5 dae gelede
Billy hoop maar sy performance sal by val vind
 ~ 

HAAI, Sonlanders. “Die Draak-orde” is SALMON SMITH se jongste verhaal. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE jong, opkomende hip-hop artist Billy Lewack is een groot bol senuwees.

Dit is vandag sy maak-of-breek-optrede by die Maan-koerant se vyftiende verjaardag bash hier in die arboretum in die Paarl.

’n Hele paar musikante en musiekgroepe is vir dié event geboek om die skare te vermaak.

Billy het die gig deur ’n connec­tion daar by die koerant gekry.

Dit is sy groot droom om eendag ’n beroemde sanger te wees.

Hy sing al van kleins af. Eers in die Sondagskoolkoor en toe later in die skool- en kerkkoor. Hy het aan baie talent shows deelgeneem en vele sangkompetisies gewen.

Maar noudat hy in die werklike musiekbedryf is, kom hy agter dis baie straf.

Daar is baie kompetisie, en om te oorleef, moet jy perform op elke platform wat jy kry.

Hy hoor hoe die skare mal raak. Hier vanuit die VIP-area loer hy na die verhoog.

Die immergewilde disco band Die Vuurpyle tree op.

Die Vuurpyle kom uit die laat sestigerjare. Hulle is vreeslik gewild hier in Suid-Afrika, en selfs tot so ver soos Namibië. Hulle weet net hoe om die skare te vermaak.

Billy se kop draai na die skare se kant. Hy sien hoe die crowd opgewonde dans op Die Vuurpyle se bekende old-school medleys.

Hy vee vinnig die sweet van sy voorkop af. Dis nie sweet oor die bloedige hitte daar buite nie, want hier onder die beskutting van die groot markiestent, wat vir die VIP’s gereserveer is, is dit lekker koel.

Nee, dit is eerder angssweet, want hy weet nie of hy dieselfde tipe vertoning kan lewer as Die Vuur­pyle nie.

“Is djy reg virrie ding, Billy? Want djy’s volgende!”

Ashley Pietersen, die seremoniemeester, se stem skielik hier langs hom ruk hom uit sy mymering.

Billy hop soos hy skrik. Hy ruk hom vinnig reg. “J-ja, boeta Ash!” antwoord hy en forseer ’n glimlag.

Ná Die Vuurpyle se laaste song gaan die skare mal. “We want more! We want more!” word gedreunsing.

Billy se bene voel soos jellie toe hy opstaan. Uit die hoek van sy oog gewaar hy vir Karen Cronjé.

Sy sit daar eenkant tussen die ander musikante. Sy het meer as 10 jaar gelede die kompetisie Pop Idol gewen. Haar musiekloopbaan is nou redelik op dreef.

Karin glimlag bemoedigend vir hom. Dit gee hom darem ’n bietjie oemf om na die verhoog te stap.

Die pad na die stage voel vreeslik lank. Dit voel vir hom of almal se oë op hom gerig is.

By die verhoog staan hy vinnig uit die pad toe Die Vuurpyle die verhoog verlaat. So in die verbygaan sit die leier van Die Vuurpyle, Jeremiah Watson, sy hand op Billy se skouer.

“Sterkte met jou vertoning, boeta!” praat dié hom moed in.

Hy prewel saggies ’n dankie.

Billy hoor hoe die MC eers ’n paar flou jokes vertel. Sy nerves is klaar.

As hy gerook het, dan het hy seker nou al ’n hele pakkie 20’s deur sy longe gestuur.

Uiteindelik hoor hy hoe Ashley sy naam aankondig.

G’n applous klink op nie. Die skare ken hom nie!

Hoe gaan hulle hom ontvang? gaan dit deur sy gedagtes.

Billy vee vinnig ’n lastige sweetdruppel van sy regterwenkbrou af en bestyg die verhoog.

Hy waai vir die skare en sit sy beste glimlag op.

Net so hier en daar is ’n paar mense wat flou hande klap. Dit lyk meer of dit die karatewater in hulle lywe is wat hulle aanmoedig.

Hy trek los met een van sy rap songs. Sy nerves is nou vir eers vergete. Hy leef hom in sy song in. Sy klokhelder, ritmiese stem weergalm oor die arboretum heen. Hier voor die verhoog wieg die mense op die maat van sy musiek.

Dit lyk eerder of onvastheid op die voete die oorsaak is daarvan.

Toe hy sy song afsluit, is daar net so ’n flou applous. Hy probeer ’n joke maak, maar die skare kyk hom net so stroef aan.

Met die aanvang van sy tweede song lyk dit of die meeste mense in die skare eerder na die biertent daar ver agter skarrel.

Hier voor probeer ’n dronk couple jazz op die vinnige beat van sy rap song.

Dit lyk eintlik komieklik, maar hier diep binne hom weet Billy vandag is die grootste flop van sy kort sangloopbaan.

Met sy laaste song verbeel hy hom hy hoor so hier en daar ’n geboe.

Daar is nie eens ’n applous toe hy die verhoog verlaat nie.

Hy gaan sit eenkant op sy stoel, vat sy handdoek en vee weer die sweet van sy gesig af.

Sy hele plak het sommer nou geval.

Billy gaan sit kop onderstebo en bepeins sy lot.

Hy het regtig gedink hy kan dit maak in die musiekbedryf.

Hy droom al van kleins af daarvan om eendag op internasionale verhoë op te tree en die wêreld aan sy voete te hê.

Maar nou lyk dit na drome van gruis.

Hy is egter onbewus van die persoon in die netjiese snyerspak wat hom vanuit die hoek van die markiestent dophou.

Billy besluit om op te staan en eerder ’n lange te gooi.

Hy haal sy foun uit sy sak en besluit op ’n Uber om hom huis toe te vat.

Sommerso in die loop maak hy die app op sy foon oop.

Dit lyk nie eens of die skare hom herken toe hy skuins by hulle verby loop nie.

Hy gaan staan by die uitgang van die arboretum.

Daar is ongeduld en moedeloosheid op sy gesig.

Dis toe dat die grênd kar langs hom optrek.

Die agterste ruit skuif af en hy sien ’n deftig geklede man op die agterste sitplek.

Die man kyk hom vol belangstelling aan.

“Mister Billy Lewack, dit lyk of die hond jou kos afgevat het,” joke die man met hom.

Billy kyk die man verbaas aan. Hoe ken die man sy naam? gaan dit deur sy gedagtes.

“Ja, natuurlik ken ek die naam van die groot en beroemde rapper wat binnekort die wêreld aan sy voete gaan hê!” gaan die man voort.

Dis amper asof hy Billy se gedagtes kan lees.

Toe Billy dít hoor, kom daar so ’n woede in hom op.

Die blerrie man is sowaar besig om hom blatant vir ’n gat te vat.

“Is jy nou besig om my vir ’n joke te vat?!” gaan hy gal af.

Hy beduie oor sy skouer. “Jy het nie eens my swak vertoning daar binne gesien nie!”

Die man kyk Billy stip aan. “Ek behoort aan ’n organisasie wat jou musiekdroom vir jou kan waar maak.

“Kom klim langs my in, dan vertel ek jou alles!”

Billy kyk die man verbaas aan. Maar toe hy die vreemde blik in die man se oë sien, gaan daar ’n ysige rilling agter sy rug af.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters