Verlede maand
Bennie is vas van plan om Jesus op Tafelberg te soek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Beste Krismisboks is SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

KLEIN Bennie Oormeyer se vuil, ronde gesiggie vertrek van opgewondenheid terwyl hy sy drie maatjies aanstaar, hier waar hulle in die speelparkie in Clarestraat in Elsiesrivier sit.

Sy bruin ogies is pieringgroot.

“Ja, Jesus is gebore op 25 Desember. En oor sewe dae is dit Kersfees, dan vier ons Sy geboorte,” gaan Boytjie voort, terwyl Pietie en Klasie hulle koppe woes knik soos hulle dit beaam.

“Ja, ons pastor het gesê Jesus het gekom om ons probleme weg te was.”

“Ja, my Sondagskooljuffrou het ook gesê Jesus is in ’n stal gebore en toe bring drie wyse manne vir hom geskenke,” kap Pietie van die kant af.

“Ja, dis hoekom ons ook geskenkies van Vader Krismis kry wanneer dit Krismis is,” gooi Klasie grootoog sy stuiwer in die beursie.

Maar Bennie is min gespin oor die Krismisgedoente waaroor sy maatjies praat.

Hy is meer geïnteresseerd in die man wat hulle “Jesus” noem en probleme kan weg was.

Hy het nog nooit van Hom gehoor nie. Hy wil meer weet …

“Wie is die Jesus?!” vra hy skielik.

Sy maatjies snak gelyktydig na hulle asems en kyk hom geskok aan.

Hulle kan nie glo Bennie het nog nie van Jesus gehoor nie.

Almal weet dan van Jesus en juis dié tyd van die jaar word baie van Hom gepraat.

“Hoe ken jy dan nie vir Jesus nie?! Het jou ma dan nog nie vir jou van Jesus vertel nie?!

“Waar gaat julle dan kerk?!” peper Boytjie vir Bennie met die vrae.

’n Weemoedige trek verskyn op Bennie se gesig. Hoe gaan hy nou vir sy maatjies verduidelik dat sy pa en ma eerder op die smokkeljaarte rondsit as om aandag aan hom te gee. En hy word dan elke dag aan sy eie genade oor­gelaat.

Dan baklei hulle ook saans as hulle dronk van die jaarte af kom.

Hy het selfs nog nie eens die binnekant van ’n skool gesien nie, wat nog te sê ’n kerk.

“Bennie, hoevil jaar oud is jy nou?” vra Boytjie toe hy geen antwoord uit Bennie kry nie.

“E-Ek wiet rêrag nie,” antwoord hy skamerig. “My ma het eenkeer vir iemand gesê ek’s sewe.”

Boytjie skud sy kop in ongeloof. “En jy het noggie eens gehoor van Jesus nie?!

“Joh! Ek kan dit nie glo nie!” sê hy.

Bennie laat sak sy kop en krap met sy wysvingertjie in die sand. “Nee. Ek kennie vir dié Jesus nie,” brom hy onderlangs.

“Weet jy, Jesus is God se seun?!” kom dit weer opgewonde van ­Boytjie­ af.

Bennie se kop ruk op. “Werklik?!” snak hy na sy asem.

“Ek het al my ma en pa hoor praat van God.

“Veral as hulle so skel en baklei, dan noem hulle dáárdie naam!”

Die ander drie bars uit van die lag vir Bennie se uit­lating.

“Nee, hulle gebruik die Here se naam as ’n vloekwoord wanneer hulle so baklei,” antwoord Pietie.

“Hulle gaan gestraf word daarvoor.”

Bennie se gesig raak weer bewoë.

“Maar Jesus is genadig en Hy is baie lief vir kinders!” ruk Boytjie hom weer uit sy bewoë gemoed.

“Werklik?! Is dié Jesus lief vir kinders?!” hyg Bennie dit uit.

Sy hart speel nou tamboer in sy binneste.

Miskien kan dié Jesus hom help dat sy pa en ma kan ophou drink en weer lief raak vir hom, dink hy skielik opgewonde.

Sy ma-hulle drink asof drank uit die mode gaan. Só het hy een van die anties oorkant hulle straat hoor sê.

Hy wat Bennie is, het gevoel hoe hy rooi raak van skaamte en toe maak hy maar asof hy nie die antie gehoor het nie.

Maar die antie se woorde het hom bygebly: Sy mense hou drank in die fashion.

“Waar bly Jesus?” vra hy vinnig.

“Hy bly in die hemel,” antwoord Boytjie vinnig voordat die ander kan antwoord. Want hy wil alleen slim klink.

Bennie se gedagtes is nou in die hoogste versnelling. “Hoe kom ek daar uit?” vra hy haastig.

Voordat Boytjie kan antwoord, spring Klasie vinnig op die wa: “Net die hoogste berge strek tot innie hemel.

“As jy daarteen kan opklim, kan jy tot daar kom.”

Almal kyk nou met gemengde gevoelens na Klasie.

Boytjie en Pietie wonder waar kom Klasie aan die snert wat hy nou kwytgeraak het, terwyl Bennie hom met groot, onskuldige ogies aankyk en dink dat sy droom nou uiteindelik bewaarheid gaan word.

“Het ons berge hier in die Kaap wat tot innie hemel is?” vra hy vinnig.

“Ja, Tafelberg. Dit is baie hoog en strek tot in die hemel,” antwoord Klasie vinnig voordat die ander twee hom kan voorspring.

“Dis amper die hoogste, hoogste berg in die wêreld.

“Ál die ander berge kyk op na Tafelberg.

“Dit is die plek waar die aliens mos ’n tafel gemaak het waar hulle kan lunch en supper.”

Dit is ’n baie opgewonde Bennie wat daardie middag huis toe hardloop.

Hy hardloop by hulle mankolieke tuinhekkie in en bars by hulle huis se voordeur in. Hy sien sy ma sit met twee biere voor haar terwyl sy pa se snorkgeluide uit die slaapkamer opklink.

Henna Oormeyer kyk op toe sy hom hoor inkom.

Haar hare is deurmekaar en sy is steeds in haar vuil, pienk gown. Jare se drankmisbruik het gemaak dat haar plooie ook reeds plooie gekry het.

Arrive Alive behoort haar in ’n advertensie te gebruik as afskrikmiddel vir mense wat dronk wil bestuur.

Die vuil skottelgoed staan steeds in die opwasbak en ’n paar kokkerotte speel sokker daaroor.

Maar Bennie is min gepla oor sy ma se toestand en hulle huis. “Ma, ken Ma vir Jesus?!” vra hy opgewonde.

Henna gluur haar seun aan en bars dan uit: “Djy moetie van buite af kô en my kô k*k vra nie!”

Maar sy ma se uitbarsting bring Bennie allermins van stryk. “Ma, waar is Tafelberg?” volg hy sy eerste vraag op.

“Dis da innie Kaap! Djy moet ’n trein vat tot da!” antwoord sy sonder om te dink.

Dan vernou haar oë skielik.

“Hey, watse k*k wil djy nou wee aanvang? Jong, ek moer vi djou!”

Daardie aand neem Bennie ’n besluit …

Sy rugsak is gepak met die nodige goed wat hy gaan nodig kry.

Terwyl sy pa en ma hulle roes af slaap, sluip hy stilletjies by die voordeur uit.

Hy gaan nou vir Jesus soek …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters