21 dae gelede
Brian-hulle is nou in ’n oorlog teen gereg, gangsters
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian September en Johnny Vercuil kom agter hulle is albei oudpolisiemanne wat injustice gesuffer en toe alles verloor het. Brian kom toe met ’n plan vorendag om wraak te neem. Geniet hoofstuk 5 van “Die Groot Vyf”, die aksiebelaaide riller van ’n vervolgverhaal uit die pen van SALMON SMITH.

BRIAN September se gesig is graniethard toe hy na die vier eks-polisiemanne hier voor hom kyk.

Hulle is Johnny Vercuil, Clint Daniëls, Samuel Geduldt en Henry Maarman.

“Ons is almal vanaand hier oor ons die slagoffers van ’n swak regstelsel was!” begin Brian sy toespraak.

“Die regstelsel het ons almal gefaal. Dit is daar om misdadigers te beskerm en te pamperlang en dít ten koste van wetsgehoorsame burgers.

“Ons suffer oor ’n korrupte en onbevoegde regeringstelsel hier in ons land. Die vier van ons het opgestaan vir ons families teen die gangster-gemorste, maar ons het die onderspit gedelf!

“Daar was nie genade vir ons nie, maar die howe en die regstelsel het genade vir gangsters en mis­dadigers.

“Kyk hoe suffer ons gemeenskappe in die gebiede waar gangsters en druglords koning kraai. Die gemeenskappe complain, maar niks word aan hulle klagtes gedoen nie.

“Die weermag is kwansuis ingebring, maar dit was net om ons mense se bekke stil te maak. Want die weermag beteken f*kk*l! Hulle is soos toeriste hier!

“Die gangsters en druglords gaan nog aan met hulle k*k!

“Onskuldige mense word nog daagliks vermoor! Families word nog deur dwelms verwoes.

“Maar ons gaan orde terugbring na ons gemeenskappe! En ons gaan wraak neem oor ons downfall!”

Brian steek nou sy vuis as ’n saluut in die lug op.

“Ons verklaar vanaand oorlog teen ’n nuttelose regstelsel! Ons verklaar vanaand oorlog teen die gangsters en druglords!”

“Oorlog teen die gangsters en druglords!” basuin almal gelyk uit en steek ook hulle vuiste in die lug op.

Brian se gesig raak nou ernstig, terwyl hy na die vier ouens hier voor hom kyk.

“Manne, daar is nou geen omdraaikans nie.

“Ons het almal ’n eed afgelê dat niemand die groep gaan verlaat nie. Ons almal is in die ding om hier te bly. Net die dood sal jou hieruit bevry.

“Niemand gaan split op niemand nie as dit sou gebeur dat jy gevang word. Geen inligting oor die groep gaan bekend gemaak word nie.

“Die missie wat ons van vanaand af aanpak, is ’n baie gevaarlike speletjie. Want daarbuite het ons te doen met gewetenlose misdadigers wat nie skroom om dood te maak nie.”

Brian wys na ’n swart kombi wat daar eenkant geparkeer staan.

“Daardie voertuig het ek en Johnny Vercuil een aand spesiaal van ’n druglord gaan steel. Ons het dit pikswart gespray en donker getinte vensters ingesit.

“En ons het dit ook propvol van hulle onwettige wapens gesteel. Daar is fake nommerplate op sodat ons nie getrace kan word nie.

“Dit gaan ons voertuig wees waarin ons gaan operate.

“Van vanaand elfuur vaar ons gangster-gebiede soos Manenberg, Lavender Hill, Bonteheuwel en Elsiesrivier in en gaan maak nag onder die gemorste wat so op die straathoeke sit.

“Ons is almal opgelei in kontak­situasies. So, ons kan ons specialities goed gebruik.”

Hy kyk vlugtig na Johnny.

“Johnny het met die idee gekom dat ons elkeen onder ’n kodenaam operate. Ons kan nie bekostig om mekaar daarbuite op ons name te noem nie.

“Ek het toe gedink ons gaan net die eerste letters van ons name gebruik.

“Johnny, jou kodenaam gaan wees Boeta J. Clint, jou kodenaam is Boeta C. Samuel, jy is Boeta S. Henry is Boeta H en ek is Boeta B.

“En saam sal ons bekend staan as Die Groot Vyf!

“Is dit vir almal duidelik?!”

Almal knik erkennend.

Nou wys Brian, alias Boeta B, na buite. “Kom, laat ons die oorlog begin!” bulder hy.

Die pikswart paneelwa ry stadig in Renosterweg in Manenberg af.

Die Groot Vyf sit slaggereed daarbinne. Elkeen het ’n baseball bat in die hand en by elkeen se broek is ’n vuurwapen ingedruk, vir backup.

Hulle plan is om eers die youngsters wat so laataand vir kwaadgeld op die hoeke sit, goed te moer.

Hulle moet eers die strate goed skoonmaak, want dis dié wat so op die straathoeke uithang, wat môre se groot k*k aanvang.

Niemand kan in die kombi sien nie, maar hulle hierbinne kan duidelik sien wat daarbuite aangaan.

Brian is agter die stuur en sy oë is wakker.

Hy is die eerste een wat die groepie op die hoek van Manenberglaan en Renosterweg sien staan.

“Manne, trek aan julle handskoene en sit op julle balaklawas! Daar voor is ons eerste teikens!” sê hy dringend en trek ook sy balaklawa oor sy kop.

Toe hulle nader ry, sien hulle almal hoe die ses jongens dagga rook en skollietaal sabela.

Brian trek langs die groepie op.

Die jongens kyk wantrouerig na die swart kombi met die donker getinte ruite.

Brian draai sy venster stadig af.

“Wat soek julle vuilgatte so laatnag op straat? Julle is weer uit op k*k, nè?” vra hy bars om ’n reaksie uit te lok.

Een van die jongens kyk Brian deur skrefie-ogies aan.

Hy trek diep aan sy zol en blaas ’n dik walm in Brian se gesig.

“Ouens, kyk nogal die doos!”, gaan hy gal af. “Hy skuil nogal agter ’n balaklawa, die ma se p**s.”

Voordat hy sy sin kan klaarmaak, connect Brian hom met ’n gewigtige vuishou op sy vuil bek.

Dít is die teken vir die ander manne om aan te val.

Die kombi se skuifdeur swaai oop en die vier manne spring elkeen met ’n baseball bat uit.

Die jongens se oë rek groot. Hulle was nie bewus van die ouens agter in die kombi nie.

Brian en sy manne het nie tyd saamgebring nie.

Hulle laat loop met hulle baseball bats. Dis kop- en gevreetskote! Die bloed spat!

Kraakgeluide klink op soos die baseball bats die arms en hande wat keer, stukkend slaan.

“Mammieee!” “O jarraaa, help!!” weerklink die jongens se krete, terwyl hulle desperaat van die woedende manne probeer wegkom.

Brian dink aan die moord op sy vrou en die verkragting van sy dogter, terwyl hy hom op die jong gangsters uitwoed.

Boeta B proe die suikersoet smaak van wraak.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters