14 dae gelede
Boeta Solla kry die grootste verrassing van sy luisgat-lewe
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian en sy manskappe maai onder die gangsters en misdadigers op die Kaapse Vlakte. Hulle “skoonmaakoperasie” in bendegeteisterde gebiede haal die head­lines. Die cops waarsku inwoners om uit te kyk vir ’n swart kombi met getinte vensters, maar Brian het reeds ’n plan om daarteen te werk. Hy warn ook sy manskappe hulle mis­sion gaan gevaarliker word wanneer hulle twee gangster-broers vasvat. Geniet nou die slothoofstuk van “Die Groot Vyf” van SALMON SMITH.

DIS net ná middernag. Gerrit Sauls, alias “Boeta Solla”, sit in sy rolstoel in sy klein kantoortjie in die hoekie van sy smokkelkroeg.

Hy is fluks besig om die dag se inkomste uit drank- en dwelmverkope te tel.

Sy gesig helder op toe hy sien dit het weer goed gegaan met sy besigheid.

Dié besigheid het hy so ag jaar gelede begin met die geld wat hy gekry het van sy siviele eis teen ’n polisieman wat hom tot in sy rolstoel geskiet het.

Hy is bly dat die gereg aan sy kant was en die hof daardie saak teen hom – ’n saak van huisbraak en verkragting van daardie gatta se dogter – uitgeskop het.

Daardie meisiekind was glo te mal om teen hom te getuig.

En vir die pyn en lyding oor daardie twee koeëls in sy rug het hy ’n allemintige R1,2 miljoen uit daardie polisieman se pensioen gevat.

Vandag kan hy wat Boeta Solla is, daarvan getuig dat misdaad wel betaal. En dit betaal steeds, want sy onwettige bedrywigheid hier in Leonsdale, Elsiesrivier, floreer.

“Bossie, kan ôs maar lines vannie jaart af?!” vra een van sy vier holborsels waar hulle in ’n kring rondom hom staan.

Boeta Solla kyk op. “Ja, manne. Julle kan maar gaan. Ek sal sluit.

“Onthou om môreoggend vroeg hier te wees sodat die runners ook vroeg op die hoeke kan wees met die dag se drugs.”

Niemand sien die donker figuur wat in die donker hoekie agter een van die slotmasjiene skuil nie. Iewers voor in die erf lê twee pit bull terriers moer toe geskiet.

En daardie yskoue oë wat nou met intense haat na Boeta Solla en sy trawante van agter die balaklawa staar, behoort aan niemand anders as Brian September nie. En hy is hier om wraak te neem op Gerrit Sauls.

Die vier holborsels weet nie wat op hulle wag terwyl hulle lekker vrolik met hulle dag se pay in hulle broeksakke na die plek se voordeur stap nie.

Nog voordat enige iemand besef wat aangaan, beweeg Brian blitssnel. Sy vuurwapen blaf saggies en vier bullets ploeg deur vier holborsels se breins.

Van skok probeer Boeta Solla opvlieg, maar onthou dat hy nege jaar gelede verlam gelaat is deur sy eie k*k gedagte.

Voordat hy sy bek kan rek, is Brian op hom en druk die vuur­wapen teen sy kop.

“Een geluidjie uit jou skuimbek en jy’s vrek!” sis hy.

“W-Wie is jy?!” stotter Boeta Solla verskrik. Sy oë is pieringgroot.

Brian maak Boeta Solla se hande vinnig en stewig met kleefband aan die rolstoel se armleunings vas.

Toe daarna word sy skurkbek met kleefband toegeplak.

Toe hy klaar is, gaan staan Brian voor die verskrikte boef en pluk die balaklawa van sy kop.

“Aanskou die man wie se lewe jy verwoes het!” spoeg hy dit teenoor Boeta Solla uit.

Boeta Solla staar ondersoekend na die gesig voor hom. Iets aan daardie gesig lyk bekend.

“Moet ek jou geheue verfris, jou skuim?!” vra Brian en lig die base­ball bat in sy hand omhoog.

Dit lyk asof dié move Boeta Solla se gedagtes skielik verfris.

Herkenning is op sy gesig te lees en ’n jammerhartige gemompel ontsnap deur die kleefband oor sy smoel.

Hy besef die oordeelsdag het nou aan sy deur kom klop.

Brian pluk ’n mes voor die pieringgroot oë van Boeta Solla uit. Hy bring dit hard af op die skurk se regterbinneboud en sny ’n diep keep daarin. Bloed stroom uit die slagaar.

“Dit is vir die inbraak in my huis!” spoeg Brian dit uit.

Trane loop uit Boeta Solla se oë. Hy probeer pleit vir sy lewe, maar kan net ’n patetiese gemompel uitkry.

Skielik sny Brian die ander boud se slagaar ook af.

“En dít is vir die moord op my vrou!”

Bloed spuit nou die hele wêreld vol.

Toe trek Brian die skurk se broek af, gryp sy hele tros kroonjuwele vas en laat loop met sy vlymskerp mes.

“En dít, jou vuil vark, is vir die verkragting en die dood van my dogter!”

Teen dié tyd het Boeta Solla reeds ’n emmer vol bloed verloor.

Sy kop wieg stadig heen en weer soos hy probeer spook om aan die lewe te bly.

Sy oë lyk glaserig.

Brian se gesig is graniethard toe hy die mes teen die skurk se nek sit en met een haal die hoofslagaar afsny.

“En dít is vir my lewe wat jy en jou makkers verwoes het!”

Terwyl Boeta Solla sy laaste doodsroggel gee, plaas Brian vinnig sy balaklawa terug oor sy kop.

Skielik klink ’n vreeslike skietery buitekant die smokkelkroeg op.

Brian hol vir die deur van die smokkelkroeg.

Daar buite sien hy sy manskappe is by ’n skietery betrokke met ’n groep gangsters.

Hulle het die rooi kombi reg voor die hek kom parkeer, reg vir hom om in te spring.

Hy sien hoe die gangsters op ’n streep val.

Al skietende duik hy by die kombi se sydeur in.

Met Johnny agter die stuur trek hulle met skreeuende bande weg en laat meer as 10 bloeiende gangsters in die straat agter.

“Sjoe, wat het dan nou dáár gebeur?” vra Brian vinnig.

“Terwyl ons vir jou gewag het daar op die vlakkie, boeta B, toe sien ons hoe ’n hele groep gangsters daar voor daardie skurk se huis vergader,” verduidelik Johnny.

“Dit smaak my dat iemand in daardie skurk se huis jou teenwoordigheid daar gesien het en toe stilletjies ’n klomp gangsters by ’n jaart verder af in die straat gaan haal het. Hulle wou jou toe verras het daar binne, maar toe verras ons hulle!

“Nou lê daar ’n klomp gemors vrek in daai straat en die res hardloop seker nog. Gelukkig skiet hulle maar k*k en kon nie een van ons tref nie!” kraai Johnny.

“Dankie, manne!” sê Brian.

Hy voel hoogs tevrede.

“En toe? Het jy jou taak toe suksesvol uitgevoer, boeta B?” vra Henry Maarman.

Brian knik en sy gesig is graniethard. “Ja, en my wraak was stroopsoet!

  • “En van nou af gaan Die Groot Vyf anargie saai onder die gangsters hier op die Kaapse Vlakte! Hulle sal nie weet wat hulle tref nie!”Die Einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters