2 maande gelede
Borak vermoed die kruis het iets met sy droom te doen
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Borak is baie opgewonde oor die taak wat die vername man hom opgelê het. Die klomp geld wat hy daarvoor aangebied is, slaan sy asem weg. Hy spring dadelik aan die werk. Geniet nou hoofstuk 2 van SALMON SMITH se jongste skryfstuk, Die Kruis­maker.

TOE Borak hoor hoeveel hy vir die taak gaan kry, rek sy oë nog groter.“M-my heer, bedoel u ... 50 silwerstukke?!” vra hy in ongeloof.

“Ja, dis mos wat ek gesê het!” kom dit sommerso bars van Harak.

Borak kan sy geluk nie glo nie.

Soveel silwer is genoeg om sy gesin ’n jaar lank te onderhou en ook om sy besigheid weer op die been te kry, dink hy by homself.

“Gaan jy die job vat of nie?” onderbreek Harak sy gedagtegang.

“J-ja ... natuurlik, my heer. Wat moet ek maak?”

“Jy moet ’n houtkruis maak!” kom die antwoord yskoud van Harak.

“ ’n Houtkruis?” vra Borak verbaas.

“Wie betaal 50 silwermuntstukke vir ’n houtkruis?”

“Jy het reg gehoor!” kap Harak terug.

“Dit is nie sommer enige houtkruis nie. Nee, dié een moet spesiaal wees.

“Dit moet 13 voet hoog en 6,5 voet wyd wees.”

Hy haal ’n sakkie muntstukke onder sy kleed uit en hou dit na Borak toe uit.

“Dè, hier is solank die eerste 25 silwerstukke.

“Die res kry jy wanneer ons die kruis kom haal!

“O ja, jy praat met niemand oor die kruis nie!” vermaan Harak hom vir oulaas.

Lank nadat Harak en sy gevolg vertrek het, staan Borak nog net so met die sakkie munte in sy hand.

Hy kan nie die geluk glo wat hom nou te beurt geval het nie.

So ’n klomp geld en dit net vir ’n eenvoudige houtkruis.

“My man, wie was daardie mense wat nou hier was?” trek Zulpha sy aandag.

Hy kyk om en sien sy vrou agter hom. Sy is nog half deur die slaap.

“Dit was vername mense onder die gesag van Pilatus, my vrou.”

Zulpha se wenkbroue lig.

“Wat wil hulle dan van jou hê, my man?”

“Ek moet ’n houtkruis vir hulle maak.”

“ ’n Houtkruis? Wat wil hulle met ’n houtkruis maak?

“Sover ek weet, hang hulle net die boosaardigste misdadigers aan houtkruise op,” sê Zulpha.

“Ek weet nie, my vrou.

“Maar hulle het my 50 silwerstukke daarvoor aangebied. En my solank 25 stukke gegee as deposito.”

Borak hou die sakkie met die muntstukke omhoog.

Zulpha se oë rek groot by die aanhoor van dié bedrag.

“O my aarde, my man! Ons is mos ryk!” gil sy opgewonde.

“Die kruis moet glo iets besonders wees. Dit moenie sommer enige gewone kruis wees nie.

“Ek sal sommer nóú aan die werk moet spring!” babbel Borak opgewonde.

Later span Borak sy donkies voor die karretjie in en vertrek na die saagmeule.

Hy koop drie lang stukke hout wat uit die kern van seder-, denne- en sipresbome gesny is.

Swaar gelaai beur die donkies aan die karretjie die lang pad terug huis toe.

By die huis besef Borak dat sy werkswinkel te klein is vir die maak van die houtkruis. Hy sal buite daaraan moet werk.

Hy span ’n groot doek agter sy huis om ’n afskorting te maak sodat niemand van buite moet sien waarmee hy hier besig is nie.

Harak het mos nou gesê hy mag vir niemand iets oor die houtkruis sê nie.

Hy wonder opeens waarom daar dan soveel geheimsinnigheid omtrent die kruis is.

Hy begin onmiddellik skaaf en beitel en werk voort tot die skemer te sterk raak om mooi te sien.

Ná aandgodsdiens val hy uitgeput op die bed neer.

Hy raak sommer onmiddellik aan die slaap.

Hy droom hy staan op ’n koppie daar buite Jerusalem. Skielik verskyn daar ’n kruis.

Maar die snaakse ding is, daar is so ’n helder lig wat die kruis omring.

Helder, maar anders. Die lig maak nie sy oë seer nie. Hy kan direk daarin kyk.

Hy wil graag nader gaan, maar dit is asof ’n onsigbare mag hom terughou.

Skielik begin daar bloed van die kruis afdrup. Dit val op die grond en sink dadelik in die grond weg.

Iewers kom die gedagte by hom op dat hy ’n aandeel het aan die bloedige tafereel wat nou hier voor hom afspeel.

’n Skuldgevoel pak hom skielik beet.

Hy verberg sy gesig en val op sy knieë neer.

Dan, net so skielik, kom ’n kalmte oor hom.

“Dit is alles my plan!” eggo ’n stem deur sy gedagte.

Sy oë fladder oop en hy kyk op. Sy oë soek-soek na die persoon wat nou die woorde gespreek het.

Maar daar is niemand. En waar die kruis nog flussies gestaan het, is nou niks.

Die son is al hoog op toe Borak wakker skrik.

Hy spring uit die bed en sien dat sy vrou ontbyt gemaak het.

Ná ontbyt vat die kinders die bokke uit na die weiveld en hy gaan voort met sy werk aan die kruis.

Die vreemde droom van gisteraand kom weer by hom op. Hy wonder wat dit kan beteken.

Daar is definitief ’n boodskap daarin.

Hy bekyk die halfklaar kruis.

Dalk speel die ding in sy onderbewussyn.

Of is dit dalk iets méér?

Ná twee dae van voluit werk, bekyk Borak sy handewerk met trots.

Die kruis is mooi glad afgewerk en reg om aan Harak oorhandig te word.

Die volgende dag kom Harak weer met sy hele gevolg by Borak se huis aan. Hy is baie beïndruk toe hy die kruis sien.

Hy vryf met sy hand daaroor.

“Dit is perfek ... manjifiek!” sê hy opgewonde.

Hy oorhandig ’n tweede sakkie met die oorblywende 25 silwerstukke aan Horak.

Vol bewondering vryf hy weer met sy hande oor die kruis.

“Perfek,” prewel hy saggies.

Hy laat die soldate die swaar kruis van omtrent 135 kg op die groot perdekar laai. Hulle verberg dit onder ’n doek.

Hy kyk toe terug na Borak.

“Baie dankie vir jou hulp, meneer die skrynwerker.

‘Nou kan ons daardie man hierop vasspyker wat beweer dat hy die koning van die Jode is.”

Toe Borak dié woorde hoor, snak hy na sy asem.

“Wat sê my heer nou daar?” hyg hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters