24 dae gelede
Cat se gille bring Francois terug na die werklikheid
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan voort met die verhaal "'n Tyd Om Lief te Hê" van GWENDOLINE KORDOM. Geniet gerus nou hoofstuk 4.

DAT haar bure soveel omgee, is voorwaar ’n riem onder die hart. Sy verstaan egter tant Lenie se kommer. Sy het haar enigste dogter, Barbara, 15 jaar gelede in ’n tref-en-trap-ongeluk verloor.

Maar sy sou nooit ’n plaasvervanger vir Barbara kon wees nie. Sy en tant Lenie het reeds dié gesprek gehad.

Haar hart gaan uit na die arme vrou.

“Lenie, dit was nie my bedoeling nie. Hoe wil jy vrou-alleen die kind beskerm?

“Dink jy wragtig die booswig gaan jou genadig wees?

“Deesdae loop die jongelinge net vir kwaadgeld rond en doen dan ongure dinge wanneer hulle so bedwelmd is. Dit sal nie deug nie.

“Die kind slaap by ons, ” sê oom Frits.

“Ek het besluit om by Joan te slaap,” sê Catharina voordat ’n volskaalse oorlog in haar voorhuis losbreek.

“Ek sal ’n oornagtas moet pak. So, as julle my sal verskoon? Baie dankie vir die ondersteuning. Ek waardeer dit opreg.”

Sy maak asof sy nie die teleurstelling op hulle gesigte gewaar nie.

Ná ’n belofte dat sy sal kom groet, maak sy uiteindelik die deur agter haar toe.

Sy pak die tas en bel Joan. Toe die oproep ná die derde keer nie beantwoord word nie, verskyn ’n frons op haar gesig. Sy sal ’n SMS stuur voordat sy ry.

Joan het tog immers gesê sy mag kom kuier. Sy woon omtrent 15 kilometer verder in die buurdorp.

Sy het genoeg tyd om Kevin te besoek.

Wat Francois insinueer, kan nie die waarheid wees nie. Sy skuld Francois niks. Sy gaan liewer probeer om haar verhouding met Kevin te red.

Moontlik van sy aanbod gebruik maak om by hom in te trek as Joan nie op haar boodskap reageer nie.

Aan die onderpunt van die straat staar Francois Cat se wit Yaris agterna. Sy instink vertel hom sy is op pad na Kevin toe.

Toe sy minute later in die straat afdraai waar Kevin woon, swets Francois onderlangs.

Die klein merrie soek vir moeilikheid. Gaan seker nou al die inligting aan Kevin uitbasuin. Soveel vir lojaliteit.

Maar dis seker reg, want op dié manier sal Kevin probeer om van die goedere ontslae te raak.

Hy hou drie huise verder stil en kyk in die truspieël hoe sy uit die motor klim.

Haar voshaarvlegsel wip heen en weer toe sy na die voorhek stap. Sy kyk een keer om en selfs van hier kan hy die frons tussen haar dun wenkbroue uitmaak. Hy verbeel hom hy sien die goue tint van die oggendson op haar wimpers blink.

Haar klein mond is in die vorm van ’n roosknop getrek. ’n Gewoonte wat hom altyd gefassineer het.

Dit en haar goed gevormde bene waarna hy ure kon staar op die atletiekbaan.

Die kleur van haar hare het hom altyd herinner aan die gemmerkat by sy ouma se huis. Al wat basies aan haar eksotiese voorkoms ontbreek, is die sproete op haar neus.

Sy verdwyn agter die bruin deur. ? Swaarmoedigheid oorval hom.

Toe staar hy met granietoë na die deur. Sy het gekies om by haar kêrel te oornag. Tog het sy nie die klein tas by haar gehad nie. Wat maak dit saak?

Hy sluit hulle sommer albei toe wanneer die geleentheid hom voordoen. Dan sal Cat met haar vreemde voorkoms ook vir ewig uit sy gedagtes verdwyn.

Selfs dié gedagte bring nie die tevredenheid waarna hy soek nie.

CAT staar oopmond na Kevin.

“Jy kan nie bedoel wat jy daar sê nie ... “Was jy ooit lief vir my?”

Hy snork hardop.

“Jy bestaan nie meer vir my nie. Al rede hoekom ek jou ingelaat is vir ’n bietjie aksie. For old time’s sake.

“Ek wil darem seker maak jy is nie ’n robot nie.”

Warm trane spring in haar oë toe hy hardop lag.

“Ek het nooit geweet jy is so laag en gemeen nie. Hier dog ek ons kan dinge uitpraat.”

“Wat is daar om uit te praat? Vir maande behandel jy my soos ’n virus. Nou kom jy hier ingewals en verwag ek moet vergewe en vergeet?

“Die Kevin wat jy geken het, bestaan nie meer nie. En jy ...”

Hy druk byna sy wysvinger in haar regteroog.

“Jy is besig om ’n probleem te word.”

Die volgende oomblik gryp hy haar vas. Sy mond is teen haar oor.

“Ons kan wel ons laaste tydjie plesierig maak, of hoe?”

Toe bring hy sy mond hard op hare neer. Dit neem ’n paar sekondes voordat Cat reageer.

Sy lig haar been en plant haar knie hard tussen sy bene. Toe sy hande van haar af wegval, mik sy vir die deur.

Sy slaag egter nie daarin om te vlug nie. Kevin kry haar aan die vlegsel beet en pluk hy met geweld daaraan.

’n Lang, uitgerekte gil skeur oor haar lippe. Francois gooi die motordeur oop. Die verlammende gevoel wat Cat se gil veroorsaak, laat hom vooroor struikel.

Hy skarrel om op sy voete te bly en voel dadelik hoe die adrenalien inskop. Dan nael hy vir die voordeur. Die toneel wat hom begroet, laat die bloed in sy are stol.

Kevin probeer ? spartelende Cat op die vloer neerpen. Dis die laaste beeld wat hy inneem voordat hy blindelings vorentoe storm.

Die gebeure daarna is vir hom soos ’n dowwe prent. Cat se gille bring hom na die werklikheid terug.

“Francois, stop! Jy gaan hom doodslaan ... Francois!”

Hy laat Kevin teësinnig gaan en staar dan geskok na die bloed aan Kevin se gesig. Sy oë lig na Cat.

Haar gekneusde mond en deurmekaar hare skep die prentjie van ’n verskriklike tragedie wat hom hier sou afspeel. Hy vlieg op en gryp haar teen hom vas totdat hy voel hoe die bewing in haar liggaam bedaar.

“Ek kan nie glo ... Francois, as jy nie hier was nie ... Ek sidder om te dink,” kry sy die woorde stotterend uit.

“Sjuut,” maak Francois haar stil.

“Ek is nou hier en niks sal verder met jou gebeur nie. Ek gaan jou onmiddellik hier wegneem. Laat ek eers bel en iemand kry om dié bliksem–”

Haar blik verstar. Sy oë volg hare. Waar Kevin sekondes gelede gelê en krul het, is nou ’n leë kol.

“Hoe die hel het die bliksem verbygekom?”

Francois storm by die deur uit. Kevin se motor staan in die oprit. Hy is te voet hier weg.

Voor die dag verby is, sal hy sorg dat Kevin agter tralies is.

Hy pluk sy selfoon uit die hempsak. Nadat hy die nodige instruksies gegee het, draai hy weer na Cat.

Hy hoor net betyds hoe sy ’n oproep beantwoord. “Kevin? ” vorm sy lippe die woord.

Sy skud egter haar kop en praat in die gehoorbuis.

“Yes, this is she.” ’n Geskokte uitdrukking verskyn op haar gesig.

Sy oorhandig die instrument met bewende vingers. Hy luister. Die spreker het ’n Chinese aksent.

“Let me repeat. I have aunt. Tell boyfriend I want my plants or she dies.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters