12 dae gelede
Brian-hulle moet die aanvalsplan ’n bietjie aanpas
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die Groot Vyf is sterk op pad na Avian Park om die gespuis daar uit hulle drome te haal. Toe hulle op pad soontoe deur ’n menigte cops en weermaglede voorgekeer word, besef hulle dis aan in Japan. Hulle sal bitter vinnig uit dié penarie moet kom as hulle die oorlog teen die gangsters wil voortsit en die gemeenskappe once and for all verlos. Geniet hoofstuk 9 van “Die Groot Vyf Is Terug” van SALMON SMITH.

DIE Groot Vyf besef dat hulle akkies nou geboek is toe die weermag- en polisievoertuie voor en agter hulle intrek.

Swaar gewapende soldate gluur hulle aan vanaf die Buffel-voertuig waarop hulle ry.

’n Groot polisieman spring flink uit die polisievoertuig en kom met afgemete treë op hulle voertuig afgeloop. Hy lyk sommer asof hy nie gaan k*k vat van kabouters nie.

Die manne besef dis nou skaakmat vir hulle. Hulle kyk vlugtig na mekaar.

Hulle lees onmiddellik mekaar se gedagtes. Hulle moet hulle uit die penarie kry vir die saak van reg en geregtigheid.

Hulle hande reik gelyktydig na hulle pistole wat op die vloer van die voertuig lê.

Terselfdertyd loer Brian vir die beste escape route vir hulle hier uit Avian Park.

Die polisieman kom tot by die voertuig en klop woes aan die bestuurder se ruit.

Dit is ’n gespanne atmosfeer in die kar. Jy kan ’n speld hoor val.

Brian ruk hom vinnig reg en maak die venster op ’n skrefie oop.

“G-goeiemiddag, Kaptein … Is daar ’n probleem?”

Dit voel vir hom asof hy die woorde uitwurg.

“Ja, kry julle voertuig hier weg! Ons is besig met ’n lockdown- operasie hier in Avian Park!” kom dit ferm van die polisieman.

Almal kyk ’n wyle verbaas na die gatta. Hulle weet nou nie of hulle reg gehoor het nie.

Dit is weer Brian wat eerste in beweging kom. Hy skakel die voertuig vinnig aan.

Hy wuif gemaak vriendelik vir die polisieman en trek versigtig weg.

’n Ent verder sit hy voet in die hoek en ry al met Albatrosstraat op.

Almal slaak hoorbaar ’n sug van verligting. Hulle het gedink dis nag vir hulle.

Teen die pad kom hulle vele polisie- en weermagvoertuie teë op hulle intog na Avian Park.

Albatrosstraat neem hulle weer met ’n draai by Avian Park uit. Hulle draai toe in die rigting van Durbanstraat.

Oorkant die Worcester-gevangenis trek hulle op die groen grasvlakkie af.

“Manne, nou moet ons weer ons strategie ’n bietjie aanpas,” sê Brian toe hy die motor afskakel.

Hy loer eers vlugtig in die rondte voordat hy weer die map van Worcester uithaal.

“Daardie operasie daar in Avian Park het nou ’n bietjie met ons planne kom inmeng.”

Almal leun vorentoe om ’n beter oog op die kaart te kry. Brian tik die naam Avian Park in.

“Soos julle weet, sou ons vanaand eerste hier by dié joint in Mockingbirdstraat toegeslaan het.

“Dit behoort aan John Boere, die groot leier van die JCB’s. Die plek is ook hulle stronghold. So, dit wemel daar van die gemorste.

“Maar, nou met die army en die polisie se operasie daar moet ons maar eerste hier by die headquarters van die Dog Trash toeslaan.”

Brian wys na die hoek van ’n woonstelblok in die woonbuurt Riverview­.

Op die satellite view lyk dit asof die inwoners in die woonstel op die hoek groot grond agter die woonstel gesteel het.

Daar is ’n massiewe sinkstruktuur teenaan die gebou opgerig.

“In dié groot sinkhok vergader die skuim van die Dog Trash,” gaan Brian voort.

“Dit is hulle gedurige oorlog met die JCB’s wat onskuldige mense se lewe in gevaar stel.

“Maar vanaand gaan dinge verander in dié eens rustige Bolandse dorp.

“Presies agtuur vanaand slaan ons daar toe.

“En onthou, geen vroue en kinders word seergemaak nie.”

KLOKSLAG 20:00 lê Samuel gereed op ’n winkel se dak in Riverview.

Hy korrel deur die sterk teleskoop van sy skerpskuttergeweer na die verligte voorkant van die Dog Trash se hoofkwartier.

Daar staan vier skurke voor die deur wat hul makkers inlaat.

Ander mense wat soos normaalweg ’n dop wil kom slat, word vanaand verhoed­ om in te gaan.

Dit lyk asof die Dog Trash vanaand daar ’n belangrike vergadering gaan hou waar net bendelede van die gang toegelaat gaan word.

Dit maak dan die werk van Die Groot Vyf makliker, want nou hoef onskuldige mense nie in die proses seer te kry nie.

Samuel rig die visier op die kop van een van die hekwagte.

Hy trek die sneller en deur die teleskoop sien hy hoe sy koeël met dodelike akkuraatheid tref.

Toe die skurk met ’n oopgebarste kop teen die grond neerval, vries sy makkers langs hom en kyk geskok na die bloederige toneel.

Dit lyk asof hulle stadige, tikbenewelde breins probeer sin maak van wat gebeur. Toe nog een teen die grond neergevel word, besef die ander twee manne hier is nou sommer groot k*k.

Voordat hulle nog tyd kry om alarm te maak, kom die res van Die Groot Vyf volspoed op hulle afgery. Die voertuig ploeg met die skurke en al deur die groot sinkhok.

In die hok spring almal regop toe die gemaskerde manne al skietende­ uitspring.

Clint gooi blitsig ’n rookbom in die hok.

Onmiddellik is die hele hok in ’n waas van rook gehul.

Dié move laat die skurke gedisoriënteerd.

Nou klap die skote eers uit die pistole van Brian en sy manne. Daar word gemik na oral waar ’n gangster-gevreet in die rook opduik.

Een vir een val die skurke.

Dan is daar diegene wat buitentoe mol, maar soos hulle by die deur uithardloop, word hulle afgemaai deur boeta S daar van die dak af.

Toe Brian twee petrolbomme in die woonstel gooi, besef die ander dit is tyd om te onttrek.

Gelyktydig mol Die Groot Vyf vir hulle voertuig.

Brian jaag by die brandende struktuur uit, reguit na die gebou waar Samuel vir hulle wag.

Daarna jaag die manne met ’n stink spoed in die rigting van Avian Park.

Nie een van hulle is bewus van die persoon wat hulle voertuig met yskoue oë agterna staar nie.

Hy skakel sy voertuig aan en volg hulle op ’n veilige afstand …

  • Môre: Die slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters