18 dae gelede
Brian is woedend dat die minister wil onderhandel
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die Groot Vyf slaan toe op Mister Vuil Uil, ’n groot drug dealer. Met ’n koeël deur die kop verlos hulle Heideveld van nog ’n niksnut. Geniet nou hoofstuk 5 van “Die Groot Vyf Is Terug” deur SALMON SMITH.

DIREK ná die aanval op Mister Vuil Uil se huis, gaan haal Die Groot Vyf twee kinderverkragters in Bonteheuwel uit en los ’n galgtoutjie op elke toneel.

Die twee het in die hof skotvry daarvan afgekom.

Die galgtoutjies is Die Groot Vyf se teken dat hulle nou geregtigheid laat geskied.

Daarna gaan hulle na hulle geheime plek in Epping Industria en spray die SUV van wyle Mister Vuil Uil ’n ander kleur en verander die voorkoms.

Net so voor sonop gaan almal na hulle onderskeie plakkershokke om te rus.

Samuel en Henry gaan na hulle wendyhuisies in Malawi-kamp langs Bishop Lavis.

Clint gaan lê sy kop neer in sy blikhok in Blikkiesdorp, Delft.

Brian en Johnny gaan na hulle hokkie in die plakkerskamp in die Maitland-begraafplaas.

Hulle wonings is deel van hulle modus operandi om ’n low profile te handhaaf en tussen die armstes van die armes weg te raak.

Hulle meng hulle nie met bure nie en hulle bure weet ook niks van hulle doen en late nie.TOE die son daar in die ooste oor die Bolandse berge loer, is die manne van Operasie Stoppit nog besig op die misdaadtoneel van Mister Vuil Uil se pozzie.

Die hoofspeurder is kol. Richard Vermeulen. Hy is bekend vir sy ondersoeke na hoëprofiel-sake.

Hy was eers verbonde aan die spoorwegpolisie en later is hy na die Elsiesrivier-polisie oorgeplaas waar hy die hoof van die speurtak was. Nou is hy ’n lid van die Operasie Stoppit-span, wat Die Groot Vyf se aanvalle op gangsters ondersoek.

Op die oomblik lyk kol. Vermeulen baie geïrriteerd.

Hy kyk na Die Groot Vyf se kombi, waarmee die vigilantegroepie deur Vuil Uil se muur gejaag het.

‘‘Het julle daai rooi kombi deeglik nagegaan vir leidrade?!’’ skreeu-vra hy vir een van die plaaslike speurders op die toneel.

Die jong kaptein knik. ‘‘Ja, Kolonel. Maar op die oog af lyk dit nie asof daar enige leidrade is wat ons kan gebruik nie.

“Die Groot Vyf het met presisie te werk gegaan.

“Ek moet sê, daai ouens weet wat hulle doen.

‘‘Die forensiese manne en die vingerafdruk-ouens is ook op pad hierheen. Dalk kan hulle iets optel.’’

‘‘Oukei, laat jou manne klaarmaak met die verklarings van die getuies. Ek soek dit voor ek die toneel verlaat!’’ kom die kort en kragtige bevel van Vermeulen.

Skielik lui Vermeulen se foon. Hy plaas dit vinnig teen sy oor.

’n Frons verskyn op sy voorkop, terwyl hy na die stem aan die ander kant luister.

“Oukei … so, Adjudant, jy vermoed Die Groot Vyf is ook daarvoor verantwoordelik?

“Oukei, ek stuur onmiddellik ’n paar van ons manne soontoe!”

Hy laat sak die foon van sy oor en lui af.

“Bliksem!” swets hy onverwags.

Die kaptein kyk hom grootoog aan. ‘‘En nou, Kolonel?’’

Vermeulen kyk vlugtig na die kaptein terwyl hy ’n nommer skakel. ‘‘In Bonteheuwel is die lyke van twee mans in hulle wendyhuis gekry.

“Toevallig is dit dieselfde twee wat laas week van die verkragting van twee kinders aangekla is, maar die hof het die saak oor onvoldoende bewyse uitgegooi.

‘‘Die speurder op die toneel vermoed Die Groot Vyf is daarvoor verantwoordelik.

‘‘Kaptein Geswindt, gaan jy en ’n paar manne gou na die volgende adres in Bonteheuwel,” blaf Vermeulen sy bevel aan die persoon aan die ander kant toe dié die foon beantwoord.

“Ons vermoed Die Groot Vyf was vanoggend dáár ook bedrywig.’’

Vermeulen verskaf vinnig die adres en lui af.

“Bliksem!” gee hy weer ’n knoop.DIE volgende dag basuin elke koerant in die Kaap die moord op Mister Vuil Uil-hulle en die twee vermeende verkragters uit.

Dit is ook die eerste keer sedert Die Groot Vyf se aanvalle begin het dat die provinsiale minister van polisie, Dale Hermanus, sy stem laat hoor.

Op bladsy 3 van Son spreek hy sy misnoeë oor die gebeure uit.

‘‘Dit is nie reg dat mense die reg in eie hande neem nie. Ek dink Die Groot Vyf het nou te ver gegaan.

“Ons verstaan misdaad hier op die Kaapse Vlakte is besig om handuit te ruk.

“Ons besef die inwoners is keelvol vir bendegeweld en die dwelms wat ons gemeenskappe vernietig.

“Maar om vigilantegroepies te vorm en bendes en dwelmhandelaars aan te val en uit te roei, gaan nie die probleem oplos nie.

“Ek het ’n beter plan om vrede op die Kaapse Vlakte daar te stel ...

“Ek stel voor dat ons onmiddellik vredesonderhandelings tussen die bendes­ en dwelmhandelaars bewerkstellig.

“Die rede is om nog bloedvergieting in gemeenskappe te voorkom.

“Die rede hoekom Die Groot Vyf só optree, is dat die bendes en dwelmhandelaars steeds hulle stempel hier in ons gemeenskappe wil afdruk.

“Ek nooi elke bendeleier, bendelid en dwelmhandelaar op die Kaapse Vlakte tot sover as Worces­ter om ons Saterdag in die Bonteheuwel-gemeenskapsaal te join.

“Kom laat ons om ’n tafel sit en bespreek hoe bendes hulle guns kan neerlê en ons weer vrede na ons gebiede kan terugbring.”

Brian September smyt die koerant eenkant toe. Daar is woede op sy gesig geskryf.

“Is daai f*kk*n minister Hermanus dan bef*k om met misdadigers te onderhandel? Dit is net so goed hy smeek die gemorste om nie hulle k*k aan te vang nie!”

“En het jy dan nie in ons video clip genoem dat daar nie met misdadigers onderhandel moet word nie, boeta B?” vra Johnny van die kant af.

“Ja, jy is reg, boeta J. As misdadigers eers dink die regering kruip by hulle gat, dan gaan hulle nóg meer arrogant raak,” sê Brian.

Hy kyk skielik vol belangstelling na Samuel Geduldt.

“Boeta S, ek dink ek het net die regte joppie vir jou om jou skerpskutter skills vir ’n slag weer te toets.”

Almal is die ene ore. Hulle is nou opgewonde, want hulle weet hier kom weer opwinding.

Brian se oë is yskoud. “Boeta S, kry daai skerpskutter-geweer wat ons laas week by daai drug dealer in Elsies gebuit het.

“Skroef die silencer aan. Ons gaan Saterdag ’n draai slat daar in die Bontas.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters