3 maande gelede
By Sandra hoor hy rykes se lewe is bo blink, onder stink
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Fanie is aanvanklik skaam om so skraps geklee vir die klomp ryk anties te dans, maar toe hy eers in die groove kom, gee hy sy lyf ’n gawe tyd. Die anties is omtrent in vervoering met die way hoe Fanie sy biscuit skud en hy is ’n instant hit. Maar dan gewaar hy iemand in die crowd wat hy nooit sou kon raai hy dáár sou raakloop nie: sy eksvrou, Sandra. Ná Fanie se baie suksesvolle debuut kom gesels sy met hom. Hy kan sy ore nie glo toe sy sê sy is nie meer getroud nie. Geniet die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se lekker vervolgverhaal Gif.

‘EK IS deesdae so single soos daai dop whisky in jou hand,” sê Sandra.

Sy gee ’n verleë laggie en sê dan: “Dit is seker maar my verdiende loon oor wat ek destyds aan jou gedoen het.

“Hulle sê mos karma bly langs die beach.”

Fanie weet steeds nie wat om te sê nie.

“Ek is jammer oor wat ek in die verlede aan jou gedoen het,” gaan Sandra voort.

“As ek geweet het jy het sulke goeie dans moves, sou ek jou nooit verlaat het nie.”

Fanie bars uit van die lag.

“Nou trek jy my been,” sê hy. “Maar kom ons wees nou dood­eerlik: Ek is ook nie so innocent nie. Ek was eintlik maar die gif in ons huwelik. Ek en my liefde vir drank.

“Ek raak nou nog skaam wanneer ek dink aan al daardie aande dat jy alleen by die huis moes slaap terwyl ek rondgekuier het in al wat ’n pub is.”

Sandra trek haar skouers op. “Drank is gif, ja. Maar ek sien jy het nog nie die gif gelos nie.”

“Ek het nog nie ’n goeie rede gehad om hierdie gif te los nie,” antwoord Fanie en vat weer ’n sluk van sy dop.

“Vir die huidige is dít my geselskap. Dit sus my gewete en laat my al die foute vergeet wat ek in die verlede gemaak het.

“Sonder dit sal ek die hele nag rondloop en niks slaap inkry nie.

“Maar vertel my, hoe het dinge tussen jou en Jimmy toe verkeerd geloop?”

Sandra trek weer haar skouers op. “Die lewe het ’n funny manier om ’n mens te straf,” sê sy.

Die hartseer sit meteens vlak in haar oë.

“Nes ek destyds gevoel het jy skeep my af, het Jimmy ook later begin kla ek gee nie genoeg aandag aan hom nie.

“Ek wou aan my career werk en het nie verwag dat ek vir ’n groot, uitgegroeide man ’n oppasser sal hoef te wees nie.

“Dit was dan ook sy verskoning vir hoekom hy later op my begin cheat het.”

“Hy het op jou gecheat?”

Sandra gee ’n hartseer laggie. “Eers cheat ek op jou, en toe cheat die man met wie ek jou verneuk het op my. Is dit nou nie baie ironies nie?”

Fanie maak sy keel skoon en vat nog ’n sluk van sy dop. Hy kan steeds aan niks dink om te sê nie.

“Jy lyk goed,” verander Sandra die topic.

“En soos wat ek nou gesien het, is die vroue hier mal oor jou.

“Jy gaan sommer lekker deur hulle bederf word.

“Veral Sammy is lief vir ’n man met moves. Shame, sy wil nie hê almal moet dit weet nie, maar ten spyte van al haar man se geld, kan sy move nie meer opstaan nie.

“Sy Jakob Regop rus nou in vrede – natuurlik tot Sammy se groot frustrasie.

“Maar ek is seker jy gaan haar uithelp?”

Fanie voel hoe hy rooi in die gesig raak.

Sandra lag. “Maak ek jou uncomfortable?”

“Natuurlik,” antwoord Fanie. “Dis mos nie die tipe goed wat ’n mens met jou eksvrou wil bespreek nie. Maar wat maak jy hier? Geniet jy ook Gerald se shows?”

Sandra lag.

“Monica het my saamgenooi. Dis actually die eerste keer dat ek hier is en toe loop ek jou wragtig raak.”

“Monica? Diep belustige Monica?” vra Fanie oorbluf. “Is julle vriende?”

“Haai, jy’s nou lelik,” sê Sandra. “Ek moet admit, Monica kan partykeer too much wees, maar sy het ’n goeie hart.

“Sy het dit ook nie maklik onder haar man nie. Hy slaan haar.”

Fanie skud sy kop in ongeloof. “Dit klink vir my al hierdie ryk mense het probleme wat groter as hulle banksaldo is,” sê hy.

“Dít kan jy weer sê,” beaam Sandra.

“So, is jy nou ’n professional dancer?

“Kan ek jou vir myself huur? Jy charge seker baie.”

Fanie grinnik verleë.

“Moenie sulke grappies maak nie,” skop hy teen die karre.

“Ek is net hier omdat Gerald my convince het om saam met hom te kom.

“Dit is beslis nie my style om in ’n G-string rond te dans vir ’n living nie. Daar is sekere dinge in die lewe wat eenvoudig nie moet skud nie.”

Sandra lag nou kliphard. Dan merk Fanie op Monica kom in hulle rigting aangestap.

“Julle twee lyk lekker cosy,” sê Monica.

Die jaloesie in haar stem kan nie soos ’n stopstraat in Philippi geïgnoreer word nie.

“Ons catch net op,” gooi Sandra wal.

“O?” vra Monica en lig haar wenkbroue.

Fanie is heilig oortuig die goed is met die duurste potlood op aarde geteken.

“Sandra is my eksvrou,” verduidelik Fanie.

“Ons ken mekaar obviously al lank.”

Monica frons en draai na Sandra. “Hoekom het jy my nooit vertel jy was voor Jimmy getroud nie?”

“Dis mos iets van die verlede,” skerm Sandra.

“Ek wil nie met ’n ‘hallo-ek-is-alweer-divorced’ sticker op my voorkop rondloop nie.”

Monica se gesig helder skielik op. “So, daar is geen probleem as ek Fanie gou wegrokkel nie?”

“Be my guest,” antwoord Sandra.

Voordat Fanie weet wat klap vir wat, gryp Monica hom aan die hand en trek hom weg van Sandra.

Hy loer oor sy skouer na Sandra. Verbeel hy hom, of is daar teleurstelling op haar gesig?

Monica gee hom egter nie tyd om hieroor te tob nie.

“Jy weet ek likes jou,” val sy met die deur in die huis.

“Gerald is nie my cup of tea nie en ek moet jou sê: Ek hou nie van share nie.

“Ek soek jou vir myself. Hoe klink R15 000 per maand om net my danser te wees?”

Fanie se ore suis. Hoor hy reg?

R15 000 om ’n paar keer per maand vir een vrou te dans?

Só iets sal mos al sy drank­probleme oplos.

Nooit weer hoef hy leë geboue vir ’n living op te pas nie. Hy sal soos ’n koning kan drink. Net wat hy wil, wanneer hy wil.

Maar hoekom laat dié gedagte hom nie opgewonde voel nie?

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters