6 maande gelede
Bennie se moed val in sy skoene oor die liegtery
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Beste­ Krismisboks is die jongste pennevrug van SALMON SMITH. Geniet die tweede hoofstuk!

DIT is net ná middernag toe Bennie stilletjies by hulle huis uitsluip en met sy rugsakkie op sy rug in die pad afhardloop.

Hy besef nie die gevare daarvan om as kind alleen hier in Elsies­rivier se strate te wees nie.

Nee, hy word nou net gedruk deur sy begeerte om Jesus te ontmoet.

Hy wil vir Jesus vra om sy ma en pa se lewe te verander sodat hulle ophou drink, ophou baklei en weer lief is vir hom, wat Bennie is.

Hy hardloop in die rigting van Connaughtweg.

Hy het al gesien dat mense daardie pad loop wanneer hulle treinstasie toe stap.

“Hei, djy, kô hieso!” hoor Bennie iemand agter hom aanroep.

Hy loer bangerig oor sy skouer en sien ’n groepie youngsters in die pad aangedrentel kom.

Hulle begin hom skielik agternasit.

Bennie sit meer spoed aan en hardloop sommer kortpad deur Cravenby Estate.

Hy spring oor ’n huis se voormuurtjie en nael deur die agterplaas.

’n Hond kom op hom afgestorm. Maar hy is vinnig agter oor die muur en hy hoor hoe die hond se tande hier kort agter hom op mekaar klap.

Hy hardloop vinnig deur nog ’n erf voordat hy in die ander straat te lande kom.

Sy hart klop woes in sy bors en sy asem jaag wild.

Bennie loer in die straat op en af.

Hy sien geen teken van sy agtervolgers nie.

Hy draf al langs Connaughtweg tot by die Parow-stasie.

Die stasie lyk verlate, afgesien van ’n paar bergies wat onder kartonbokse rondom die taxi rank slaap.

Hy gaan sit met groot oë op die verste punt van die platform en loer bangerig om hom rond.

Met dagbreek sluimer hy net in toe die geluid van ’n trein se wiele hom laat regop sit.

Hy sien die trein stadig langs die platform inkom.

Hy spring vinnig op en staan eenkant toe, terwyl die trein tot stilstand kom.

Die deure gaan oop en van die pendelaars peul daaruit.

“Uncle, gaan die trein Kaap toe?” vra hy aan iemand wat verby hom loop.

Die man kyk hom half geïrriteerd aan.

“Ja, man, hy gaan Kaap toe!” antwoord hy bars.

Bennie spring sommer vinnig by die trein in en gaan sit in die verste hoekie.

By elke stasie stop die trein om mense op en af te laai.

Bennie is te bang om vir die ander mense in die trein te vra waar die Kaap is.

Sy ma het net vir hom gesê Tafelberg is in die Kaap.

So, hy moet net uitkyk vir ’n hoë berg, dan sal hy weet wanneer hy in die Kaap is.

Toe die trein al rukkend van Woodstock-stasie af wegtrek, besluit Bennie om by die venster uit te kyk.

Hy sien die pragtige Tafelberg en sy hart bons woes hier in sy borskas.

’n Miswolk hang oor die grote berg en Bennie besef sommer onmiddellik dat dít die hoë Tafelberg is wat hom tot in die hemel sal bring.

Terwyl die trein op Kaapstad-stasie stilhou, spring hy flink uit en hardloop in die rigting van die uitgang.

“Hei! Kom hieso! Waa’s djou ticket!” skree een van die ticket controllers agter hom aan toe hy deur die hek hardloop.

Maar hy kyk net voor hom en hardloop by die stasie uit tot in Strandstraat.

Hy gaan staan stil en verkyk hom aan die klomp karre en hoë geboue hier om hom.

’n Benoude gevoel pak hom nou beet.

Hoe gaan hy oor die besige straat kom, want die berg is dan nog so ver?

“Kom, seuntjie, gee my jou hand!” hoor hy skielik iemand hier langs hom sê.

Hy kyk op in die vriendelike gesig van ’n man.

Instinktief steek hy sy handjie uit en die onbekende man help hom oor die besige Strandstraat.

Hy prewel ’n sagte dankie aan die man voordat dié tussen die menigte verdwyn

By die ingang van die Goue Akker val Bennie se oë op ’n prentjie van Maria en Josef rondom die krip met die allerfraaiste babatjie in, teen een van die ruite.

Die prentjie amuseer hom nou geweldig.

“Hei! Maak dat jy hier wegkom! Julle straatlaities wil weer die mense rob!” klink die woeste stem van ’n polisiebeampte op.

Bennie maak hom vinnig uit die voete.

Nou vestig hy sy oë op die berg daar voor hom.

Hy besluit hy gaan maar die lang pad aandurf.

Hy stap al met die opdraande Kloofnekweg op.

Hy is moeg en uitgeput toe hy uiteindelik by die onderste sweefspoorstasie aankom.

Hy verkyk hom aan die klomp vreemde mense wat by dié snaakse, vaal gebou rondmaal.

Grootoog kyk hy na die snaakse ronde voertuig, wat op ’n kabel opvaar en in die mis daarbo verdwyn.

Hy wonder opnuut of die mense hier om hom ook op soek is na Jesus.

Almal kyk dan ook teen die berg op. Bennie loop toe tot by ’n vrou met ’n kamera in die hand en met so ’n vaal breërand-hoed op haar kop.

“Antie, is die hemel daarbo op die berg?” vra hy.

Die vrou kyk hom snaaks aan. Sy babbel skielik iets wat hy nie verstaan.

Hy besluit maar om self tot daar bo te gaan om te gaan kyk.

Hy loop al langs die teerpad tot by ’n spot waar ’n voetpaadjie met die berg opgaan.

Dit is byna twaalfuur toe Bennie uitgeput daar bo-op die berg aankom.

Die mis het teen dié tyd al weggetrek en die lug is skoon.

Hy kyk oor die plato en sien baie mense wat ook hier bo ronddwaal.

En hier is net vaalgrys rotse en kort bossies so ver die oog kan sien.

Bennie kyk op en sien die wye blou hemel strek nog baie ver bokant hom uit.

Sy moed val sommer in sy skoene.

Klasie het vir hom gelieg. Tafelberg strek nie tot in die hemel nie.

Weens bedroefdheid gaan sit Bennie eenkant op ’n rots en begin sommer bitterlik huil oor die teleurstelling …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters