegang.

Francois. Sy staar na sy gespierde lyf toe hy die trappies bestyg.

Hy plak hom langs haar neer.

“Môre, Cat.”

“Môre, Francois.”

Hy neem haar hand in syne.

“Ek hoop ons kan van vandag af mekaar opnuut leer ken. Sonder rusies, sonder oordeel en sonder enige parmantigheid.”

Haar klokhelder lag vul die ruimte.

“Net as jy belowe om jou windgat houding te laat vaar.”

Sy verkyk haar aan die blink skynsel in sy swart oë toe hy lag.

Joan se woorde kom skielik by haar op: “Jy moet bereid wees om daardie liefde te herken as dit die dag voor jou staan.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters