16 dae gelede
Bioniese Setera se daad vul Terror se manne met angs
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van SALMON SMITH genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 8.

DIS Vrydagaand. Terror Gambino en sy trawante hou kajuitraad in sy studeerkamer op die tweede verdieping van sy massiewe huis in Myrtleweg in die Bishop Lavis.

Hul onwettige motoronderdele-besigheid het omtrent floreer in die ses maande sedert die dikding uit die tronk vrygelaat is.

Die hoofholborsel, Grecia, het ’n klomp swartmark-kontrakte gekry in lande soos Lesotho en Swaziland. Dís nou benewens hul kontrakte in Namibië, Mosambiek en Botswana.

Dus het die motordiefstalle en hijackings in die Wes-Kaap erg toegeneem. Maar niemand kan ’n vinger wys na die Gambino-skurke nie, want hulle gaan deeglik te werk.

Hulle slaan net in die aand toe en hulle is gemasker en swaar gewapen. En hulle skroom nie om ’n hardegat motoreienaar te skiet nie.

Terror Gambino het ook ’n paar hoë offisiere van die high flyers unit in sy sak. Dis hoekom daar nie meer enige ondersoeke teen hom is nie.

Nadat hy kapt. Morgan Setera en sy gesin afgehaal het, was hy een van die hoofverdagtes.

Hy het egter sommer gou hoof-ondersoeker, kol. Van Briesies, ’n klomp geld betaal om anderpad te kyk.

“Manne, dié trade gaat ôs ammal in multi-miljoenêrs verander,” noem Gambino teenoor sy holborsels. “Ek moet julle ammil bedank vir djulle se lojaliteit.

“Van nou af kyk ons die toekoms met dollar signs in die oë. Niks gaan nou meer in die pad van ons rykdom staan nie.”

Hy kyk na sy hoofholborsel. “Grecia, ek gaan vir djou in charge sit van die Swartlandse verspreidingsgebied. Dan kan djy toesien dat al die karre daar by ons werf in Malmesbury deeglik gestrip, die verskillende parte gemerk en sommer uitgevoer word na Namibië en Bo­tswana.”

Grecia knik instemmend. “Dit sal ’n eer wees, my larney,” sê hy en sy nare grynslag amputeer byna die bokant van sy kop.

Gambino kyk nou na die volgende holborsel. “Gantang, djy moet die stoorplek daar in Belhar oorneem en toesien dat alles daar vlot verloop. Ek wil sommer hê dat djy nou soontoe moet gaan.

“Kol. Van Briesies gaan vanaand ’n pakkie daar kom optel. Dit is BMW-parte wat hy in Pretoria gaan drop. Hy vertrek môre soontoe vir ’n meeting by die polisie se hoofkwartier.”

Op daardie oomblik lui Gambino se selfoon. Hy kyk eers na die skerm en frons dan.

“Dit is hoeka hý wat nou hier bel,” sê hy terloops en plaas die foon teen sy oor.

“Jis, Briesies! What’s up?!”

Vir ’n wyle luister Gambino na die kolonel aan die ander kant. Skielik trek hy sy asem skerp in.

“Wat sê djy nou daar?!” hyg hy dit uit. “Oukei … Ek stuur nou ouens uit daarheen!”

Hy lui af en haal die selfoon van sy oor af weg. Sy manskappe kyk hom in afwagting aan.

“Iemand het toegeslaan by ons stoorplek in Belhar en amok gemaak. Kol. Van Briesies het toevallig daar ingeloer om die pakkie op te tel toe hy daarop afkom.”

Almal kyk Gam­bino geskok aan.

“I-is iemand dood, my larney?” vra Grecia.

“Ja, daar is casualties. Maar Briesies hettie gesê hoevil nie,” antwoord Gambino.

Hy kyk na Grecia. “Grecia, gaan djy saam met Gantang soontoe en gaan stel ondersoek in. Vat ’n paar manne saam.” Daar is ’n sweempie paniek in Terror Gambino se stem.

Toe Grecia, Gantang en nog so vier skurke by hul stoorplek in Belhar aankom, rek hul oë pieringgroot. Wat eers ’n mooi, netjiese huis met ’n groot garage was, is nou ’n uitgebrande bouval. Oral lê motoronderdele. Dis oor die hele area verstrooi.

Dooie manskappe lê ook die hele wêreld vol.

’n Groot polisieteenwoordigheid heers. Dis ’n feestelike flitsing van blou en rooi ligte.

Grecia gewaar kol. Van Briesies sommer onmiddellik tussen die wemelende polisielede.

Van Briesies stap dadelik eenkant toe toe Grecia op hom afloop. Hulle gaan staan buite sig.

“Moenie dat my mernse sien dat jy my ken nie!” sis Van Briesies dringend.

Grecia kyk vlugtig in die rondte. “Wat het hier gebeur, Briesies? Is almal hier dood?” vra hy versigtig.

Van Briesies kyk ook eers vinnig rond. Hy wys na die ambulans daar naby.

“Daar is een survivor daar in die ambulans. Hy sê hy en sy makkers het nog so lekker die week se suksesse gevier. Hulle het daar in die agterplaas tussen die karwrakke gedrink. En toe, eensklaps, staan die … die ding daar!”

Grecia lyk nou meer gepuzzle. “D-die ding? Waarvan praat jy?”

Van Briesies kyk weer vlugtig na die ambulans. “Hy beskryf dit as ’n soort gedaante met ’n pikswart, blink vel en so ’n snaakse donkerbril op die oë.

“Die ding het teen die spoed van wit lig beweeg en almal rondom hom doodgemaak. Hy het dit nog reggekry om ’n skoot te skiet, maar die koeël het ... volgens hom … van die ding se vel weggebons.”

Grecia krap sy kop. Hy is nou éérs deurmekaar.

“Watse snert is dit?!” gaan hy gal af. Hy wys na die ambulans. “Het daai jong nie miskien ’n hou teen die kop weg nie?!”

“Ja, hy sê daai ding het hom ’n hou teen die kop gegee, toe verloor hy sy bewussyn,” sê Van Briesies.

“Toe hy bykom, toe sien hy die hele plek is aan die brand en motorparte lê die hele wêreld vol.

“Gelukkig was die ambulans en brandweer vinnig op die toneel. Julle het sewe manne verloor.”

Grecia skud net sy kop. “Dit klink dan nou soos iets uit ’n sci-fi movie.”

Hy kyk na die donker bosse daar eenkant. Skielik rek sy oë pieringgroot en sy bek val oop soos dié van ’n gaar snoek.

“O, Jarre! Kyk daar!” gil hy dit uit en wys na ’n sandduin daar naby.

Van Briesies en ander omstanders se kop draai in die rigting waarin Grecia wys.

In die helder maanlig staan Morgan Setera in al sy glorie. Hy’s geklee in sy swart vibraniumkostuum en hy het sy hi-tech shades op sy oë.

“Wat de f*k?” uiter Van Briesies en sy oë rek pieringgroot.

Hy en Grecia besef albei die enigste oorlewende van Terror Gambino se manne het toe die waarheid gepraat.

Voor hul oë sien hulle hoe die donker gedaante omdraai en soos blits die donkerte in verdwyn.

“I-is daai die d-duiwel?!” stotter Grecia vreesbevange.

“Nee, dis die ding wat julle manne aangeval het!” gil Van Briesies dit uit.

Hy gaan staan weg van die boewe en wink van die polisiemanne nader.

“Gaan vang daai … wat dit ook al is! Dis hý wat verantwoordelik is vir die gemors hier!”

Terwyl die polisiemanne sukkelend die duin uithardloop, kom ’n ambulansman nader. Daar is ’n papiertjie in sy hand.

“Kolonel, kyk! Ek het dit in daardie beseerde man se hempsak gekry. Dit lyk na ’n boodskap vir iemand,” sê hy uitasem.

Kol. Van Briesies vat die papiertjie en lees die boodskap daarop. Hy raak skielik wasbleek en slip die papiertjie ongesiens aan Grecia.

Grecia lees die boodskap hardop: “Dit is maar nog net die begin, Terror Gambino. Ek kom vir jóú!”

  • Die papiertjie val uit Grecia se hand en sy oë rek pieringgroot. Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters