2 maande gelede
Bennie vertel sy storie aan die vriendelike oom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Beste­ Krismisboks is die jongste pennevrug van SALMON SMITH. Klein Bennie Oormeyer van Elsiesrivier vat die trein Kaap toe om op die grote Tafelberg na Jesus te gaan soek. Dit is nadat sy maatjie Klasie hom dié storie vertel het. Bennie se moed val in sy skoene toe hy daar bo kom en besef Tafelberg strek nie tot in die hemel nie. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk.

‘SEUN, is iets fout?!” ruk ’n dik manstem Bennie uit sy slaap.

Bennie se kop ruk op. Hy besef hy het hom so wragtig aan die slaap gehuil.

Dít is toe sy oë op die man hier voor hom val.

Hy sien die spierwit kleed wat die man aan het.

Hy kyk in verwondering na sy spierwit baard.

Hy het al ’n prentjie van dié man in baie mense se huise gesien. Dis toe die besef hom soos ’n skoot yswater tref …

“I-Is j-jy Jesus?!” hyg hy.

’n Frons verskyn op die man se vriendelike gesig.

“Nee, Seun. Ek is pastoor Johnny Vermeulen van New Birth Mini­stries in Bishop Lavis.”

Bennie se gesig versomber. Sy soektog na Jesus is toe nie voltooi nie.

Daar is ’n bekommerde uitdrukking op past. Vermeulen se gesig toe hy sien dat die seun hier voor hom verslete, vuil klere aan het en sy kaal voete aan die skurwe kant is.

Past. Vermeulen kyk vlugtig in die rondte.

“Waar is jou ouers as jy alleen hier sit? Wat soek jy hier, Seun?” rammel hy bekommerd die vrae af.

’n Traan begin oor Bennie se linkerwang biggel.

“E-Ek is hier om na Jesus te soek!” snik hy.

“ ’n Maatjie het vir my gesê Jesus bly in die hemel en Tafelberg strek tot in die hemel. Maar my maatjie het vir my gelieg!”

Nou stroom die trane oor Bennie se wange.

Past. Vermeulen se hart vermurwe opeens vir die blote onskuld van die seun.

Hy gaan sit langs Bennie op die rots.

“Seun, wat is jou naam en waar woon jy?” vra hy.

“My naam is Bennie Oormeyer en ek bly innie Elsies in, Uncle.”

“Nou hoekom soek jy dan vir Jesus, Bennie?”

Net daar breek die damwal in Bennie se gemoed.

“My pa en ma het nie tyd vir my nie, Uncle. Hulle is nie lief vir my nie!” snik-huil hy.

“Hulle drink baie en baklei tot laat in die aand, en dan moet ek honger gaan slaap.

“Ek het al gehoor van die wonderlike man wat my maatjies Jesus noem en sy liefde vir kindertjies. Ek soek Jesus vir ’n Krismisboks.

“Ek wil hê Hy moet met my pa en ma praat sodat hulle kan ophou drink en vir my kan lief wees!” snik hy.

Past. Vermeulen plaas sy arm om klein Bennie se skouers en trek hom teen hom aan.

“Bennie, ek kan jou aan Jesus voorstel, maar dan moet jy saam met my kom,” troos hy.

Bennie se kop ruk op. “Rêrag, Uncle?!”

Die knaap vee die trane vinnig uit sy oë.

Past. Vermeulen staan op en kyk na die groepie mense wat eenkant op hom wag.

“Ek en ’n paar van my gemeentelede het hier op die berg kom bid. Jy kan saam met ons kom.

“Ek gaan jou dan na my huis in Bishop Lavis vat, dan gaan ek jou alles van Jesus vertel. Ek gaan jou aan Hom voorstel.”

“Bly Jesus by Uncle se huis?!” vra Bennie grootoog.

’n Ligte glimlag speel om past. Vermeulen se mondhoeke.

“Nee, Bennie, nie in liggaam nie, maar in gees.”

Daar is nou ’n verwarde uitdrukking op Bennie se gesig.

“Kom, Bennie, my vrou, Lisbet, bak die lekkerste koek, dan gee ek jou ’n lekker groot stuk.”

Bennie se gesiggie vrolik sommer weer op.

“Jissou, Uncle, dit sal lekker wees!”BENNIE verkyk hom aan die dubbelverdiepinghuis van past. Vermeulen toe hulle voor die gebou in Bishop Lavis stilhou.

“Jissou, Uncle het ’n moerse huis!” gil Bennie opgewonde.

“Asseblief, Bennie, moenie weer sulke taal gebruik nie!” vermaan past. Vermeulen hom ferm dog vriendelik.

In die huis ontvang antie Lisbet Bennie met ope arms.

Past. Vermeulen het haar vroeër per selfoon ingelig van die verwikkelinge rondom Bennie.

Bennie voel sommer tuis toe hy sien hoe vriendelik past. Vermeulen en sy vrou is.

Antie Lisbet laat Bennie eers ’n lekker warm bad neem en gee hom een van haar kleinkinders se klere wat sy hier bêre, om aan te trek.

Bennie geniet ’n heerlike bord kos.

Die blink strepe sit sommerso oor sy wange, so lekker eet hy.

Vir nagereg kry hy ’n lekker stukkie koek, wat hy ook gulsig verslind.

Ná ete gaan sit past. Vermeulen en Bennie in die sitkamer.

“Bennie, ek en antie Lisbet het besluit jy moet vir eers hier by ons bly,” sê past. Vermeulen skielik.

Bennie se gesiggie straal.

“Regtig Uncle?! Jissou, dit sal mos lekker …”

Skielik onthou hy iets …

“M-My ma en pa …?” vra hy onseker.

“Moenie worry oor jou ma en pa nie, Bennie. Ek sal met hulle gaan praat,” stel die pastoor hom gerus. “Maar dan moet jy my alles vertel van jou lewe en die dinge daar by julle huis.

“Dan gaan ek vir die res sorg en jou dan alles vertel van die wonderlike Jesus.”

Bennie se gesiggie straal van opgewondenheid. “Dankie, Uncle, Pastor!”DIS vroeg die volgende oggend en past. Vermeulen ry stadig in Clarestraat in Elsiesrivier af.

Bennie ken nou wel nie sy adres nie, maar hy het mooi verduidelik waar hulle huis is.

Hy herken sommer dadelik die huis volgens Bennie se beskrywing.

Hy stop voor die huis, klim uit sy motor en stap by die windskeef hekkie in. Die deur is op ’n skrefie oop en hy klop daaraan.

Ná drie kloppe maak ’n vrou met deurmekaar hare die deur verder oop.

Sy sien die netjies geklede man wat hier voor haar staan.

Sonder om te groet, draai sy om en roep na binne: “Gert, die man is sieke hier vi djou!”

Sy los past. Vermeulen net so daar voor die deur en verdwyn na binne.

Bennie se pa kom sleepvoet na die deur aan.

Hy kyk past. Vermeulen so op en af aan.

“Is djy van daai Jahoewa Wit­ness­es wat weer hie kô twak praat?” vra hy onbeskof.

  • Môre: Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters