17 dae gelede
Boeta B verklaar hulle mission sal gevaarliker raak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian September, Johnny Vercuil en nog drie voormalige cops donner op die eerste aand van hulle “skoonmaak-operasie” ’n klomp vuilgatte dik in Hanover Park en Manenberg. Dis deel van hulle oorlog teen die regstelsel, gangsters en ander misdadigers. Dis nou hulle mission om wraak te neem vir die onregverdigheid wat hulle as cops gesuffer het. Geniet nou hoofstuk 7 van “Die Groot Vyf” van SALMON SMITH.

‘SWART kombi maak amok op Kaapse Vlakte”, “Geheimsinnige mans het Kaap op hol”, “Bendes in visier van gemaskerde mans”, basuin koerantplakkate ’n week daarna oral op lamppale in die Kaap uit.

Op die voorblad van Son is ’n grafika van ’n swart kombi met vyf donker geklede mans met wolmusse oor hulle koppe, wat by die ruite van die kombi uitloer.

Op bladsy 3 is ’n hoofberig met ’n foto van twee skollies wat met bloedbesmeerde verbande om hulle koppe en hartseer gevreetjies pryk, met die opskrif “Goed gemoer!” daarby.

Dit lyk asof skollies op die Kaapse Vlakte nou die teiken geraak het van ’n vigilante-groepie bestaande uit vyf mans, begin die berig.

Volgens gerugte lyk dit of dié groepie die youngsters wat so op straathoeke uithang sowel as vermeende bendelede aanval en hulle met baseball bats toetakel.

Die rede hiervoor is onbekend. Die mans operate in die middernagtelike ure en ry in ’n pikswart kombi met getinte ruite rond.

Volgens sommige van die slagoffers dra die mans balaklawas en handskoene.

Een van die slagoffers, slegs bekend as “Ou Lange”, vertel: “Ek en my bra het nog so lekker daar in Pecos Walk af geloep. Toe ewe skielik stop die swart kombi hier langs ons.

“Toe ek nog wou vra ‘what kind’, toe spring daar vyf mans uit die kombi en begin ons slaan met baseball bats oral oor ons koppe en lywe.

“My regterarm is gebriek en ek het oral knoppe op my kop. My bra het glad in die hospitaal beland en ekke het gedog hy’s dood.”

Son het by nog ’n slagoffer in die hospitaal ’n draai gaan maak.

“Ek en my brasse het een aand nog so lekker in Bluegumstraat innie Bontas gesit,” vertel die victim, wat anoniem wil bly.

“Toe ewe skielik stop die kombi langs ons. Ons wou nog opvlieg, maar toe reënt die houe op ons.

“Ek mean, ôs het hulle niks gemakie. Ôs het maar net ôs gebruike geniet. Nou lê ekke hie met ’n gebriekte been, gebriekte arms en my kop vol gate.”

Kapt. FL van Dyk, ’n polisiewoordvoerder, het laat weet die polisie dra kennis van die voorvalle en beskou dit in ’n ernstige lig.

“Op die oomblik weet ons nie wat die motief vir die aanvalle is nie, maar dit word ondersoek.

“Ek wil net inwoners waarsku om op hulle hoede te wees as hulle hul gedurende die nagtelike ure op straat bevind.

“Ons wil inwoners ook aanraai om enige verdagte voertuie so gou moontlik aan ons te rapporteer.”

Iewers in die Maitland-begraafplaas sit Brian September en Johnny Vercuil in hulle skuilplek met Son oop voor hulle.

“Dit lyk asof ons bedrywighede die afgelope week vreeslik baie aandag getrek het,” sak Brian af.

“En dis ’n goeie ding, want nou weet die gangsters hulle moet op hulle pasoppens bly.”

“Ons moet seker nou ’n plan maak met die kombi, want oral praat die mense van die swart kombi met getinte ruite,” sê Johnny.

“Ek was vroeër vanoggend in Kensington, toe was dit die onderwerp van bespreking daar in die sjebeens.”

“Toe maar, ek het klaar ’n plan daarvoor,” sê Brian. “Boeta S en Boeta H het genoem hulle is experts in panelbeating.

“Op die oomblik is hulle juis besig om ons kombi daar in Epping ’n bietjie te verander en dit ’n ander kleur te spray.”

Johnny se gesig helder op. “Jislaik, Boeta B. Jy’t ook aan alles gedink toe jy die hele ding beplan het!”

“Ek was mos ook ’n gatta; so, ek dink nog soos ’n gatta!” sê Brian en skaterlag.

Hy raak weer ernstig. “Ons gaan ’n tydjie relax sodat die stof so ’n bietjie kan gaan lê. Daarna gaan ons missie ’n bietjie gevaarlik raak, want ons gaan nou met vuurkrag in die gangster-areas toeslaan.

“Ons gaan in die middernagtelike ure daardie gemorste in hulle lêplekke uitsnuffel en vrekmaak.

“Maar dit gaan deeglike beplanning kos, want ons kan nie bekostig om manne te verloor nie.”

Oral in die areas op die Kaapse Vlakte patrolleer buurtwagte nou snags die strate met hulle reflector jackets. Hulle is gewapen met pikstele en op die oog af lyk dit of hulle nie sommer enige akkies van kabouters sal vat nie.

Hulle is op hulle hoede vir enige voertuig wat in die strate rondry. Kombi’s word sommerso afgetrek en deursoek.

Ná ’n week en ’n half begin alles na normaal terugkeer toe geen voorvalle gebeur nie.

Minder inwoners stel nou hulle dienste beskikbaar vir buurtwagte.

In sommige gebiede, soos Elsies­rivier, is geen buurtwag meer in die strate te siene nie.

Dis toe net daar in Elsiesrivier waar die stront die waaier tref.

Dit is net ná middernag toe ’n bloedrooi kombi saggies voor ’n maisonnette in Naomistraat in Avonwood optrek.

Binne-in sit Die Groot Vyf, slaggereed om twee gangster-broers wat vir vele moorde hier in Elsiesrivier verantwoordelik is, te gaan afhaal.

Die spannetjie bespied eers die omgewing.

Alles lyk rustig. Op een hoek hardloop ’n kat oor die pad en spring ligvoets oor ’n muur.

Nou rig hulle hul oë op die huis. Dit lyk asof die inwoners almal al in droomland is, want al die ligte is af.

Die wendyhuis, waarin die twee gangsters slaap, is aan die agterkant van die huis.

Binne sekondes is die manne uit die kombi uit. Brian het ’n bolt cutter in die hand.

Die ander staan gereed met pistole waaraan knaldempers voor aan die lope geskroef is.

Vinnig word die groot hangslot aan die hek afgeknip en toe storm die groep die jaart binne.

’n Pit bull wat aangestorm kom, word sommerso platgeskiet.

Dit vat nie lank om by die wendyhuis in te kom nie.

In die flou liggie van ’n kers wat daar eenkant brand, lê die twee broers langs mekaar op ’n enkelbedjie.

Hulle snork en poep gelyk. Dit lyk asof hulle hul suf gerook het aan ’n witpyp.

Met brute krag tol Brian die bed om en die twee beland op die vloer.

Al vloekend skrik hulle wakker, maar hulle vlag sak vinnig toe hulle in vyf gemaskerde gesigte vaskyk.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters