23 dae gelede
Brian se gedagtes versnel ná Johnny se skokonthulling
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die oud-bloue Brian September dien 15 jaar tronkstraf uit vir die skietmoord op twee varke in sy huis en poging tot moord op ’n derde. Dit nadat hulle sy vrou vermoor en sy dogter gerape het. Brian se grootste vrees in die tronk is dat hy verkrag kan word. En toe gebeur dit in sy derde maand in die mang. ’n Selmaat lig hom later in dat een van die bewaarders waarskynlik sy verkragting “gereël” het. Geniet hoofstuk 3 van “Die Groot Vyf” uit die pen van SALMON SMITH.

WAT vir Brian September ’n blye dag behoort te gewees het, is allesbehalwe ...

Vandag, Vrydag 28 Junie 2019, ná nege jaar in die tronk, is hy vrygelaat as gevolg van goeie gedrag.

Ten spyte van die ontberinge, verkragting en aanranding wat hy daar binne verduur het, het hy afslag gekry op sy vonnis van 15 jaar.

Maar diep binne-in hom is hy ’n dooie mens, yskoud en sonder enige gevoel.

Die dinge wat hy in sy nege jaar in die tronk deurgemaak het, het hom hard teenoor die samelewing gemaak.

Hy het alle vertroue in die regstelsel verloor.

Hy is soos ’n misdadiger behandel oor hy vir sy gesin opgestaan het.

Die verraad van sy eie kollegas toe hulle teen hom getuig het, het sy vertroue in sy medemens ’n verdere knou toegedien.

Boonop het die gangster-gemors wat hy verlam gelaat het ’n siviele eis teen hom ingestel en ’n groot hap uit sy pensioen gevat.

Toe moes hy boonop hoor sy dogter, Christal, het ses maande gelede afgesterf daar in die inrigting waar sy al die jare behandel is.

Sy het glo alle lus vir die lewe verloor.

Vandag staan hy hier in die Maitland-begraafplaas by die graf waarin sy vrou en dogter langs mekaar begrawe is.

Sy siel is gedreineer. Hy het alles verloor. Hy het geen huis of motor meer nie.

Sy eie familie het hom die rug toegekeer. Hy het niks meer in die lewe oor nie.

Sy hele lewe is geruïneer. En dis alles die skuld van daardie gewetenlose gangsters wat daardie oggend by sy huis ingebreek het.

Hy val op die grond langs sy geliefdes se graf neer en rou snikke begin deur sy liggaam ruk.

Dit is ’n hawelose man wat hom later die aand daar langs die graf kom wakker maak.

“Meneer! Jy moet opstaan! Dis koud hier buite!” skud die man hom wakker.

Brian se oë fladder verskrik oop en hy kyk op in die bekommerde gesig van die man wat hier bo-oor hom buk.

“W-Wie’s jy?!” vra Brian verskrik. Hy kyk om hom rond en sien dit is totaal donker.

“W-Waar is ek!?”

“Jy’s innie graveyard, broe! Jy slaap dan sommer so hier langs ’n graf!” sê die man en kyk Brian ondersoekend aan.

“Ekke kan sien jy is nie een wat gewoonlik op straat slaap nie.”

Hy steek sy hand uit na Brian. “Kom, ek help jou op. Ek het ’n lekker warm hok in die plakkerskamp hier naby.

“Jy kan solank daar kom skuil teen die koue vanaand.”

Brian kyk die man wantrouig aan.

“My naam is Johnny Vercuil,” stel Johnny homself bekend toe hy die twyfel in Brian se oë sien.

“Is orrait, ek kan self opstaan,” sak Brian moeg af.

Hy is regtig nie nou lus vir mense nie. Hy wil net alleen wees.

Hy kyk terug na die graf van sy vrou en dogter en die weemoed kom sit weer vlak in sy gemoed.

“Is dit familie van jou?!” vra Johnny en beduie na die graf.

“Ja, dis familie!” antwoord Brian kortaf.

Hy kyk Johnny met ’n ou cop se oog aan. Die man lyk nogal heel ordentlik.

Hy bedoel seker maar net goed om te help, dink hy by homself.

“Jammer dat ek so onbeskof was,” maak hy gou verskoning teenoor Johnny.

’n Ligte glimlag speel om Johnny se mondhoeke.

“Nee, dis orrait, broe. Kom ons gaan. Dis nogal koud hier buite,” sê hy en maak aanstaltes.

Binne in Johnny se hok lyk dit darem leefbaar. Nie soos baie plakkershokke wat hulle gaan raid het in sy dae as polisieman nie.

Alles hier is netjies op sy plek. Daar is ’n enkelbed in die een hoek, ’n klerekas en rusbank daar langsaan.

Hier naby die deur is ’n kombuiskassie en ’n tweeplaatstofie bo-op.

Eenkant staan ’n kombuisstoel wat ook al beter dae geken het.

“Bly jy alleen hier?” vra hy vir Johnny toe hy geen vroueklere hier rond sien nie.

“Jip, stoksielalleen.”

’n Ongemaklike stilte heers toe tussen die twee mans.

“Hoekom het jy dáár geslaap?” vra Johnny skielik om die ys te breek.

Hy beduie in die rigting waar Brian se vrou en dogter se graf is.

Toe Brian hom nie antwoord nie gaan hy voort. “Ek mean, jy lyk nie soos ’n ou wat gewoonlik buite slaap nie.

“Waar bly – ...”

“Asseblief, ek wil nie daaroor praat nie!” kap Brian hom kort.

Johnny steek sy hande in die lug op. “Oukei … ek’s jammer!” maak hy verskoning.

Moedeloos gaan sak Brian op die bank neer.

Sy oog val onmiddellik op ’n uitgawe van Sop op Sondag wat eenkant lê.

Instinktief tel hy dit op.

Hy dink sommer onmiddellik terug na die dae van sy hofsaak toe die koerante die storie so uit verband geruk het.

Hy sien dit is al die vorige maand se koerant.

Sy oë val op die voorblad­storie: “Eks cop verloor alle vertroue in die regstelsel.”

Hy voel hoe sy hart weer vinnig aan die klop gaan.

Hy lees vinnig waaroor die storie gaan en dit voel asof ’n woede weer van voor af in hom opkom.

“Dit was my kollega!” onderbreek Johnny hom skielik.

Brian se kop ruk op. “H-Hoe nou?”

Eers tóé sien Brian die geraamde foto van ’n jonge Johnny in ’n polisie-uniform teen die klerekas.

“W-Was jy ook ’n polisieman?” hyg Brian.

Johnny knik sy kop. “Jip, net soos my neef van wie jy nou daar gelees het.”

Johnny se gesig raak skielik graniethard.

“Ons al twee het ons werk verloor deur ons vrot regstelsel!

“Clint Daniëls oor hy sy plig as polisieman uitgevoer het. En ek oor ek opgestaan het vir my familie wat deur gangsters gedreig is!” spoeg hy uit.

Brian kyk nou met nuwe aandag na Johnny. Sy gedagte is nou in die hoogste versnelling.

En dís toe dat ’n briljante idee in sy kop kom sit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters