Verlede maand
Boeta vlieg op om daai lekker geluk te vang
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag kry julle weer ’n nuwe kortverhaal van SALMON SMITH te lese. Hy noem dit “ ’n Joppie vir Boeta”. Die skrywer gee graag erkenning aan @plaasnaar, wat dié verhaal geïnspireer het.

‘BOETA, wannir gaat djy nou ’n slag djou gat lig en loep werk soek?!”

Sarah Geduldt staan in die kamerdeur, hande in die sye en gluur haar sleg klong woedend aan.

Boeta Geduldt lê daar op sy kooi en staar plafon toe.

Sy matras lyk al soos ’n bootjie soos hy die hele dag met sy sleg gat daarop deurbring.

Nou dowwel hy doof en is meer geïnteresseerd in die vliegbek*kte plafon, terwyl sy moeder woedend voorttier.

“Djy’t 2018 die skool klaargemaak en nog nooit belang gestel om vir ’n baas môre te gaat sê nie!

“Nee, djy sal eerder met djou vrinne elke aand loep dronknes hou.

“En dan deur die dag slaap tot die son diep in djou sleg gat skyn.

“Ek kan mos nie nog van my char-joppies se bietjie geldjies djou bek ook oophou nie!

“Djy is mos nou al groot genoeg om ’n slag vir jouself te gaan werk.

“Ek sê nou vi djou, môreoggend dan lig djy djou gat en gaat soek werk!”

Boeta vlieg van die bed af op. “Mammie wiet ook net hoe om ’n man se bors warm te maak!” kap hy terug.

Hy loop by die kamer uit.

“Ekke gaat eerder kyk waar ek ’n vi’niet-dop innie hande kan kry!” sê hy so oor sy skouer, terwyl hy voordeur toe loop.

Sarah gluur haar klong agterna. Sy is spyt dat sy hom so bederf het deur die jare.

Dit is deur háár dat hy nou so lui is.

Ja, van kleins af het sy sy klere van die vloer af opgetel, agter sy gat aan skoongemaak en feitlik alles vir hom gedoen.

Maar vandag, nou vandat hy klaar met skool is, weet hy nie hoe die binnekant van ’n werksplek lyk nie.

Glo laasjaar ’n gap-jaar gevat. En nou lyk dit dan asof hy vir ewig ’n gap wil vat.

Sy sal beslis iets moet doen om hom van sy fobie vir werk te genees …

DIT is net voor tien die volgende oggend en Boeta lê en saag balke laat die moer draai.

Hy het gisteraand dik dronk gesuip laat by die huis aangekom van sy drinke-brasse af.

Hy skrik proesend wakker van die gelui van sy foon.

Al swetsend reik hy sy hand na die foon uit. ’n Vinnige blik na die skerm en sy spoed is sommer onmiddellik gebreek.

Wat wil sy ma nou weer van hom hê? Sy bly lastig as hy so lekker slaap, dink hy nors. Hy plaas die foon teen sy oor.

“Ja, wat is dit nou weer, Mammie?!” vra hy sommer so rof.

“Is djy al wakker?!” kom sy ma se stem oor die foon.

Hy wil byna ’n vloekwoord uiter, maar hy hou hom in.

“Jarra, Mammie, sal ek nou met Mammie oppie foun praat as ek slaap?” vra hy dikbek.

“Nou, kry dan djou lyf onmiddellik hier in Halt Road oorkant die Reo Hotel.

“Daar het nou net ’n biertrok omgeval!’ sê Sarah hard en duidelik oor die foun.

Boeta skiet regop in sy bed toe hy dié woorde van sy ma hoor. “Wat sê Mammie nou daar?!” hyg hy dit uit.

“Djy’t goed gehoor wat ek praat, djou slegding! Want die woord ‘bier’ is ál woord wat djou aandag sal trek!

“En maak gou – die hele wêreld lê vol biere! En die hele Elsies is nou hier!” kap Sarah terug.

“O-oukei, Mammie, e-ek’s nou daar!” stotter Boeta en spring fluks uit die bed.

“Trek sommer djou safety boots ook aan, want hier lê oral glasstukke soos van die bottels gebreek het,” gaan Sarah voort.

“O, ja, trek sommer djou oorle pa se werk overall aan. Want die pad is baie nat en van die bottels het baie stof op. Ek wil nie hê djy moet djou gewone klere vuil maak nie.”

Soos blits is Boeta in die overall en safety boots aan sy voete. Hy gryp ’n groot rugsak van die kas af om die biere in te pak.

Hy hol soos blits by die deur uit in die rigting van Halt Road. Die kwyl spat uit sy bek soos sy bek water vir die heerlike verniet-biere wat hy vanaand gaan sluk.

Toe hy in Halt Road kom, hou hy sy oë gevestig op die pad daar voor hom. Sy hakke kap hier agter sy diff soos hy ooplê in die rigting van die Reo Hotel.

Sy hart bons woes hier in sy borskas en sy bene voel al later soos jellie. Maar hy wil nie sy spoed verloor nie – te bang hy gaan iets groots misloop as hy nie betyds daar by die scene van die ongeluk uitstiek nie.

Sy bors brand soos ’n kool vuur, maar die idee van die heerlike koel voggies wat oomblikke van nou af sy keel gaan lawe, dryf hom aan.

Hy sien die Reo Hotel voor hom. Sy oë is nou gefokus. Dis nou fyn kyk vir die omgeslane biertrok.

Toe hy die Reo Hotel nader, neem sy spoed af. Hy scan vinnig die straat in alle windrigtings – noord, suid, wes en oos.

Hy gaan staan by die vulstasie oorkant die pad en sy kop gaan soos ’n meerkatjie s’n – wéér in alle windrigtings. Maar daar is geen teken van ’n omgeslane biertrok nie.

Hy sien net ’n klomp konstruksiewerkers. Hulle is besig om die een kant van Halt Road te teer.

Dit voel asof sy hart in sy safety boots insink van teleurstelling.

Hy haal vinnig sy selfoon uit sy sak en skakel naarstig sy ma se nommer. Hy plak die foon teen sy oor. Sy bors dein op en af van moeg- en kwaadgeid.

“Mammie, ek’s nou hie’ by die Reo Hotel! Hie’ gaat dan niks aanie! Waasie biertrok wat omgeval het?” hyg hy dit uit.

“O, my klong, djy’s daa’m vinnig vi biere!” sê Sarah. “As djy mooi kyk op daardie construction site, dan sal jy jou uncle Ben sien. Hy is die voorman daar.

“Ek’t hom vanoggend gesoebat om vi’ djou ’n joppie te gee. Hy’t met graagte ingestem.”

Boeta Geduldt trek sy asem skerp in toe hy dít hoor. Sy mond hap oop en toe soos hy na woorde soek.

Sy ma het hom wragtig ’n pop gedraw. Hy voel hoe sy maag sulke lelike draaie gee. Hy’s nou nie seker of dit net aah of ’n wind is nie.

“Gelukkig het djy djou safety boots en overall aan!” sê Sarah.

“En moetie worry oor lunch nie, my klong. Djy het onder 10 minute gehol vir ’n kastige biertrok wat omgeval het. So, djy kan vinnig huis toe kom om ’n dite te slat.”

“Urh … Mammie –” kreun Boeta.

“En as djy nie die werk wil vattie, moet’ie ee’s dink daaraan om huis toe te kom nie!” val Sarah hom bruusk in die rede. “Djou klere sal in swart sakke vi djou wag oppie stoep! Die Here hoor my!”

Dit voel vir Boeta asof sy maag nou regtig wil begin werk.

“O ja, moetie vi’giet om vi uncle Ben te bedank vi’ die werk nie!” sluit Sarah haar relaas af.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS dit gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters