18 dae gelede
Brian-hulle het ’n noue ontkoming met ’n polisie-vên
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian September, Johnny Vercuil en nog drie voormalige cops verklaar oorlog teen die regstelsel sowel as gangsters en ander misdadigers op die Kaapse Vlakte. Die vyf sweer trou aan mekaar en hulle nuwe mission in die lewe. Hulle wil wraak neem nadat hulle al vyf ’n onreg aangedoen is en hulle werk, familie en alles verloor het. Geniet nou hoofstuk 6 van “Die Groot Vyf” van SALMON SMITH.

‘JULLE gemorste soek ons nie weer op die straathoeke nie!” gil Brian terwyl hy en sy manskappe tamboer speel op die ses jonges se koppe en lywe.

Die jongens laat spaander met stukkende koppe, bebloede gevrete en gebreekte hande en arms in die straat af. Hulle angskrete kan tot ver gehoor word.

“Terug na die voertuig, gou!” gee Brian die bevel.

Soos een man is Die Groot Vyf terug in die kombi en Brian trek met skreeuende bande weg.

Hulle jaag in Manenberglaan af. Onder by die sirkel swenk hulle links in The Downsweg af en jaag na Duinefonteinweg.

“Manne, nou is dit Hanover Park se beurt!” sê hy en sit voet in die hoek.

In Japhta K. Masemolaweg swenk Brian regs en ry tot by die robot op die hoek van Otteryweg.

Hulle hou by die rooi verkeerslig stil, ’n entjie van die Philippi-polisiestasie af.

Uit die hoek van hulle oog sien hulle hoe ’n polisie-vên stadig by die polisie-jaart uitry.

Met opgehoue asems hou hulle die patrollievoertuig dop.

Hulle hoop die vên gaan nie in hulle rigting draai nie. En oor die rooi verkeerslig kan hulle nie nou jaag nie, want dan trek dit onnodig aandag.

Die voertuig hou eers ’n rukkie stil, amper asof die polisiebeamptes wik en weeg in watter rigting hulle hul patrollies moet vat.

Genadiglik verander die verkeerslig na groen en almal slaak ’n sug van verligting.

Brian draai stadig regs in Heinz­weg.

Hulle loer deur die agterruit en sien tot hulle verligting die polisievoertuig ry in die teenoorgestelde rigting.

Stadig ry Die Groot Vyf toe in Heinz­weg af.

Die straat lyk stil en verlate. Hier is net ’n brak wat tussen die vullissakke rondsnuffel.

Brian sit die voertuig se ligte af. Skielik stop hy die kombi en reverse. Hy beduie in ’n dwars straatjie af.

“Manne, daar het nou so pas drie jongens oor daardie muur geklim tot in daardie jaart. Dit smaak my hulle wil inbreek.”

Soos een man is hulle uit die kombi, balaklawas oor die koppe en baseball bats in die hand.

Brian en Johnny spring gemaklik oor die muur, terwyl die ander drie aan die buitekant wag.

Hulle twee verras die drie skurke, terwyl dié met ’n stuk skroewedraaier aan die deur van ’n kar in die jaart peuter.

Die wit skyn groot in die skurke se oë. Dis van skrik.

“Hosh, ouens, pasop!” gil die een.

Maar dis te laat, want Brian en Johnny laat loop met die baseball bats. Dis weer kop- en gevreetskote.

Die een skurk se neusbeen word sommerso skeefgeslaan.

Die boewe mol om van die pyn en lyding weg te kom, maar hardloop in mekaar vas.

Hulle val al kermend op die grond.

Toe pak Brian en Johnny eers dikhout in. Dit is nou maermerrie- en arm-skote.

“Julle gemorste! Julle teer op ander mense se sweet! Julle wil nie f*kk*n werk nie, nou breek julle in om vir julle dwelmgewoontes te betaal!” raas Brian, terwyl hy sommer gou ’n been of twee breek.

“O, jarra menere, ôs sallie weerie! Ôs gaat ôs bekeer van nou af! Ekke is klaar met tik!” kerm die drie boewe.

Skielik gaan die buitelig van die huis aan.

Iemand loer deur die venster – ’n man.

Sy oë rek groot toe hy die gedoente in sy jaart gewaar.

“Hei, julle moersk*nte! Wat maak julle hier in my jaart?!” gil hy.

Brian kyk op en hy beduie aan Johnny hulle moet laat spaander.

Voordat hulle oor die muur terugspring, kyk Brian nog vir oulaas na die persoon in die venster.

“Hulle is inbrekers! Bel maar die polisie vir hulle.

“Ons het hulle solank lekker getenderise!”

Soos wind is hulle oor die muur en los drie opgeneukte skurke agter in die jaart. Saam hardloop Die Groot Vyf na hulle kombi.

Weer trek hulle met skreeuende bande weg.

Binne minute bevind hulle hul weer in Manenberg.

Uit Pecos Walk se rigting kom twee ouens aangestap.

Dit lyk asof hulle skouers op die grond sleep soos hulle aangerol kom.

Brian trek met skreeuende bande langs die twee op.

Die twee spring verskrik eenkant toe. Hulle is sommer onmiddellik op hulle hoede.

“Hosh, wie’s djy mettie balaklawa op?!” vra die een sommerso rof, terwyl Brian sy venster stadig laat afrol.

“Dit hang af wie julle is,” kap Brian terug. “Van watter gang is julle?”

Die twee kyk vlugtig na mekaar en toe weer na Brian.

“Au, dié frans vra nogal vi ôs mos k*k! Dan skuil hy nogal agter ’n masker!”

Hulle is onbewus van die ander manne wat slaggereed agter in die kombi sit.

Die een maak ’n gangster-saluut met sy twee hande.

“Ôs is die Dallah Boys! Hosh pakamish,” sak hy af.

Sy ander makker kry ook plak en pluk sommer sy vuurwapen voor by sy broek uit.

“Hosh, hie’s hulle nou, djou frans!” verklaar hy.

Dit is net waarvoor Brian gewag het.

Hy vat sy baseball bat en dwing dit met geweld in die bek van die gangster met die vuurwapen.

Twee goue tande spat saam met ’n paar druppels bloed by sy bek uit.

Sy vuurwapen val sommer uit sy hand.

Dié move is weer ’n teken vir die res van Die Groot Vyf om uit te spring en aan te val.

Soos een man is die manne by die kombi uit, elkeen met sy vuurwapen in die hand.

Die twee gangsters se oë rek pieringgroot.

Hulle brawe houding is nou skielik weg.

“Dit is julle wat ons gemeenskappe so gevange hou! Julle is ’n las vir die samelewing en is vir niks goed nie!” spoeg Brian teenoor hulle uit.

Die twee besef sommer gou hulle vlag het gesak. Hulle gaan op hulle knieë.

“Sorry, oubie!” pleit hulle gelyktydig.

Maar Brian het nie nog tyd saamgebring nie.

“Panelbeat die gemorste!” gil hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters