3 maande gelede
Billy het soveel vrae, maar dinge raak ál vreemder
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders. “Die Draak-orde” is SALMON SMITH se jongste verhaal. Geniet nou hoofstuk 4!

BILLY skrik hom uit sy geloof toe sy oë op die plafon hier bokant hulle val. Sy oë rek pieringgroot van skok en hy retireer verskrik. Toe eggo sy angsgille deur die vertrekkie.

Die rede vir Billy se angs hang hier bokant hulle koppe: ’n massiewe draak wat hulle met bose, rooi oë aangluur. Die ding se bek is gesper en lyk of hy hulle nou enige oomblik met vuur gaan spuug.

Hydra, hier langs hom, bars uit van die lag oor Billy se vreesbevange reaksie.

Billy se kop ruk na Hydra, want vir hom klink die gelag eerder na die gekras van ’n kraai.

Hydra kyk vlugtig op na die plafon. “Relax, man. Dis nie ’n regte draak nie. Dit is ’n gipsbeeld van ’n draak! Hy lyk nogal real, nè?”

Billy vererg hom vir die lang man langs hom. Eintlik voel hy soos ’n moegoe oor hy sy naam nou krater gemaak het. Hy kyk weer skepties na die draak. Hy hou regtig nie van die draakgedoente nie. Dit lyk soos iets uit die hel.

“Jarra, julle sal mos my hart laat staan!” sê hy ernstig.

“Oukei, alle grappies op ’n stokkie. Kom, laat ons begin!” sê Hydra toe hy klaar gelag het. Hy trap op ’n kol iewers op die vloer. Skielik maak die vloer oop en ’n glastafel styg uit. Op die tafel is ’n bottel wyn op ys met twee kelke langsaan.

Billy verkyk hom aan die besigheid en skud net sy kop. Dit lyk of dié mense ’n klomp wynkoppe is. Moet elke proses dan nou met wyn gevier word? Hy wonder watter verrassings nog alles in dié plek vir hom wag.

Hydra staan doelbewus met sy rug na Billy en skink vir hulle elkeen ’n vol glas van die wyn.

Billy is egter onbewus daarvan dat Hydra met sy wyn peuter.

Hydra draai om en daar is ’n breë grynslag op sy lelike bakkies.

Is dit regtig dié lelike bakkies waarmee ek te alle tye oogkontak moet maak? gaan dit deur Billy se gedagtes.

“Kom, laat ons eers ’n glasie klink op jou toekoms,” sê Hydra en hou Billy se glas na hom toe uit.

Billy vat sy glas en hou dit in die lug. Hydra klink sy glas teen Billy s’n.

“Op ’n lang en roemryke loopbaan vir die hip hop artist Billy Lewack!”

Billy staar verwonderd na Hydra. Hoe weet dié man dan dat hy ’n hip hop artist is? Cerberus moes dit seker vroeër sonder sy mede­wete aan Hydra genoem het.

Hy sien hoe Hydra sy glas voor sy mond hou en sy kop agteroor gooi terwyl die inhoud in sy keel af verdwyn.

Hy gooi die wyn ook met een teug in sy keelgat af. Sy oë vang weer die draak teen die plafon toe hy sy kop agteroor gooi.

Hy ril opnuut en laat sy kop vinnig sak. Hy voel hoe die wyn in sy keel af brand. Hy vee met sy hand oor sy mond om van die lastige druppels ontslae te raak.

Weer trap Hydra op ’n strategiese plek op die vloer.

Dié keer kom twee glasstoele uit die vloer op.

Billy wonder of hier dan nie ander materiaal as glas onder daai vloer gebêre word nie.

“Kom sit op dié stoel hier oorkant my,” beveel Hydra terwyl hy homself op die ander stoel neerplak.

Billy klim versigtig op sy stoel en bevind tot sy verbasing dat dit nie van glas is nie. Dit voel eerder soos sagte jellie onder sy sitvlak.

Hy voel hoe hy salig daarin wegsak. Hy leun agteroor en maak homself gemaklik.

Sy oog vang egter die breë gryns­lag op Hydra se bakkies en dít breek sommer onmiddellik sy spoed.

“Nou kan ons gesels, Billy Lewack!” kras Hydra.

Maar dié keer klink dit of die stem ’n eggo is wat van ver af na hom toe kom.

Billy krap met sy vingers in sy ore en skud sy kop.

Hy wonder of dit dalk die lugdruk in die klein vertrekkie is wat sy ore nou laat toeslaan.

Maar elke woord van Hydra kom steeds na hom aangerol.

“Jy … gaan … die … wêreld … aan … jou … voete … hê …”

Skielik begin die vertrek om hom draai. Hydra se gesig vertoon grotesk en maak skewe beelde.

Hy lig sy kop. Dit lyk of die draak bokant sy kop lewend raak.

Vuurtonge ontsnap uit die gedrog se bek terwyl die oë helderrooi gloei.

Skielik raak die gedrog los van die plafon en kom na onder aangesweef. Billy wil gil, maar dit lyk of hy nie ’n geluid kan uitkry nie.

“Bewonderaars … van … oor … die … wêreld … heen … gaan … jou … naam … uitgil …”

Billy probeer uit die stoel opvlieg, maar hy kan nie ’n spier verroer nie. Dit voel of hy geen beheer oor sy liggaam het nie.

Steeds die eentonige eggo van die stem. Dit klink of die stem nou in sy kop is.

Hy kan glad nie meer fokus nie. Iemand peuter agter sy nek. Hy voel ’n fyn prikkelgevoel, en toe voel dit soos iets wat in sy bloedstroom rondkruip.

“Nou … is … jy … deel … van … die … Draak-orde.”

Billy voel hoe iemand sy regterhand oplig en toe die prikkeling onder sy regterduim.

“Nou … kan … jy … jou … verbind … tot … die … organi­­sasie… deur … jou ... stempel … af … te … druk.”

Hy voel hoe sy duim op iets gedruk word. Toe verloor hy sy bewussyn.

BILLY voel hoe iemand hom aan die skouer skud.

Sy oë fladder oop en hy kyk verward in die rondte.

Hy herken dadelik die binnekant van ’n kar. Hy sit op die agterste sitplek.

Dan val sy oë op die bestuurder. Die man kyk hom met ’n breë glimlag aan.

“Meneer het darem lekker geslaap, nè?” kraak die man se stem.

Billy frons. Iets maak nie sin nie. “M-maar h-hoe?” stotter hy.

Hy loer deur die venster en herken sy woning in Norwoodweg in Elsiesrivier. Weer ’n vraende blik na die bestuurder.

“Wie is jy?” vra Billy verward.

Dit is nou weer die bestuurder se beurt om te frons.

“Ek is die Uber driver, Meneer. U het my deur ons app gekontak.”

Billy vroetel in sy sak vir sy foon. Hy pluk dit uit en beloer die skerm. Hy sien die app is nog oop.

Weer loer hy vlugtig in die bestuurder se rigting.

“Waarvandaan kom ons nou?!” Daar is paniek in Billy se stem. Sy gedagtes is ’n warboel.

Die bestuurder skud sy kop. “Dit lyk my Meneer het te lekker geslaap. Ek het Meneer daar voor die arboretum in die Paarl opgetel. Toe het Meneer u adres aangegee en aan die slaap geraak.”

Billy skud sy kop. Daar is groot fout! Iets groots en geheimsinnigs het met hom gebeur. Iets wat om die een of ander rede uit sy geheue verwyder is.

Die skielik besef dat hy moontlik in doodsgevaar verkeer, stuur ’n ysige rilling teen sy rug af.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters