6 maande gelede
Bennie sê pastoor ­­moet nou maar by Jesus­ vra vir hulp
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Bennie Oormeyer van Elsiesrivier loop pastoor Johnny Vermeulen op Tafelberg raak en gaan met hom huis toe. Die pastoor belowe hy gaan die kind aan Jesus voorstel. Bennie stort sy hart uit oor sy ouers nie vir hom omgee nie en te veel suip en baklei. Geniet die slot van SALMON SMITH se verhaal Die Beste­ Krismisboks.

PASTOOR Johnny Ver­meulen sien Bennie se pa, Gert Oormeyer, neem ’n dreigende houding in.

“Meneer Oormeyer, ek is pastoor Johnny Vermeulen en ek is hier om met u en u vrou te praat oor julle seun, Be-”

“Waar is daai bliksempie?! As ek hom innie hande kry, dan moer ek hom tot in Krismis!” val Gert die pastoor in die rede.

“Bedaar, meneer Oormeyer. Bennie is veilig by my huis.

“En kan ek maar asseblief binnekom sodat ons soos beskaafde volwassenes kan praat?”

TOE past. Vermeulen later huis toe kom, wag Bennie hom met groot ogies by die hekkie in. “Wat sê my pa-hulle, Uncle Pastor?”

“Met hulle gaan dit nog piekfyn, Bennie,” omseil hy vinnig die vraag.

“Kom ons gaan binne toe dan kan ons lekker gesels, Grootman.”

’n Ligte glimlag speel om pastoor Vermeulen se mondhoeke, maar diep binne hom wroeg dit.

Bennie se ouers was plainweg onbeskof met hom toe hy hulle vertel het dat Bennie by hom oornag het.

Hulle het hom selfs met die gereg gedreig.

Maar met hulp van Bo het hy hulle tot bedaring gebring en het hulle oor Bennie gesels.

In die sitkamer maak hy Bennie oorkant hom sit. “Bennie, ek en jou ouers het oor jou gesels.

“Hulle is ’n bietjie stubborn, maar ek gaan weer daar ’n besoek gooi.

“Ek moet dit by hulle tuisbring dat jou welstand van die uiterste belang is.

“Maar ek glo met hulp van Bo kan ons hulle harte verander.”

“Uncle Pastor moet vir liewe Jesus vra om te help.

“Hy is lief vir kindertjies,” kom dit grootoog van Bennie.

Pastoor Vermeulen se hart vermurwe oor die blote onskuld van die klong. Hy vou sy arms om Bennie en gee hom ’n drukkie.

“Natuurlik is Jesus lief vir kindertjies, Grootman. En Hy gaan ons help sodat ons jou ouers op die regte pad kry.

“Maar nou gaan ek jou eers vertel van hierdie wonderlike Jesus …”DIT is Oukersaand en Bennie is nog by pastoor Vermeulen en sy vrou.

Bennie het nou ’n idee van wie Jesus is. Hy weet Jesus is gebore om vir die wêreld se sondes te boet sodat niemand verlore gaan nie.

Hy besef Jesus bestaan in ’n geestelike vorm en leef in hulle harte.

En môre, op Jesus se verjaardag, gaan Bennie saam kerk toe om meer te leer oor die ge­nade van Jesus.

Hy en antie Lisbet is alleen tuis en pastoor Vermeulen is uit op sy huisbesoeke.VROEG op Kers­oggend sit Bennie en antie Lisbet in die voorste banke van die kerk.

Hy is blink uitgevat in ’n pragtige kerkpakkie wat die egpaar spesiaal vir hom gekoop het.

Hy verkyk hom aan die pragtige binnekant van die kerk.

Toe pastoor Vermeulen die altaar bestyg, kyk hy vlugtig oor die gemeente en ’n ligte glimlag speel om sy mondhoeke.

Daar is ’n tevrede uitdrukking op sy gesig toe sy oë op die agterste ry banke val.

“Kom laat ons bid!” weergalm sy diep stem deur die kerk.

Deur die hele diens luister Bennie in verwondering na die wonderbaarlike verhaal van Jesus se geboorte.

Ná die diens roep pastoor Vermeulen hom by een van die kerkkantore in.

Toe hy daar binne kom, val sy mond oop van verbasing toe hy die twee persone by die tafel sien sit.

Hy het hulle byna nie herken nie. Hulle is netjies uitgevat in hulle beste kerkklere – en hulle lyk … nugter.

“M-Ma?! P-Pa?! W-Wat maak julle hier?” vra hy verward.

Gert en Henna lyk ’n bietjie onseker oor hoe om die situasie te hanteer. Hulle kyk na pastoor Vermeulen vir help.

“Jou ouers was vandag in die kerkdiens, Bennie. Hulle het agter gesit,” kom Vermeulen tot hulle redding.

Maar daar is nog onduidelikheid op Bennie se gesiggie te lees.

Daar is so baie vrae...

“Sit, Bennie, sodat ons kan praat,” kom dit saaklik van pastoor Vermeulen.

Bennie skarrel vir die stoel langs sy ouers.

Pastoor Vermeulen neem oorkant hulle stelling in.

“Bennie, elke dag vandat jy daar by my bly, het ek by jou ouers besoek afgelê,” begin pastoor Vermeulen praat.

“Aan die begin het dit bloedsweet gekos om tot hulle deur te dring.

“Maar deur die genade van die Here het ek hulle oë laat oopgaan.

“Hulle kan sien wat hulle tipe lewens­gewoontes aan jou doen.

“Hulle het besluit om die wyn op te gee, ter wille van jou.”

Bennie kyk vlugtig na sy ouers en ’n tikkie opgewondenheid is by hom te bespeur.

“Hulle het belowe om hulle lewe te verander en hulle te bekeer,” gaan Vermeulen voort.

“Ek het jou pa ’n werk in my verf-onderneming belowe sodra die festive season verby is.”

Nou speel ’n glimlag om pastoor Vermeulen se mondhoeke toe hy Bennie aankyk.

“En ons gaan nou werk aan jou toekoms, Mannetjie.

“Jy gaan van nou af by my en antie Lisbet bly totdat jou ouers weer op die been is.”

Bennie se gesig straal terwyl hy na pastoor Vermeulen kyk.

“Rêrag, Uncle Pastor?! Jislaik!”

“En dan gaan ons jou in die skool sit sodat jy ook eendag gelerentheid agter jou naam het.”

Bennie spring op en gooi sy arms om pastoor Vermeulen se nek.

“Dankie, Uncle Pastor!”

Hy hardloop terug na sy ouers en gooi sy armpies ook om hulle nekke.

“Dankie, Mammie en Daddy! Ek is so lief vir julle!”

Trane stroom oor Bennie en sy ouers se wange terwyl hulle mekaar vasdruk.

Pastoor Vermeulen voel ’n nattigheid agter sy ooglede, terwyl hy hulle aanstaar.

Met traan-ogies kyk Bennie na bo. “Dankie, liewe Jesus, vir die beste Krismisboks. Dankie vir die beste ouers.

“Dankie vir die beste pastor! En dankie dat U lief is vir kindertjies!”

Nóú stroom die trane behoorlik oor pastoor Johnny Vermeulen se wange...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters