6 maande gelede
Antonio kry kans om te wys hy het geleer uit sy foute
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Krismis Is Vol Memories is CHRISTO MEYER­ se bydrae tot ons Kersverhale. Baasspeurder Antonio de Volvo se dag begin met ’n helse babelas. Hy dek maar ouder gewoonte die tafel net vir homself.­ Sy vrou, Monica, het hom eendag net so gelos en boonop hulle tweeling, Lauren en Envor, saam met haar oorsee geneem. Hy sit juis en dink niemand sal eens by hom kom inloer nie, toe is daar ’n klop aan die deur. Wat hou dié Kersdag vir baasspeurder De Volvo in? Geniet nou die laaste hoofstuk!

MY OOG val op die horlosie teen die muur. Kwart voor twaalf.

Dis byna etenstyd.

Net soos al die ander jare vandat Monica­ en die tweeling uit my lewe verdwyn het, sal ek weer die tafel net vir myself dek.

Wie sien dan nou kans om vir ’n afgetrede speurder van oor die 60 jaar te kom kuier?

Nie eens ’n oud-kollega kom loer van tyd tot tyd in nie.

Baie van hulle is seker nog die moer in omdat ek korrupsie by die plaaslike tak uitgelig het.

Die brandewyn laat my kop draai.

Ek dink ek het genoeg gehad vir eers.

Ek moet eet. Vanoggend was ek nie lus vir ontbyt nie. Babelas is niemand se speelmaat nie.

Ek dek die tafel, gaan sit en maak gereed om weg te val.

Ek dink aan die straatkinders wat vandag niks het om te eet nie.

Opnuut raak ek kwaad vir die regering oor ’n “beter lewe vir almal”.

Wat het van daai belofte geword?

Buite hou weer ’n voertuig stil. Ek gaan nie weer deur die venster loer om te kyk wie dit is nie.

Ek moet kos in my maag kry. Net bier en brandewyn is nie gesond nie. En op my ouderdom ...

’n Klop aan die deur. Ek laat sak my mes en vurk.

“Wie’s daar?”

Geen antwoord nie.

Die volgende klop is harder.

Wag, laat ek maar gou gaan kyk wie dit is.

Seker weer een van die bure wat kom kla oor Snoesie wat op hulle dak loop.

Ek maak die deur oop en skrik my lam. ’n Oomblik lank kan ek nie beweeg nie.

“Hallo, Pa. Gaan Pa my nie innooi nie?”

Ek glo dit nie. Dit kan nie wees nie. Ek beter die drank los. Die brandewyn laat my stemme hoor en gesigte sien.

“Lauren?”

“Dis ek, Pa.”

Ek stap nader aan haar, steek my arms uit en druk haar vas.

“Wat ruik so lekker? Lyk my ek is net betyds.”

“Kom in en skep vir jou. Daar is oorgenoeg.”

“Pa het oud geraak.”

“En jy is sowaar ’n grootmens. Twintig jaar is ’n lang tyd. Jy was elf toe julle hier weg is. Is jy al getroud?”

Op daardie oomblik kom maak ’n seuntjie van so sewe sy verskyning langs die tafel.

“Pa, dis Pa se kleinseun. Sy naam is ook Antonio.”

Ek val byna agteroor.

“Lauren, bedoel jy ...”

Sy knik. Ek sien ’n traan oor haar wang rol.

“Dis alles Ma se skuld, Pa. Ons wou hier by Pa bly. Daar was niks wat ons kon doen om haar te keer nie.”

“ ’n Mens praat nie so van jou ma nie, Lauren. Sy’t maar net gedoen wat sy gedink het die beste is.”

“Ja, maar toe ons in China kom, het Ma presies dieselfde gedoen. Sy het Engels gegee by ’n privaat skool en min tyd aan my en Envor gegee.

“Haar werk het eerste, tweede en derde gekom. Sy was nie dieselfde vrou met wie ons op die vliegtuig geklim het nie.”

“Waar is julle ma?” wurg ek uit. “Hoe gaan dit met haar?”

’n Ongemaklike stilte volg.

“Ma is dood, Pa.”

“Wat sê jy daar?”

“Pa het reg gehoor. Ma het haar stryd teen kanker verloor.

“Ek het vooruit gekom om te kom reëlings tref. Ma het altyd gesê sy wil in haar geboorteland begrawe word.”

“Wat het van Envor geword?”

“Envor sal hom binnekort by ons aansluit. Hy is ’n dokter by die hospitaal waar Ma afgesterf het.

“Hy is nog nie getroud nie, maar daar is wel ’n spesiale persoon in sy lewe.”

“En watter beroep beoefen jy?”

“Ek is nou ’n rekenmeester.”

“Ek onthou jy het al van kleins af van syfers gehou. Ek is trots op julle albei.”

Sy vertel my van die eerste paar maande in die vreemde, hoe hulle gesukkel het om aan te pas.

“Ek het elke aand gehuil om huis toe kom. Eers baie maande later het dit beter geraak.”

“Jou ma ... Was daar iemand anders in haar lewe ná my?”

“Ek ... ek wil liewer nie daaroor praat nie.”

Haar gesigsuitdrukking verraai haar. So, daar was iemand anders.

Ek kan haar ma dit seker nie verkwalik nie. Ek het die skei­papiere geteken. Monica was vry om te date wie sy wou.

Lauren vertel my van haar man, waar en hoe hulle ontmoet het. Hy klink na ’n aangename mens.

Ons praat oor die ou dae. Daar was baie aande dat ek by die huis gekom het, dan slaap hulle al. Sommige oggende is ek douvoordag werk toe.

Ek het ’n passie gehad vir speurwerk. Daar was geen ander beroep wat ek wou beoefen nie.

Dit het my geruk as ek op ’n morsige moordtoneel kom. Ek kon nie anders as om alles in my vermoë te doen om sulke moordenaars te vang nie.

Ek was nie altyd by met die kinders se prysuitdelings en verjaardae nie. Soms was alles so ’n gejaag dat ek eers ’n dag later onthou het die tweeling het verjaar.

Een ding waaroor ek tot vandag spyt is, is dat ek te min gehaltetyd met my kinders deurgebring het.

As ’n mens net die horlosie kan terugdraai en jou foute regmaak ...

Ek was lief vir Monica. Sy was die enigste vrou vir my. Maar sy het ook haar drome gehad. Sy het dit net nooit met my bespreek nie.

Ek sou nie in haar pad gestaan het nie. Nou is sy vir ewig weg.

Ek het so gehoop ek kry ’n kans om vir haar te sê ek is jammer dat ek haar en die kinders afgeskeep het. Ek wil nie dieselfde fout maak met my kleinseun nie.

Hy moet van kleins af weet sy oupa is daar vir hom. ’n Oupa wat hom op die hande sal dra.

“Grandpa,” sê hy en kyk my met stout ogies aan.

“Yes, Antonio?”

“Will you teach me Afrikaans?”

My hart klop warm.

“Of course I will teach you,” antwoord ek opgewonde.

Hy gooi sy armpies om my nek.

Ek lag hardop. Antonio kyk my verward aan. Hy weet dit nog nie, maar sy oupa het klaar besluit wat sy bynaam gaan wees.

Dié is ’n Kersfees wat ek nooit sal vergeet nie.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters