5 dae gelede
By hul eerste stop wil Nigels iemand met sy vuis bykom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Tiekie gee ’n beskrywing van die ou wat hy in die begraafplaas gewaar het. Dis egter nie van veel hulp nie, want die killer het ’n masker opgehad. Maar dan sê Tiekie Nigels ken die jongste slagoffer, wie se lyk in die begraafplaas lê. Wie kan dit wees? Geniet nou hoofstuk 6 van ELD­RIDGE JASON se verhaal “Die Gemaskerde Killer”.

NIGELS se emosies voel soos ’n blikkie gemengde groente toe hy die foil-bedekking van die lyk oplig.

Sy maag gee ’n draai. Tiekie het nie gelieg nie: Hy ken beslis die meisie met die dowwe oë wat ver na nêrens staar.

Die smile wat altyd sy hart vermurwe het, is gone. Die moesie op haar bolip wat altyd so sy snare getokkel het, sit steeds daar, maar dit lyk nie meer so bekoorlik nie.

“Ken jy haar?” vra Layla agter hom. Hy maak vir ’n vale keel skoon om ontslae te raak van die knop in sy keel.

Die trane is naby. Bitter naby. Hy kan dit voel. Hy knik net, bedek weer die lyk en stap eenkant toe.

Layla volg hom. Daar is ’n simpatieke uitdrukking in haar oë.

Hy voel meteens kwaad. Hy het nie simpatie nodig nie; hy need om die etter vas te trek wat hiervoor verantwoordelik is en om hom goed in sy tjops te maak.

“Gloria,”sê hy met ’n skor stem.

Hy vroetel in sy sak vir sy pakkie sigarette. “Gloria Jordaan. Ons het op skool uitgegaan.”

Nigels pluk die masker van sy gesig af, skud met bewende hande ’n sigaret uit sy pakkie en steek dan een brand.

Hy vat ’n diep skyf en blaas die rook behaaglik uit.

Layla tree effens agteruit, maar Nigels maak asof hy dit nie agterkom nie.

“Gloria het jare in die Kaap gewerk. Glo ’n paar maande gelede sak en pak teruggekom.

“Ek het haar nog nie gesien vandat sy terug is nie – net gehoor sy is. En ook dat sy in daai slimy strip club begin werk het.

“Sover ek weet, het sy ’n dogtertjie wat by haar ma bly.”

“So sy het ook by Losse Lyf gewerk?” vra Layla.

Toe Nigels haar vraend aankyk, gaan sy voort: “Dis glo die naam van die strip club: Losse Lyf.

“Die eienaar is ene Jao Ferreira, ’n Portugees. Ken jy hom?”

Nigels skud sy kop. “Net van hoor, maar dis vir my interessant dat ’n Portugees hom met sulke dinge sal besig hou, want is hulle nie maar meestal die konings van viswinkels nie?”

Layla knik. “Het ek ook gedink, ja. Ek wil ’n draai daar by sy plek gaan maak. Sien jy kans om saam te kom?”

“Girl,” antwoord Nigels verontwaardig, “dis nie die eerste keer dat ek ’n lyk sien nie.

“High school sweetheart ofte not, alle lyke is mos maar dieselfde – dood.

“Soos ek dit verstaan, is ’n ou visfabriek in ’n strip joint omskep. Ek weet waar dit sit, so hell yes, ek kom saam.”

Layla kyk op haar horlosie. “Dis nog vroeg,” sê sy. “Ek wonder of hulle al oop sal wees.”

“Sonde ken nie van laat slaap nie,” antwoord Nigels.

“Hulle sal oop wees, want die jagses ken nie van rus nie.”

Hy stap in die rigting van die polisiekar toe Harry Muggels weer in hul rigting gestap kom.

“Ek het nie nou lus vir jou k*k nie,” sê Nigels in ’n growwe stemtoon nog voordat Muggels enige iets kan sê.

Hy stamp Muggels met sy skouer uit die pad en stap haastig na die kar.

“Wie de f*k het sy Jungle Oats gesteel?” vra Harry vir Layla.

“Dis ’n lang storie,” antwoord sy en volg Nigels dan na die kar.

NES Layla vermoed het, is Losse Lyf inderdaad nog gesluit toe hulle daar aankom. Nigels brom die een ná die ander ma-se-goeters-vloekwoorde van agter sy masker.

Dan gee hy ’n paar treë agteruit en staar na die gebou.

“Dit was eers ’n visfabriek hierdie,” sê hy en skud sy kop. “Wat ’n kaal lyf en vis gemeen het, weet die Vader alleen.”

Layla lag. “Ek het nooit geweet jy is so outyds nie, man.

“Dis die oudste professie in die wêreld. Baie sal sê exotic dancing is ’n kuns.

“Jy kan selfs kursusse loop in pole dancing.”

“Kan jy om so ’n paal dans?” vra Nigels. Die vraag is uit voordat hy homself kon keer. Layla raak bloedrooi in die gesig.

“Hei, loop skyt, jy,” antwoord sy skamerig.

“May I help you?” vra ’n stem skielik naby hulle.

Nigels en Layla swaai gelyktydig om.

Voor hulle staan ’n kort, dikkerige man.

Hy is donker van kleur en sy hare is gejel.

Sy ligbruin oë hop van Nigels na Layla.

Hy is propvol agterdog, besef Nigels dadelik.

“Jao Ferreira?” vra Nigels.

“Who wants to know?” is die enigste response wat hy kry.

Nigels vererg hom. “Luister, jou stuk bompie-k*k, ek vra die vrae hier, verstaan jy?”

“We are from the police, Mr. Ferreira,” spring Layla tussenbeide in ’n poging om die situasie te ontlont.

“We just want to ask you a few questions.”

“Like what?” vra Jao steeds agterdogtig.

“Heather Law­rence, Lerato Modisane en Gloria Jordaan ... Ken jy hulle?” vra Layla, nou moeg van Engels praat.

“What about them?” hou Jao hom steeds hardekwas.

Vir Nigels is dit die heel laaste strooi.

Hy skiet vorentoe en kry Jao aan die kraag beet.

“Hulle is dood, jou stuk etter. Vermoor.

“En hul ore is in hul keelgat afgedruk. En jy wil vir jou slim kom staan hou?”

Jao raak spierwit in die gesig. Nigels verslap sy greep en oorweeg dit ’n oomblik om die strip club-eienaar ’n vuishou of twee te gee. Maar dan hou hy hom liewer in.

“Heather en Lerato is nou al ’n lang tyd weg. Gloria se lyk is vanoggend gekry.

“Hoekom het jy hulle nie as vermis aangemeld nie?” vra Layla voordat Jao kan gedagte kry van sue.

“Heather resigned a few weeks ago, saying this klein dorpie is too much for her. Lerato ... Lerato had issues to sort out and asked for some time off.

“Gloria, lovely Gloria with the gorgeous body ... She left her shift in a hurry yesterday, saying there is a crisis she must attend to,” antwoord die Portugees.

“Kan ons inkom en jou nog ’n paar vrae vra?” wil Nigels weet.

“Not without my lawyer,” kap Jao terug, draai om en stap vies weg.

“Dis nou interessant,” sê Nigels. “Wanneer ’n ou altyd vra vir ’n lawyer, dan het hy iets om weg te steek. En van wanneer af het soveel girls tegelykertyd issues wat hulle moet uitsort?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters