Verlede maand
Afgryslike nuus ruk dorpie soos ’n donderstorm
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons begin vandag met ’n nuwe verhaal. Yolandi van Kanarievlei is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

KANARIEVLEI is een van daardie plekke waar daar byna nooit iets nuuswaardigs plaasvind nie.

Oor die algemeen leef die inwoners in vrede met mekaar.

Anders as in stede, het kinders nog respek vir volwassenes en in hierdie geweste word dwelmhandel en bendebedrywighede as vloekwoorde beskou.

Natuurlik is daar kinders wat skelm rook en af en toe kattekwaad aanvang, maar dinge ruk nooit so handuit dat die polisie ingeroep hoef te word nie. Sondae gaan almal, jonk en oud, kerk toe.

Die dorp is aan die agterkant van die wêreld geleë.

Iemand wat nie weet nie, kan maar gaan soek; hy sal dit nêrens op ’n landkaart vind nie.

Die dorpie is so weggesteek dat jy maklik sal verdwaal as jy ingedagte daar verbyry.

Op ’n dag verander alles. Afgryslike nuus ruk die Karoodorp soos ’n verwoestende donderstorm: Armand van Jaarsveldt, ’n taalonderwyser en rugbyafrigter, sit agter tralies.

Die polisie het hom die naweek by sy huis gearresteer.

Een van die leerders het ’n klag van seksuele molestering teen hom ingedien.

Vinniger as ’n veldbrand versprei die nuus.

Dit haal die voorblad van die plaaslike koerant. Van die tannies wat op die stoep sit, verstik byna in hul tee.

Die tuisgebakte oumabeskuit proe meteens soos gal op hulle tonge. Hulle oë rek terwyl hulle mekaar fronsend aangluur.

Onmiddellik hou hulle op om oor ditjies en datjies te gesels, elkeen skielik besig met haar eie gedagtes.

Dit kan mos nie wees dat ’n wolf in skaapsklere hier onder hulle neuse bedrywig is nie. Of kan dit?

Ander se mond hang oop van verbasing.

Die teleurstelling is duidelik op hul gesig te sien. Hulle sê nie veel nie, maar hul lyftaal wys hulle is erg omgekrap.

’n Ouderling kry byna ’n hartaanval. Die meeste van die inwoners is lam van skok. Hulle staar voor hulle uit na iets in die verte asof hulle wil vra: Waar sal ons hulp vandaan kom?

Enkeles skud hul kop in ongeloof. Vir hulle is die storie te dik vir ’n daalder.

Hulle weier volstrek om dit te glo.

“Dit kan onmoontlik waar wees,” sê Andries van Jaarsveldt. “Dis ’n opgemaakte storie deur ’n spul jaloerse skepsels. Dis weer net ’n manier om my broer se goeie naam deur die modder te sleep.

“Armand sal nooit ’n kind mole­s­teer nie.”

’n Ander persoon, ja, hou Andries vol, maar beslis nie sy eie vlees en bloed nie. En beslis nie daar in sy geboortedorp nie.

Sulke onheiligheid gebeur in ander plekke. Nie in ’n rustige dorp soos Kanarievlei nie.

Daardie selfde agtermiddag besluit oom Andries om ’n draai te gaan maak by die woning van die meisie wat vir sy broer se situasie verantwoordelik is.

Sy vrou probeer hom keer omdat sy weet haar man het ’n humeur wat hom deur niks laat afskrik nie. Sy is net bang hy raak die verkeerde goed kwyt.

As ’n mens kwaad is, sê jy soms goed wat jy nie bedoel nie. Haar poging is tevergeefs.

“Los my net uit!” bulder Andries. “Dis tyd dat iemand daardie skinderbekke op hul plek gaan sit.

“Niemand beswadder ’n Van Jaarsveldt en dink hulle gaan daarmee­ wegkom nie.”

Andries se rug trek krom soos hy hom in die pad af haas. Sy vrou wil agterna hardloop, maar dan bedink sy haar.

As Andries eers ’n ding in sy kop het, sal niks hom daarvan laat afsien nie. Sy kan maar net hoop hy gaan niemand te lyf nie.

Andries klop soos ’n polisieman, vou sy arms en wag geduldig. Die deur gaan op ’n skrefie oop.

Lena Arendse maak haar verskyning.

“Waar is daai verwaande dogter van jou?” wil Andries weet.

Hy is te ontsteld om eens te groet of mooi te praat.

“Ekskuus?” vra Lena.

“Ek is op soek na Yolandi. Waar steek sy haar weg?”

“Vir wat soek jy my kind? Wil jy ook soos jou broer ...?”

“Hoor hier, Lena, jy sukkel nou met die verkeerde persoon! My broer het niks verkeerds gedoen nie. Jou dogter is ’n liegbek!”

“Jy praat nie so van my kind nie, Andries.”

“Ek wil weet wat sy probeer bereik met haar liegstories. Armand is ’n gesiene man.”

“Ek het niks vir jou te sê nie. Sersant Michaels het gevra ons moet met niemand praat nie. Geregtigheid moet geskied.”

Sy klap die deur in Andries se gesig toe. Van hom het sy genoeg gehad. Sy gaan nie toelaat dat hy haar of haar dogter intimideer nie.

“Jy het nog lank nie die einde van my gesien nie!” hoor sy hom skel. “Jy en jou kind gaan al twee julle gat sien as ek met julle klaar is. My broer is onskuldig.”

Lena hou hom deur die venster dop. Sy sien hoe hy woes beduie terwyl hy wegstap. Sy skud haar kop.

Sommige mense darem. Hulle wil nie aanvaar hulle kan ook verkeerd wees nie.

Hoekom sal Yolandi sê sy is gemolesteer as dit onwaar is?

Met haar selfoon in haar hand gaan sit sy op ’n stoel.

Sy gee aandag aan Facebook, haar gunsteling-tydverdryf.

Dit gons behoorlik oor ’n afgestorwe apartheid-minister wat na bewering op sy dag ’n pedofiel was.

Sy volg die storie al van die begin af. Van die kommentaar verstom haar. Sy hou liewer haar opinie vir haarself.

Hoe enige iemand die vermeende sondaar kan verdedig en die slagoffers as leuenaars kan uitkryt, slaan haar verstand te bowe.

Die vraag wat die meeste mense vra, is waarom dit so lank geneem het om met hierdie inligting vorendag te kom.

Lena scroll weg van die comments en besluit om liewer op haar nuwe Facebook-vriend te konsentreer.

In haar agterkop wens sy Yolandi word nie as ’n moeilikheidmaker beskou nie, maar dat geregtigheid sal geskied. Geen volwasse man het die reg om hom aan ’n matriekmeisie op te dwing nie.

Gelukkig is dit anders as in die apartheidsjare toe slagoffers bang was om hul mond oop te maak.

Die volgende gedagte laat Lena Arendse skrik. Haar selfoon val byna uit haar hand.

Is Yolandi die eerste slagoffer van Armand van Jaarsveldt, of was daar ander meisies voor haar?

Sy hoop sersant Michaels ondersoek die saak deeglik. Haar intuïsie vertel haar nog geraamtes gaan uit meneer Van Jaarsveldt se kas val ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters