16 dae gelede
Brian en sy manne stel hulle visier op ’n bende-dikding
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian en sy manskappe maai onder die gangsters en misdadigers op die Kaapse Vlakte. Hulle “skoonmaak-operasie” in bendegeteisterde gebiede haal die headlines. Die cops waarsku inwoners om uit te kyk vir ’n swart kombi met getinte vensters, maar Brian het reeds ’n plan om daarteen te werk. Hy warn ook sy manskappe hulle mis­sion gaan gevaarliker word wanneer hulle twee gangster-broers vasvat. Geniet hoofstuk 8 van “Die Groot Vyf” van SALMON SMITH.

‘HEI, moetie djou ma se p**s maakie!”, “Hei, djou ma se –” skrik die twee skollies al vloekend wakker toe Brian hulle bed omtol en hulle op die vloer beland.

Hulle spring van die vloer af op – reg om wie ook al aan te vat.

Maar dis toe hulle die vyf manne met die klapmusse oor hulle koppe sien dat hulle oë so groot soos pierings rek. Hulle besef hulle is nou in k*kstraat en hulle vlag sak sommer onmiddellik.

Voordat hulle nog ’n huilgevreetjie kan opsit, is Brian en Johnny by hulle.

Die twee skurke word op die vloer neergepen. Trane dam in hulle oë op toe vuurwapens teen hulle koppe gedruk word.

“O asseblief tog, Meneer!” soebat die een met die woorde “Ou Vark” op sy voorkop getattoe.

“Sjjjt! Julle hou nou julle donnerse bekke! Ek gaan nou praat, en julle antwoord net as ek julle ’n vraag vra. Is dit duidelik?!” sis Brian.

Die twee knik vinnig.

“Ek het julle twee die afgelope drie dae dopgehou en wat ek van julle gesien en gehoor het, het my hart baie seergemaak.

“En my hart is baie broos, want dit het in die verlede sommer lelik seergekry,” gaan Brian voort.

“Ek het my nourie dag voorgedoen as iemand wat kwansuis ’n huis hier in die area wou koop.

“Toe het ek gou inligting gekry by die bhai hier op die hoek oor die misdaad in die gebied.

“En raai wie se name pop toe op? Ja, julle twee – die twee Beerwinkel-broers, lede van die AmaF*ck Up gang.

“Julle terroriseer die gemeenskap en vat Avonwood behoorlik op horings. Ek het selfs gesien hoe julle hulpelose oumense van hulle AllPay beroof.

“Die bhai het ook genoem julle het hom al gedreig vir protection money. En niemand kan dit waag om julle teen te gaan nie, want julle skuil soos lafaards agter julle gang.

“So, julle gaan nou vir ons die setup verduidelik by die huis van Toskane, die dikding van die Ama­F*ck Ups. Ons wil graag vir hom en sy manskappe ’n verrassingsbesoekie gaan gee.”

Die twee skurke raak aan die bewe.

“Hoekom bewe julle dan nou so? Julle is dan so braaf daar buite!” spoeg Brian uit.

Hy en Johnny gee elke broer ’n helse hou met die vuurwapen teen die kop dat die bloed loop.

Toe hulle ’n bek wou opsit, toe word hulle wind vinnig geruk met ’n paar skoppe in die ribbes.

“Ek het mos gesê julle hou julle donnerse bekke!” sis Brian woedend.

“A-Asseblief, M-Meneer, Toskane g-gaat ôs in die dreingat afgooi as hy hoor ôs het gepiemp!” stotter Ou Vark.

Brian druk die loop van sy pistool met mening teen Ou Vark se kop.

“Julle kan besluit op ’n stinkende dreingat of ’n koeël deur die kop. En kies gou, want my geduld raak op.”

Dit lyk of dit die gewenste uitwerking het, want gou sing Ou Vark soos ’n kanarie.

Toe hy klaar is, is daar ’n yskoue uitdrukking in Brian se oë.

“Julle hoef nie meer te worry oor daardie stinkende dreingat nie!” sê hy en stuur vinnig twee koeëls deur hulle gangster-breins en verlos Avonwood van twee nuttelose etters.

Skaars vyf minute later trek Die Groot Vyf onder ’n groot boom op ’n vlakkie in 21ste Laan in Norwood op.

Die huis in hulle visier is die groot dubbelverdieping-siersteenhuis op die hoek waar 21ste Laan teen Norwoodweg in Elsiesrivier doodloop.

Dít is die huis van Toskane, die dikding van die AmaF*ck Ups.

“Manne, soos julle by die Beerwinkel-broers gehoor het, word drugs regdeur die nag by daardie huis verkoop. Maar ook net aan gereelde customers wat die kode ken van die klop aan daai metaalhek.

“Op daardie jaart is snags net vier wagte aan diens en natuurlik ’n paar runners wat moet sorg dat die besigheid smooth verloop.

“Ons weet nou wat die uitleg van daardie jaart en huis is. So, ons slaan toe en verdwyn weer vinnig. En onthou, geen oorlewendes nie!”

Brian kyk nou na Clint Daniëls. “Boeta C, gaan klop daai kode aan daardie hek.

“Sodra iemand oopmaak, skiet jy hom deur die kop. Dít sal ons teken wees om die huis te bestorm.”

Ná die eerste klop van Clint word die hek op ’n skrefie oopgemaak.

’n Maer, puisiegevreet-tikkop loer na buite.

Daar is ’n frons op sy voorkop. “Dja, wie’s djy wat die klop ken?!” vra hy sommerso rof.

“Ek is jou grootste nagmerrie!” sê Clint en jaag ’n koeël­ deur die verdwaasde tikkop se voorkop.

Saam storm die res van Die Groot Vyf oor die vlakkie op Toskane se huis af.

Die wagte en runners binne op die jaart word onverhoeds betrap.

Voordat hulle nog kan besef wat aangaan, spoeg Die Groot Vyf se vuurwapens met sagte sis-geluide lood.

Dit vat nie lank om almal buite op die jaart neer te vel nie.

Toe storm die vyf manne die huis binne.

Toskane lê rustig op sy rug en snork, terwyl Die Groot Vyf sy groot dubbelbed omsingel.

Brian vat ’n baseball bat en bring dit hard neer op Toskane se maag.

“Wakey-wakey!” sê hy toe die groot skurk al proesend wakker skrik.

Toskane se oë rek soos pierings toe hy die vyf gemaskerde mans om sy bed sien staan.

“W-Wie’s djulle?” stotter hy. “W-Wat wil djulle hê?!” proes hy vreesbevange.

Hy loer deur die venster na die jaart daar onder vir backup.

“Ons is hier om met jou te gesels! En jy hoef nie te worry oor jou manne daar buite nie,” sê Brian.

“Ons het klaar met hulle gesels,” verklaar Brian. Sy stem is yskoud terwyl hy sy vuurwapen voor die gangster-dikding se neus rondswaai.

Skielik trek flitsende blou ligte daar buite hulle aandag.

Almal se koppe ruk na die groot kamervenster wat buite op die straat afkyk.

’n Polisievên hou voor Toskane se huis stil.

Twee polisiemanne klim uit en loop na die metaalhek.

’n Doodse stilte daal in die kamer neer.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters