2 maande gelede
Borak worry hoe hy vir sy vrou en seuns gaan sorg
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis die begin van ’n nuwe week en ons begin ook sommer met ’n nuwe vervolgverhaal deur SALMON­ SMITH, een van ons immer gewilde skrywers. Geniet hoofstuk 1 van sy jongste skryfstuk, Die Kruismaker.

BORAK, ’n afstammeling van Juda, vee die sweet van sy voorkop af. Daar is ’n weemoedige trek op sy gesig.

Hy kyk in sy armoedige werk­winkel rond.

Hy weet nie hoe hy en sy gesin gaan oorleef nie.

Sy skrynwerk-besigheid doen nie so goed nie. Dit is nou al weke laas dat iemand hom gevra het om ’n meubelstuk of twee te maak.

Hy het skaars genoeg geld om hout aan te koop.

Nou probeer hy maar om hier en daar ’n stoel of tafeltjie te maak uit die oortollige stukke hout wat hy nog het.

Hy het nog die trade by sy pa geleer en ná dié se afsterwe het hy die eens voorspoedige besigheid oorgevat.

Skrynwerkwinkels het intussen soos paddastoele hier in Jerusalem opgeskiet en sy gereelde customers van hom weggerokkel.

Hy het al daaraan gedink om maar met sy familie terug te keer na sy geboorteplek, die hawestad Se­sarea.

Maar sy vrou, Zulpha, wil niks daarvan hoor nie.

“Jerusalem is die plek waar ek eendag my oë wil toemaak, my man!” protesteer sy elke keer.

Hy sit sy hamer eenkant neer en loop na buite. Hy kyk op na die hemel.

Hy kan nie dink hoekom God hom so straf nie.

Hy en sy gesin is dan godvresende mense wat nie ander gode dien soos sommige van die mense hier in Jerusalem nie.

Hy slaan sy oë neer en kyk oor die oop plein voor sy huis uit. Hy sien ’n beroering daar.

Mense skarrel oor die plein in die rigting van die Olyfberg daar in die verte.

Sy vrou kom uitasem aangehardloop.

“My man, kom gou! Ons moet na die Olyfberg toe!” gil sy opgewonde.

“Bedaar, Zulpha! Wat gaan aan?” vra hy.

Zulpha skep eers asem, terwyl sy haar man opgewonde aankyk.

“Jesus, die Messias, gaan vandag daar kom preek!”

Borak se oë rek groot in hulle kasse. “Werklik, my vrou?! Die Messias?!” hyg hy.

Hy dink terug aan nou die dag toe Jesus Jerusalem ingekom het.

Hy wou ook graag die gebeurtenis meegemaak het, maar die strate was stampvol.

Daar was nie eens plek vir ’n muis nie.

Hy het eers agterna gehoor die skare het Jesus met palmtakke en lofgesange verwelkom.

Hy het ook gehoor Jesus het Jerusalem in alle nederigheid op ’n donkie binnegery.

Hoe wens hy dat hy ook daar kon wees om dié geskiedkundige gebeurtenis te kon meemaak.

“Ons moet gou maak om plek te kry, my man!” ruk sy vrou se stem hom uit sy mymering.

Borak kry skielik lewe.

“Wag, laat ek gou my winkel sluit! Roep solank die kinders!”

“Die kinders is al klaar op pad daarheen, my man!”

By die Olyfberg drom ’n groot skare al klaar saam.

Borak en Zulpha beur tussen die mense deur om so na as moontlik aan Jesus te kom.

Borak se oë verstar in sy kop toe hy Jesus daar voor op die rots in ál sy glorie sien.

Jesus het die witste kleed aan. ’n Liefdevolle blik kom uit sy oë, terwyl Hy oor die skare kyk.

Jesus se hele wese spreek van gesag.

Dit is die eerste keer in sy lewe dat hy wat Borak is, so na aan die Messias kom.

Hy gryp Zulpha se hand vas. “Kom ons gaan nog nader, my vrou.”

Toe hulle vorentoe wil beweeg, kom hulle ’n man teë. Die man hou sy hand omhoog.

“Jammer, maar julle kan nie nog nader vorentoe kom nie! Jesus het ruimte nodig!” vermaan die man hulle in ’n kalm maar ferm stem.

Zulpha herken sommer onmiddellik die man.

“Haai, dis Petrus, een van Jesus se dissipels!” fluister sy opgewonde aan Borak.

Toe Jesus met sy prediking begin, daal ’n doodse stilte oor die skare neer. Almal staar vasgenael na die Messias.

Hulle hang aan sy lippe en drink elke woord gulsig in.

LATER die aand loop Borak en sy gesin opgewonde huis toe.

“Dit het amper gelyk asof Hy met my alleen praat,” sê Borak.

“My man, dit het weer gelyk asof Hy net na my kyk!” kap Zulpha terug.

Hulle kinders, Hatta en Atal, lag opgewonde.

“Ai jinne, Moeder en Vader, Jesus het met ons almal gepraat!” sak hulle sommerso gelyk af.

Borak vryf speels oor sy kinders se koppe.

“Ek weet, my seuns, ek weet.”

Skielik versomber Borak se gesig.

“Ek wonder wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het Hy gaan nie meer lank saam met ons wees nie ...”

Zulpha stop in haar spore.

“Ja, my man, ek onthou ook Hy het dit gesê. En dit maak my bekommerd.”

NÁ HULLE karige aandete hou Borak soos gewoonlik ’n kort godsdiens om die tafel. Sy gebed is vanaand kort en kragtig.

“Ons kom vanaand met dank­bare harte, o God. Dankie vir u seëninge. Dankie dat U die Messias gestuur het vir ons verlossing …”

Daardie aand kan Borak nie slaap nie.

Baie dinge maal deur sy kop. Dat hy vandag van aangesig tot aangesig met die Messias gekom het, is veronderstel om sy gemoed op te kikker.

Maar hy dink aan waar hy môre geld gaan kry om vir sy gesin te sorg. Dié week het geen geld by sy besigheid ingekom nie. Hy is so te sê bankrot.

Dis eers lank ná middernag dat hy aan die slaap raak.

Die volgende oggend word hy uit sy diep slaap wakker van ’n gehamer aan sy deur.

Toe hy die deur oopmaak, rek sy oë so groot soos pierings toe hy ’n vername man, omring deur vele soldate, voor hom sien.

“Is jy Borak?” vra die man sommer so bar.

“J-ja, ek i-is … m-my heer,” stotter hy verskrik.

“Ek is Harak, amptenaar onder die bevel van die goewerneur van Judea, Pontius Pilatus. Ek verstaan jy is een van die beste skrynwerkers in dié omgewing?”

“J-ja?” antwoord hy.

“Ons het vir jou ’n baie belang­rike taak waarvoor jy nie kan nee sê nie, want die geld is goed. En ek praat van ’n hele klomp silwerstukke!” kap Harak Borak kort.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters