11 dae gelede
Billy kry nie daai nare voorgevoel afgeskud nie ...
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders. “Die Draak-orde” is SALMON SMITH se jongste verhaal. Geniet nou hoofstuk 3!

DIE groot, soliede geelhoutdeur skuif geruisloos oop toe Cerberus se motor­bestuurder voor die imposante herehuis stilhou. Billy Lewack rek sy nek om te sien wat daar binne aangaan.

’n Ysige rilling loop teen sy rug af toe hy die donker binnekant van die huis sien. Daar is geen lig in daardie vertrek wat vir hom soos ’n massiewe voorportaal lyk nie. Dit lyk of die donkerte daarbinne hom nader wink.

Sy intuïsie sê vir hom hy moet onmiddellik uit die kar spring en vir sy lewe hol.

Maar aan die ander kant is daar ’n magiese krag wat hom in sy sitplek vasgenael hou.

Dit lyk of hy geen beheer oor sy bewegings en denke het nie.

Billy besef hy het hom nou in ’n ding begewe waaruit hy nie so maklik gaan kom nie.

“Gaan jy nie uitklim nie?!” ruk ’n stem hom uit sy sieleworsteling.

Sy kop ruk op en hy sien Cerberus hier langs die motor staan.

Hy skrik vir die man se snaakse grynslag.

Weer ’n vinnige blik in die rigting van die donker voorportaal van die massiewe herehuis.

Dan klim hy tydsaam uit die motor.

Op die oog af lyk dit asof Cerberus ’n baie geduldige mens is.

Hy gaan staan langs Cerberus en dié beduie vir hom om voor te loop.

“Ons gaste loop altyd voor ons by die deur in, veral by hulle eerste besoek,” verduidelik Cerberus vinnig toe hy die vraende blik in Billy se oë sien.

Billy kyk weer na die onheilspellende, donker voorportaal en sluk die lastige knop in sy keel weg.

Hy skraap ál sy moed bymekaar en stap versigtig langs Cerberus op die oop voordeur af.

“Hydra is al in kennis gestel van jou besoek. Hy sal jou nou binnekort in die ontvangslokaal kom ontmoet,” sê Cerberus.

“Hydra? Wat vir ’n naam is dit?’” vra Billy fronsend. “Ja, en jóú naam is ook nie van hier nie!”

“Almal van ons hier het name van drake uit die verskillende mitologieë. Onthou, ons organisasie is Die Draak-orde,” verduidelik Cerberus vinnig.

“Ek is nou éérs confused!” sê Billy.

“Toe maar, jy sal weldra alles verstaan,” paai Cerberus.

“Hydra is die man wat jou na die onderhoudkamer gaan ver­gesel en daar verder met jou gaan gesels,” verduidelik hy voorts.

Hulle gaan die donker voorportaal binne. Skielik gaan die ligte aan. Billy ruk tot stilstand en staar grootoog na die prag en praal in die ruim vertrek.

As die voorportaal só lyk, dan is die sitkamer seker enorm, gaan dit deur Billy se gedagtes.

Billy se oog vang die vreemde simbool bokant die arch wat na die voorkamer lei. Hy staar ondersoekend daarna. Dis ’n driehoek met ’n vuurspuwende draak in.

“Onthou, wanneer Hydra met jou gesels, dan maak jy te alle tye oogkontak!” kraak Cerberus se stem Billy uit sy gedagtegang.

“Hy gaan die gedragskode van die organisasie aan jou verduidelik.

“Dan gaan julle alle formaliteite van jou lidmaatskap afhandel en daarna gaan julle die way forward bespreek. Dan kan jy huis toe gaan en alles sal vir jou mooi in plek val.”

Billy knik net, maar sy oë is pal gerig op die vreemde simbool bokant die arch.

Cerberus sien waarna Billy staar.

“Dit is ons organisasie se simbool daardie. Dit beeld ons visie uit. Die draak is magtig en bang vir niemand en verdelg almal in sy pad. Die drie punte van die driehoek staan vir mag, rykdom en roem.”

Die geluid van voetstappe vanuit die voorkamer laat albei in daardie rigting kyk.

’n Lang man kom gebukkend onderdeur die arch die voorportaal ingeloop. Billy se mond val oop toe hy die man se snaakse gelaatstrekke sien.

Hy staar onbeskaamd na hom. Hy het nog nooit in sy lewe so ’n lelike mens gesien nie.

Benewens die lenige, lang liggaam het die man ’n lelike kop. Die voorkop bult soos ’n massiewe tet. Aan weerskante van die kop hang twee ore wat definitief met satellietskottels kan meeding.

Die neus lyk op ’n haar na die snawel van ’n kraai en die gesigvel sal ’n turksvy groen van jaloesie maak. Die oë sit diep in die gesonke oogkasse en lyk soos die sluwe kykers van ’n slang.

Terwyl Billy wonder of die man ’n besoeker uit die buitenste ruim is, tik Cerberus aan hom.

“Wakey wakey, Billy!” sê Cerberus en beduie met die kop na die man.

“Ontmoet Hydra. Dís die man wat jou deur die hele proses van lidmaatskap gaan lei.”

Huiwerig steek Billy sy hand uit. Voor sy geestesoog sien hy al die tentakel waarmee dié vreemde wese hom gaan groet.

Hydra steek egter ’n hand na hom toe uit. ’n Rilling hardloop agter Billy se rug af toe hy die man se yskoue hand voel.

“Hydra, dit is die sanger Billy Lewack. Dit is die man wie se loopbaan ons gaan boost,” gaan Cerberus voort.

“Billy, ek is bly om jou te ontmoet,” stuur Hydra se gansstem nog ’n rilling deur Billy.

Jislaaik, die man lyk soos ’n hydra en klink ook soos een, dink hy.

“B-bly om u ook te ontmoet ... um ... mister Hydra,” stotter hy.

Hydra se klein slangogies kyk ondersoekend oor Billy. Hy wissel vlugtig ’n blik met Cerberus.

Dít ontgaan nie Billy se wakker oë nie. Hy kan net nie die kriewelrigheid afskud nie.

Skielik draai Hydra om en begin deur die voorkamer aanstap.

“Kom, volg my, Billy!” beveel hy kortaf oor sy skouer.

Billy kyk vlugtig na Cerberus. Dié beduie net hy moet Hydra volg.

Daar is ’n breë glimlag om sy mondhoeke. Vir Billy lyk dit eerder na ’n groteske grynslag.

Billy verkyk hom aan die voorkamer. Marmerbeelde en -pilare versier elke hoekie van die vertrek. Portrette van drake uit die Roomse, Chinese en Griekse mitologie hang teen die mure. Elegante glastrappe lei na die boonste verdiepings.

Hydra swenk regs in ’n lang, donker gang af. Dit lyk vir Billy soos die pad na die hel. Soos hulle in die gang afloop, skakel die ligte outomaties op ’n streep aan.

Billy wonder meteens of dit net hy en Hydra is wat op die oomblik in die massiewe huis is. Hy het nog geen ander siel gesien nie.

Hydra kom skielik voor ’n groot, soliede houtdeur tot stilstand. Hy maak die deur oop en beduie Billy moet hom volg.

Die deur gaan outomaties toe.

Grootoog staar Billy rond. Dan trek hy verbaas sy asem skerp in. Reg rondom hulle is spieëls – van die vloer tot teen die plafon.

Dan kyk Billy op. Weer snak hy na sy asem. Sy oë rek pieringgroot van skok. Hy retireer. Toe eggo sy angsgille deur die vertrek.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters