2 maande gelede
Borak wil agter kap van byl kom oor kruisstorie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Borak is baie trots op sy handewerk nadat hy ’n taak van ’n vername man gekry het om ’n kruis te maak. Hy werk twee dae voluit daaraan. Toe Harak en sy gevolg die dag daarna die kruis van 135 kg kom haal, is hy ’n baie tevrede klant. Maar Borak kry die skok van sy lewe toe hy hoor wie vasgespyker gaan word aan die kruis wat hy gemaak het. Geniet nou hoofstuk 3 van SALMON SMITH se jongste skryfstuk, Die Kruis­maker.

‘WAT het my heer nou bedoel toe u gesê het julle gaan die koning van die Jode aan die kruis vasspyker?” vra Borak grootoog aan Harak.

Harak besef hy het so pas sy mond verbygepraat.

Die Joodse hoofpriesters het hom uitdruklik beveel om die kruisstorie hoogs geheim te hou.

Niemand moet voor die tyd weet hulle beplan om Jesus gevange te neem en uit te lewer om gekruisig te word nie – aan die einste kruis wat nou hier onder daardie kleed versteek is.

Hy raak skielik haastig.

“Kom laat ons weg wees!” beveel hy sy gevolg.

“Nee, ek wil nou weet wat julle met die kruis gaan maak!” maak Borak kapsie.

Hy gryp Harak aan die mou om hom te keer.

Die soldate staan dreigend nader.

Harak gluur Borak woedend aan. “Moet nooit weer jou vuil pote aan my sit nie!” sis hy.

“Wat ons met die kruis gaan doen, het niks met jou uit te waai nie! Jy het klaar jou betaling gekry!

“En jy rep geen woord hieroor nie! Is dit duidelik?!”

Borak tree verskrik agteruit toe hy in die donker, yskoue oë van Harak kyk.

Lank nadat Harak en sy gevolg weg is, sit Borak in sy werkswinkel en bepeins die hele storie.

Hy besef hy het hom in ’n ding begewe waaruit hy nie maklik gaan kom nie.

Hy besef Harak gaan daardie kruis vir iets onderduims gebruik.

En wat het hy bedoel met “koning van die Jode daaraan vasspyker”?

Daar is net een persoon wat Hom daarop kan roem as die koning van die Jode, en dit is Jesus.

Toe voel dit asof iemand Borak se wind uitslaan toe die vermoede by hom opkom dat Harak-hulle beplan om Jesus leed aan te doen.

“Nee, dit kan nie wees nie! Jesus is vredeliewend. Hy is ’n vriend vir almal,” probeer hy homself hardop troos.

“My man, hoekom praat jy dan so met jouself?” ruk Zulpha hom uit sy mymering.

Borak skrik so groot, hy val byna van die stoel af. Hy kyk om en sien sy vrou staan in die werkswinkel se deur.

“Hoekom sluip jy so by die huis in? Ek dog dan jy kuier by jou suster, Hannah!” sê hy in ’n erger­like stemtoon.

“Ek’s jammer, my man, dat ek jou laat skrik het. Hannah was nie tuis nie, toe kom ek maar huis toe.”

’n Frons verskyn op Zulpha se voorkop.

“Is alles orrait, my man? Jy lyk asof jy ’n spook gesien het?!”

Borak ruk hom vinnig reg.

“N-nee, my vrou, alles is piekfyn. Harak-hulle het nou net die kruis kom haal.

“Nou sit ek maar hier en dink aan my volgende taak,” lieg hy vinnig en hou hom besig met iets in die werkswinkel.

Zulpha kyk haar man ’n rukkie aan. Sy weet iets skort.

Sy ken haar man al lank en sy weet dit gaan nie help om nóú met hom aan te karring nie. Sy verdwyn vinnig in die huis in.

Skielik strike iets Borak.

Hy moet uitvind waarheen Harak met daardie kruis is en seker maak wie dié “koning van die Jode” is na wie hy verwys.

Hy wonder selfs of Harak werklik onder die gesag van Pilatus dien.

Hy hardloop na buite en tuur in die verte.

Hy sien Harak se konvooi daar ver buite die stad, naby die Olyfberg.

Hy trek weg en hardloop teen ’n vinnige pas agterna.

Hy is uitasem toe hy ongeveer 100 m agter die konvooi tot stilstand kom.

Hy sluip al met die digte bosse langs en sien hoe die konvooi naby die tuin van Getsemané terugdraai stad se kant toe.

Ná ’n hele ent lyk dit vir Borak asof Harak-hulle reguit op pad is na die woning van die hoëpriester Kajafas.

Iets klop vir hom nie so lekker nie. Hoekom sal Harak stilletjies met ’n ompad om die stad ry en nie sommer deur die strate nie?

Dit bevestig sy vermoede dat Harak met onderduimshede bedrywig is.

Naby Kajafas se woning gaan skuil Borak agter ’n pilaar.

Hy sien hoe Harak en sy gevolg in die binnehof van die groot woning stilhou.

Hy beweeg ongemerk nader en maak asof hy uit die binnehof se fonteintjie water wil drink.

Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Harak Kajafas tegemoet loop en eerbiedig groet.

’n Frons verskyn op Borak se voorkop.

Hy wonder wat die storie is. Dié twee het moes niks in gemeen nie.

Borak beweeg nog nader toe Harak en Kajafas na die wa met die kruis daarop aangestap kom.

Harak lig die doek op en wys die kruis aan Kajafas. Kajafas knik tevrede.

Borak spits vinnig sy ore toe hy die naam “Jesus” hoor.

Hy beweeg nog nader en maak asof hy rommel in die binnehof optel.

Doodstil staan hy met sy rug na Harak-hulle gekeer en probeer sin maak uit hulle gesprek.

Hy kan die gesprek nie so lekker volg nie, want Harak en Kajafas praat baie saggies.

Dit voel vir Borak asof iemand hom met ’n skoot yswater skiet toe die wind die woorde “Jesus” en “gevange” na hom toe aandra.

Sy oë verstar in sy kop toe hy besef hier is ’n gekonkel om Jesus gevange te neem.

So, dit ís Jesus wat hulle op die kruis gaan hang! Die kruis wat hý gemaak het.

“Hei! Wat maak jy hier?” klink ’n stem agter hom op.

Borak vlieg om, maar verberg sy gesig met sy hand.

’n Soldaat kom op hom afgestorm, met ’n knuppel omhoog.

“Skoert hier weg!” gil die soldaat.

Borak laat nie nog op hom wag nier

Hy het nou genoeg gehoor. Hy vlieg daar weg en hardloop vir die vale huis toe.

Borak bars met ’n groot lawaai by sy huis in.

Zulpha swaai om van skrik waar sy in die kombuis besig is.

Sy kyk verbaas na die geskokte uitdrukking op sy gesig.

“My man, hoekom lyk jy so geskok?!”

“M-my vrou, h-hulle wil Jesus gevange neem en kruisig!” gil hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters