22 dae gelede
Brian kom met 'n plan vorendag om terug te veg
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ná nege jaar in die tronk vir twee moorde en een poging tot moord het die voormalige cop Brian September alle geloof in die mensdom verloor. Hy word vrygelaat en moet sonder sy vrou en dogter met sy lewe aangaan. Hy ontmoet Johnny Vercuil, ’n hawelose man, in die begraafplaas waar hy langs die graf van sy vrou en dogter aan die slaap raak. Johnny is ook ’n oudpolisieman wat ’n injustice gely het. Geniet hoofstuk 4 van “Die Groot Vyf” uit die pen van SALMON SMITH.

‘HEI, hoekom kyk jy my nou so snaaks aan?” vra Johnny Vercuil en trap ongemaklik rond.

Brian staan van die rusbank af op met Son nog net so in sy hand.

“My naam is Brian September. Ek was ook ’n polisieman,” stel hy homself vinnig bekend.

“Nege jaar gelede is ek tronk toe gestuur oor ek gangster-gemorste in my huis vrek geskiet het nadat hulle my vrou vermoor en my dogter verkrag het.”

Herkenning is op Johnny se gesig te lees terwyl hy na Brian staar.

“Ek wil mos sê jou gesig lyk baie bekend,” verklaar hy.

“Ja, jou hele storie ken ek. Dit was mos destyds groot nuus.

“Selfs jou kollegas was vuilgatte deur teen jou te getuig!” raak Johnny opgewonde.

Hy beduie vir Brian om te gaan sit en vat ’n stoel en kom sit teenoor hom.

“Vier jaar gelede was ek ’n speurder daar by die Athlone-polisiestasie,” begin Johnny sy storie vertel.

“Ek het nie k*k gevat van die gangsters van daai Kewtown nie. Hulle het ook, net soos in jou geval, my en my familie begin dreig.

“Ek het dit onder crime intelligence se aandag gebring, maar hulle was ook niks werd nie.

“Ek het toe een aand plak vasgemaak en tot by die huis van Underdog, die leier van die Killer Beans gang, gegaan om dinge straight te maak.

“Daar het ’n skietery uitgebreek en ek het in die proses Underdog se linkeroog uitgeskiet. Hy het ’n saak teen my gemaak.

“Ek het probeer verduidelik dat sy manne eerste op my gun getrek het en ek myself moes verdedig.

“Maar die hof wou by my weet hoekom ek gewapen daar opgedaag het as ek dan kwansuis wou gaan peace talks hou.

“Ek het ’n opgeskorte vonnis gekry vir attempted murder.

“Departementeel is ek afgedank oor ek kwansuis die polisie se naam in oneer gebring het.

“Ek het my huis en my kar verloor. My vrou en twee dogters, die drie vir wie ek opgestaan het, het my verlaat en Joburg toe getrek.

“My hele pensioen is ook net so as skadevergoeding aan daardie gangster-gemors uitbetaal. Nou sit ek hier in sak en as in ’n sinkhok.

“Dit was ook maar ’n skrale troos toe ek hoor Underdog is vroeër dié jaar deur sy eie manne vrek geskiet.”

Daar is empatie in Brian se oë terwyl hy Johnny aankyk. Hy beduie na die voorblad-artikel.

“En ek sien dat jou neef en kollega sy werk verloor het oor hy ’n vrou uit ’n brandende kar gered het.”

“Ja, konstabel Clint Daniëls het gedink hy doen iets goeds.

“Hy was die first responder op daardie ongelukstoneel. Daardie vrou het met haar motor teen ’n boom vasgery.

“ ’n Brand het toe voor by die enjin uitgebreek.

“Clint het maar gedoen wat enige polisieman sou doen – die bewustelose vrou uit die kar getrek voordat sy doodbrand.

“Maar in die proses het hy haar linkerbeen erg beseer, want dit het onder die dashboard vasgesit. Dit moes toe afgesit word.

“In plaas daarvan dat sy hom bedank oor hy haar lewe gered het, gaan sit die vrou so wragtig ’n siviele eis teen die polisie in vir die verlies van haar been.

“Sy pensioen het ook net so gefly en die hof se redenasie was hy was nie opgelei in noodhulp nie.

“So, hy moes daai verdomde vrou laat vrek brand het!”

Johnny klem sy hande in vuiste saam uit pure frustrasie.

Brian kyk Johnny ’n hele rukkie in stilte aan. Hy besef nou hy kan die man vertrou, aangesien hulle in dieselfde bootjie is.

Hy vertel Johnny van sy lewe in die tronk – die verkragting, aanranding en korrupsie wat hy daarbinne ondervind het. En dít alles oor die gangsters deur die regstelsel gepamperlang word.

Toe hy klaar is, kyk hy Johnny aandagtig aan. “Hoe voel jý nou oor alles?” vra hy skielik aan Johnny.

“Dit voel my ek kan moord pleeg oor die onreg wat ek in die lewe verduur het,” antwoord Johnny prontuit.

“Weet die mense hier in die plakkerskamp jy was ’n polisieman en wat jou hier laat beland het?” vra Brian vinnig.

“Nee, ek is ’n toe boek vir dié mense. Ek is soos ’n kluisenaar hier en meng nie graag met die mense nie.”

Nou kyk Brian vir Johnny direk in die oë. “H-Hoe voel jy oor die idee dat ons nie so hoef te sit en onsself te bejammer nie?

“Ons kan opstaan en veg vir dit waarin ons glo. Soort van wraak neem vir die onreg wat ons aangedoen is,” sak hy skielik af.

“Ons neem ons geveg na die gangsters en misdadigers daar buite wat nog ons gemeenskappe so in die greep van geweld gevange hou.”

Johnny gaap Brian oopmond aan. Hy weet nie of die man hier voor hom die kluts kwytgeraak het nie.

“H-Hoe nou? Hoe dink jy gaan ons dit regkry, ou maat?” vra Johnny.

“Ons kry jou neef en nog ’n paar oud-polisiemanne bymekaar wat deur dieselfde ding as ons is,” begin Brian verduidelik.

“Ons vorm ’n groep wat snags undercover in die gangsters se areas oper­ate.

“Ons operate in ’n kombi met getinte ruite en balaklawas oor ons koppe. Dan maak ons nag onder hulle.”

Dit lyk asof Johnny se gesig ophelder. Hy skuif hom gemaklik op die stoel. “Gaan voort, my maat, gaan voort!” skree hy opgewonde.

“Johnny Vercuil, jy moet nou mooi luister. My plan staan so ...”DIT is twee weke later en dit is vyf gatvol eks-polisiemanne wat hier in ’n ou fabriek in die Epping-nywerheidsgebied vergader.

Hulle almal het hulle werk op ’n onregverdige wyse verloor. Daarmee saam ook hulle besittings en families. In almal behalwe Clint Da­niëls se geval is bendes die oorsaak van hulle downfall.

Maar hulle almal is dit eens dat die regstelsel eerder daar is om gangsters en misdadigers te beskerm as om vir wetsgehoorsame burgers op te kom.

Dit is hoekom hulle almal ingestem het om hulle bydrae te lewer om die Kaapse Vlakte skoon te maak van bendes.

Brian September staan voor hulle en sy gesig is graniethard toe hy na die groepie voor hom kyk.

Hy besef hier is nou geen omdraaikans meer nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters