17 dae gelede
Borak besluit om Jesus te waarsku oor kruis-komplot
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Borak luister ’n gesprek tussen Harak en die hoëpriester Kajafas af. Hy is geskok om te hoor hulle beplan om Jesus gevange te neem en op te hang aan die kruis wat hy gemaak het. Geniet nou hoofstuk 4 van SALMON­ SMITH se jongste skryfstuk, Die Kruismaker.

ZULPHA staar haar man met groot oë aan.

“My man, het ek nou reg gehoor? Hulle wil Jesus gevange neem en kruisig!?” hyg sy.

“O my aarde! Wie is dié ‘hulle’ van wie jy praat?!”

Borak se bors dein op en af. Hy maak sy oë styf toe en haal diep asem om sy gemoed te probeer kalmeer.

“Dit is Harak-hulle wat die komplot beplan, my vrou!

“Hy is toe nie onder die bevel van Pilatus nie! Hy is kop in een mus met die hoëpriester Kajafas!” gaan Borak gal af.

Zulpha sit haar hand oor haar mond van skok.

“Nou, hoekom sal Kajafas dan beplan om die Messias gevange te neem, my man?”

“Ek weet nie, my vrou! Jesus is mos nie ’n misdadiger nie.”

Borak kyk sy vrou in die oë. Daar is nou ’n desperate uitdrukking op sy gesig.

“Ek gaan vir Jesus waarsku!”

“Hoe gaan jy dit regkry, my man? Jesus is gedurig omring deur ’n skare mense. En sy dissipels gaan jou nie naby Hom toelaat nie.”

“Ek gaan ten minste probeer. Ek gaan vanaand wanneer dit stil raak!”

Baie laat die aand sluip Borak deur die stil strate van Jerusalem.

Die inwoners is al vroeg in hulle huise om reg te maak vir die Pasga, wat die volgende dag begin.

Hy het flussies by iemand gehoor Jesus en sy dissipels nuttig ’n maaltyd iewers in die bovertrek van ’n herberg.

Hy besef die eienaar sal hom nie toelaat om Jesus te gaan spreek nie.

Hy gaan sit daar naby op ’n klipbank en hou sy oog op die ingang. Hy weet Jesus en sy gevolg sal daar uitkom.

Nie te lank nie, toe sien hy ’n man by die herberg uitkom. Die man lyk vir hom baie soos een van Jesus se dissipels.

Hy wil opspring en die man voorkeer, maar toe hy die woedende blik in sy oë sien, besluit hy vinnig daarteen.

Borak gaan sit toe weer op die bankie en leun agteroor.

Hy voel skielik ’n moegheid hom oorval. Kort voor lank is hy vas aan die slaap.

Hy skrik wakker toe iemand hom woes aan die skouer pluk.

“Hei! Jy kan nie hier slaap nie! Gaan huis toe!”

Hy kyk in die gesig van die herbergier.

Borak besef met ’n skok hy het hom verslaap. Hy kyk verward in die rondte.

“Het Jesus al uitgekom?” vra hy vinnig.

“Ja, Hy en sy dissipels het in die Olyfberg se rigting gestap!” sê die herbergier en loop weer binnetoe.

Borak spring op en hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra. Hy is uitgeput toe hy by die Olyfberg aankom.

Die gebied is in donkerte gehul. Sy asem jaag terwyl hynaarstigtelik angstig in die donker na Jesus soek.

Hy hoor gedempte stemme daar naby uit die Getsemané-olyftuin opklink. Hy haas hom daarheen.

Hy tref ’n paar van Jesus se dissipels daar aan. Van Jesus is daar geen teken nie.

“Waar is Jesus?!” hyg hy.

Die dissipels kyk hom verbaas aan.

“Jesus, Petrus en nog twee dissipels is dieper die tuin in om te bid!” sak een van hulle af toe hulle die wanhoop op sy gesig sien.

“Asseblief, ek moet Hom sien! Ek moet Hom waarsku!” pleit Borak angstig.

“Jesus kan nie nou gesteur word nie. Hy is besig om te bid!” kap die dissipel terug.

Skielik hoor hulle ’n opmars aankom.

Hulle koppe ruk om en hulle sien ’n klomp ligfakkels deur die donker olyfboord nader kom.

Paniek pak Borak en die dissipels beet. Op daardie oomblik kom sluit Jesus en Petrus-hulle by hulle aan.

In stille afwagting hou hulle die naderende fakkels dop.

In die lig van die fakkels besef hulle dit is gewapende soldate wat in aantog is.

Heel voor stap Judas Iskariot en hy kom reg op Jesus afgeloop.

Almal, Borak ingesluit, staan stomverbaas toe Judas Jesus op die wang soen en Hom só aan die soldate uitwys as die man wat hulle gevange moet neem.

Borak herken Judas onmiddellik as die man wat vroeër woedend uit die herberg gestorm het.

Toe die soldate Jesus gevange neem, besef Borak hy is te laat om Jesus te waarsku.

Hy het in sy plig gefaal. Jesus gaan nou aan die kruis gehang word wat hý gemaak het.

Enorme skuldgevoelens pak hom beet. Hy tree verskrik agteruit.

Toe die dissipels vreesbevange die hasepad kies, spring hy ook weg en lê oop huis se kant toe.

Hy bars by sy deur in, reguit slaapkamer toe. Hy ruk soos ’n waansinnige vir Zul­pha aan die skouers wakker.

“My vrou, word wakker!” skree hy.

Zulpha skrik heel verward wakker. Sy kyk vas in die groot, waansinnige oë van haar man.

“My man?” hyg sy geskok.

“Die soldate het Jesus gevange geneem. Hulle gaan Hom doodmaak!” gil hy.

Zulpha is nou wawyd wakker toe sy dit hoor. “Nee! Nee! Dit kan nie wees nie!” kerm sy.

Trane loop oor Borak se wange. “Ek was daar in die Getsemané-tuin.

“Ek het dit met my eie oë gesien. En ek kon nie eens vooraf vir Jesus waarsku nie,” kerm hy.

Saam slaan man en vrou hulle arms om mekaar terwyl rou snikke deur hulle liggame ruk.

Hulle is onbewus daarvan dat hulle twee seuns ook daar kom staan en hulle met groot oë aanstaar.

Die nuus van Jesus se inhegtenisneming versprei soos ’n groot veldbrand. Die verhoor onder die Sanhedrin en Pilatus lok belangstelling van heinde en ver.

Die verhoor van Jesus word gou afgehandel en Hy word met ’n groot gejuig van die skare – die einste mense wat hom ’n paar dae vroeër met palmtakke in Jerusalem verwelkom het – ter dood veroordeel.

’n Groot skare vergader weerskante van die straat toe die soldate met ’n bebloede Jesus met ’n doringkroon op sy kop in die straat afkom.

’n Hartseer Borak beur tussen die skare deur om ook vir Jesus te sien verbykom.

Toe hy Jesus met die kruis wat hy gemaak het oor die skouer die straat af sien kom, pak ’n benoude gevoel hom beet.

Hy besef hy is medepligtig aan ’n gruwelike sonde. Hy voel hoe sy bene onder hom invou. Toe raak dit om hom donker.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters