24 dae gelede
Brian September se grootste vrees word werklikheid
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Adjudantoffisier Brian September kom af op ’n skokkende toneel in sy huis in Balvenie Estate, Elsiesrivier. Sy hofsaak lok groot belangstelling van oral. Lees nou verder aan “Die Groot Vyf”, die aksiebelaaide riller van ’n vervolgverhaal uit die pen van SALMON SMITH. Geniet hoofstuk 2.

REGTER Van der Bank loer oor sy dun ronderaam-brilletjie na Brian September.

Brian voel hoe hy ineen wil krimp toe hy in daardie yskoue blik vaskyk.

“Meneer Brian September, in die saak van moord en poging tot moord teen jou moes die hof alle aspekte eers in ag neem voordat die hof tot ’n beslissing kon kom,” begin Van der Bank met sy uitspraak.

“Jy het die Maandagoggend van 8 Februarie 2010 vroeg van die werk af huis toe gekom.

“Jy tref drie vermeende inbrekers in jou huis aan.

“Jy ontdek terselfdertyd die verminkte lyk van jou vrou en aanskou die verkragting van jou dogter in haar kamer.

“Jy rig toe die vuurwapen op die vermeende verkragter en skiet hom sewe skote in sy gesig.

“In die proses probeer die ander twee vermeende inbrekers uit jou huis vlug.

“Maar jy skiet slagoffer nommer 2 twee keer in die rug terwyl hy verby jou hardloop.

“Slagoffer nommer 3 wou by jou slaapkamer uitkom, maar jy het sy weg geblokkeer.

“Jy maak toe jou vuurwapen op hom leeg deur hom twee keer in die kop en vier keer in die lyf te skiet.

“Al drie die slagoffers was ongewapen.

“Die hof verwerp jou verweer dat slagoffer nommer 3 ’n mes by hom gehad het. Want met die ondersoek ter plaatse is ontdek hy het sy mes in jou slaapkamer laat val.

“Jy het jouself op provokasie berus, maar die staat het sonder enige twyfel bewys jy was by jou volle positiewe toe jy daardie sneller getrek het.

“Jy het dit vir die hof voorgehou dat bendes jou en jou familie al talle kere gedreig het oor jy ’n polisiebeampte is.

“Maar as julle lewe in gevaar was, hoekom het jy nie jou gesin gevat en uit Elsiesrivier getrek nie?

“In karaktergetuienis oor jou deur jou bevelvoerder, kaptein Mornay de Witt, is geopenbaar dat jy soms ’n gewelddadige streek in jou het.

“Jy sit ook soms vas met jou kollegas oor die geringste dingetjies.

“Die hof kan ook nie miskyk dat jy telkens geen genade teenoor gearresteerde bendelede getoon het nie.

“Daar is ook genoem van ’n insident waar jou kollegas moes inspring toe jy ’n jong bendelid te lyf wou gaan oor hy jou ma uitgevloek het.

“Die hof is jammer jy het jou vrou verloor en jou dogter is in ’n gestig opgeneem oor al die onsmaaklike gebeure daar in jou huis.

“Maar in plaas daarvan dat jy die gereg in jou vertroue geneem het, het jy eerder besluit om die reg in eie hande te neem.

“Dus, gebaseer op dié feite … op die twee klagte van moord en een klag van poging tot moord bevind die hof jou skuldig.”

Toe die verdoemende woorde van regter Van der Bank deur die hofsaal weergalm, laat sak Brian September sy kop.

’n Opgewonde gebabbel klink vanuit die openbare galery op.

“Stilte in die hof!” weergalm die hofordonnans se harde stem deur die hof.

Toe breek die damwal van Brian se gemoed en trane begin oor sy wange stroom, terwyl rou snikke deur sy liggaam skeur.DIE eerste paar maande van Brian se tronkstraf van 15 jaar is ’n groot aanpassing vir hom.

Hy sukkel nog om aan die idee gewoond te raak dat hy ’n veroordeelde prisonier is wie se vryheid ingeperk is.

Hy is nou wel in ’n afdeling gegooi waar nie-geharde misdadigers aangehou word.

Selfs van sy gewese kollegas wat voorheen met die gereg gebots het, is hier.

Van al die gruweldinge wat hy al van die tronk gehoor het, is sy grootste vrees dat hy hier verkrag kan word.

Dit is in sy derde maand hier toe dit gebeur …

Diep in die nag word hy wakker toe daar gepeuter word aan die deur van die sel wat hy met nog vyf gevangenes deel.

Hy lig sy kop op, maar ’n kombers word skielik oor sy kop gegooi.

Hy voel hoe meer as een persoon hom op die bed vasdruk.

Hy probeer stoei, maar hulle is te sterk vir hom.

Iemand skeur sy broek met geweld van sy lyf af.

Wat hierna met hom gebeur, sal vir ewig in sy onderbewussyn vassteek – die vernedering, die pyn en foltering wat lyk asof dit nie end kry.

En toe hoor hy die dierlike gegrom toe sy verkragter sy klimaks bereik.

Toe alles oor is, lê Brian nog ’n hele rukkie roerloos met die kombers nog net so oor sy kop getrek. Te bang om sy kop op te lig.

Hy wens alles is maar net ’n nare droom waaruit hy sommer gou gaan wakker word.

Maar toe die wrede werklikheid by hom inskop, gee hy sy maag vrye teuels.

Suur braaksel skiet by sy mond uit. Sy maag gee sulke spastiese sametrekkings, terwyl hy sy aandete van vroeër op die vloer uitbraak.

Toe alles klaar is, bedek hy sy naakte onderlyf met die kombers en draai na die muur.

Toe skeur rou snikke deur sy liggaam.“OOR wat gisteraand gebeur het … jy moet maar gewoond raak aan die lewe innie mang, my ou!” sak een van sy selmaats skielik oorkant hom aan die ontbyttafel af.

Brian se kop ruk op. “W-wat bedoel jy?” hyg hy.

Dit voel vir Brian of sy maag weer sulke nare draaie maak.

“J-jy … jy weet!” Die ou kyk eers vlugtig in die rondte. Hy bring sy gesig nader aan Brian.

Brian leuen instinktief vorentoe.

“Kykie, hie in dié tronk is die bewaarders f*kk*n corrupt.

“Hulle doen enige iets vir geld. Selfs innie nag bring hulle nommers van anner seksies af om prisoniere hier in ons seksie te ko verkrag!”

Brian se oë rek groot. “Bedoel jy dat gisteraand –”

“Ja, jy is teen betaling verkrag,” val sy selmaat hom in die rede.

“ ’n Bewaarder loop nou met ’n klomp pond in sy sak rond en jy met ’n seer hol!”

Die selmaat bring sy gesig nog nader aan Brian.

“Dit baat nie jy report dit nie. Niks sal daarvan kom nie.

“So, jy moet maar gewoond raak aan ’n hol wat knaend pyn en die k*k lewe hier innie mang.”­

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters