14 dae gelede
Borak beleef ’n wonderwerk en deel dit met almal
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Borak raak uit ’n diep slaap wakker en besef hy is aandadig aan ’n vreeslike sonde. Hy besluit hy gaan van die bloedgeld ontslae raak en by Jesus se graf om vergifnis vir sy sonde gaan smeek. Wanneer hy by die graf aankom, wag daar egter vir hom ’n groot verrassing... Geniet nou die slothoofstuk van SALMON­ SMITH se jongste skryfstuk, Die Kruismaker.

BORAK ruk verward wakker. Hy kyk om hom heen en sien dat hy in sy kamer lê.

Sy kop voel dik en dit voel asof hy dae aaneen geslaap het.

Zulpha kom skielik met ’n asynlap en water in die kamer in. Daar verskyn ’n opgewonde uitdrukking op haar gesig toe sy haar man sien regop sit.

“Jy is wakker, my man!” sê sy.

“My vrou, wat gaan aan? Hoekom voel ek so snaaks?”

Zulpha kom sit by haar man. “Jy was vir twee dae in ’n diep slaap!” sê sy.

Borak se kop ruk op. “Wat het gebeur?”

“Jy het die dag van Jesus se kruisiging tussen die skare flou geval!”

Dit voel vir Borak asof ’n skerp pyn deur sy brein skiet toe hy dit hoor.

Hy gee ’n lang uitgerekte kreun en hou sy kop vas. “My vrou, ek is verdoem!

“Ek het ’n gruwelike sonde gepleeg!” kerm hy dit uit.

Eers verstaan Zulpha nie waarvan hy praat nie, maar toe kom die prentjie van Jesus aan die kruis by haar op.

Dis aan die kruis wat haar man net die ander dag gemaak het wat die Romeinse soldate Jesus vasgespyker het.

Sy trek haar asem skerp in en vou haar hand oor haar mond toe sy besef in watter penarie dit hulle nou laat beland het.

“M-my man!” is al wat sy uitkry.

“Sal God my ooit kan vergewe, my vrou?” tjank Borak dit uit.

Zulpha staar net stip voor haar uit. Sy het nie nou woorde nie. Sy wonder of haar hele huishouding nou vervloek is.

Skielik spring Borak uit sy bed op.

“Ek sal terug na Golgota gaan. Ek sal vir Jesus daar aan die kruis sien en Hom om vergifnis smeek!”

“My man, Jesus het al twee dae tevore gesterf!” lig Zulpha hom in.

“Daar was ’n aardbewing op daardie oomblik en die hemel het verdonker!

“Hulle het hom dieselfde aand in ’n graf gaan wegbêre.”

Toe Borak dit hoor, skeur hy sy kleed en sak gebroke op sy knieë neer.

“My God, wees my as sondaar genadig!” gil hy dit uit.

Daardie aand kan Borak geen oog toemaak nie.

Hy lê die hele aand en rondrol en worstel met sy skuldgevoelens.

Die volgende dag is hy vroeg uit die bed.

“My vrou, ek gaan ontslae raak van daardie silwermunte waarmee ek betaal is.

“Dis bloedgeld!” sê hy vir Zulpha.

“Jy moet my beduie waar Jesus se graf is sodat ek die munte daar kan strooi terwyl ek my sondes bely en om vergifnis smeek.”

Met die sakkie munte styf in sy hande vasgeklou, loop hy die lang pad na die graf. Halfpad kom hy drie vroue teë wat heel verskrik in die teenoorgestelde rigting vlug. Hy herken een van hulle as Maria Magdalena. Hy kyk hulle agterna.

Hy wonder wie of wat hulle so vroegoggend die skrik op die lyf gejaag het.

Hy stap aan tot hy die graf sien. ’n Frons verskyn op sy voorkop. Die graf is dan oop?

Hy kan nie verstaan hoe hulle Jesus in ’n oop graf kon begrawe het nie.

Hy sien die groot, ronde klip wat daar eenkant lê.

Wat as die soldate Jesus se liggaam in die nag kom steel het?! kom die skokgedagte skielik by hom op.

Hy hardloop vinnig nader. Hy kom egter nie ver nie.

Hy stop in sy spore toe hy die man daar by die ingang sien.

Die man het spierwit klere aan en daar is ’n helder skynsel wat hom omring.

“Mens, wat soek jy hier?” dreun die figuur se stem.

Lam van skok besef Borak dat hy nou in die teenwoordigheid van ’n engel is.

Hy val op sy knieë neer en buig sy hoof grondwaarts. “O, boodskapper van die allerhoogste God! Ek is dit nie werd om in u teenwoordigheid te wees nie!

“Ek is ’n patetiese sondaar wat net om vergifnis wil smeek hier by die liggaam van Jesus!” sê hy in ’n droewige stem.

“Jy soek die lewende in die plek van die dooie. Jesus is nie hier nie!

“Gaan verkondig aan die mense dat Jesus uit die dood opgestaan het!” beveel die engel hom.

Die woorde laat Borak na sy asem snak.

Hy ruk sy kop op. Van die engel is daar nou geen teken.

Hy besef dat hy dit nie gedroom het nie. Jesus het opgestaan! Jesus leef!

’n Blye gevoel kom by hom op.

Hy spring op, gooi die muntstukke wat hy nog heeltyd in sy hand vasgeklem het, eenkant toe en nael huis toe.

Hy bars by sy huis in. “My vrou, Jesus leef!” gil hy dit opgewonde uit.

Hy vind dit moeilik om sy ondervinding daar by die oop graf aan Zulpha oor te dra. Sy lyk eers skepties, maar mettertyd begin sy hom glo.

Jesus se opstanding versprei soos ’n groot veldbrand.

Maar die Romeinse soldate probeer die goeie nuus in die kiem smoor.

Hulle loop en vertel die mense dat Jesus se dissipels Jesus se liggaam in die nag kom steel het.

En dít begin twyfel saai onder die Jode.

’n Paar dae later sit Borak eendag daar in sy werkswinkel en bepeins die gebeure van die afgelope week. Hy wonder nou self of dit wat hy daar by die graf ondervind het nie maar net ’n droom was nie. Wat as Jesus steeds dood is?

Hy voel skielik weemoedig en laat sak sy kop.

“Hoekom is jy so weemoedig?” kom ’n stem van die deur af.

Borak se kop ruk op. Vir ’n oomblik is hy van stryk gebring. Hy maak sy mond oop en toe soos hy soek na woorde.

Voor hom staan Jesus in al sy glorie. Hy kan nog die wonde aan sy hande sien.

“Mens, waar is jou geloof? Glo jy dan nie dat die geskrifte wat eeue gelede voorspel is, waar geword het nie?” vra Jesus hom.

Borak val op sy gesig neer. “Meester, ek smeek U om vergifnis!” kerm hy dit droefgeestig uit.

Jesus stap nader en help Borak van die vloer af op.

“Moenie bevrees wees nie. Jy was deel van my Vader se verlossingsplan.

“Gaan nou en verkondig aan almal dat Ek die dood oorwin het! Sodat niemand verlore moet gaan nie, maar die ewige lewe kan hê!”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters