21 dae gelede
Adreana skryf uiteindelik die laaste reëltjie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons deel 2 van PETRO LM GORDON se kortverhaal “Blou”. Laas keer het ons gelees van Adreana, ’n tiener wat abuse is en troos gevind het by tant Ralie oorkant die pad. Nou worry sy oor haar jonger sussie, Lee-Anne, want iets is fout ...

DIE skoolvakansie is byna om. Adreana kyk onderlangs na Lee-Anne terwyl sy haar skoolklere regkry.

Hulle praat nie meer so spontaan met mekaar soos voorheen nie.

Sy wat Adreana is, is hierdie jaar in matriek en die tyd raak min.

Binnekort is dit die laaste paar maande van haar skoolloopbaan.

Asof haar sussie haar gedagtes lees, vra sy: “Wat gaan jy volgende jaar doen? Het jy al besluit?”

Adreana glimlag en gaan sit oorkant Lee-Anne op haar enkelbed. Sy’s bly dat hulle uiteindelik kan gesels.

“Ek gaan swot. Social work.”

Lee-Anne kyk dadelik op.

“So jy gaan weg?”

“Nee. Ek het in Wellington aansoek gedoen. Ons is ’n paar wat saam met ’n onnie gaan ry wat in Wellington skoolhou. Dis nou as ek gekeur word, natuurlik.”

“Jy sal. Jy’s slim.”

Adreana kyk na haar. Dit klink nogal of haar sussie haar genuine gaan mis.

“Sê die slimste een.”

Lee-Anne kyk op van waar sy haar skoolromp se soom sit en vaswerk. Sy glimlag.

Adreana hou haar dop en sien dat die glimlag verdwyn toe sy weer afkyk om verder te werk.

“Lee-Anne. Ek wou al lankal vra. Is alles orrait met jou? Onthou, ek is nie verniet jou ousus nie.”

Toe sy nie antwoord nie, staan sy op en gaan sit langs Lee-Anne.

“Wil djy nou social worker speel?”

Adreana hoor eers die lag in haar stem. Toe sy opkyk, merk sy ’n traan wat op die skoolromp val.

“Kom hierso.” Sy slaan haar arms om haar sussie en hou haar styf vas. Die trane loop ongevraagd.

Dis Lee-Anne wat haar eerste loswikkel. “Ag, ek’s sommer simpel. Ek het loop verlief raak op ’n ou wat nie eens een keer na my kant toe kyk nie.”

Sy snik ’n paar keer en neem die tissues wat Adreana aangee.

“Ek gaan ’n oujongnooi raak en alleen oud raak soos antie Ralie.”

Adreana se hart mis ’n slag. Tant Ralie.

“Nee, sus. Daai ou is dom. Hy sal eendag besef Lee-Anne Koordom was die béste wat met hom kon gebeur het.

“Maar uhm … dalk is hy ook 13 en stel meer belang in seunsgoeters as meisies, jong.

“Jy weet, hulle sê meisies is eintlik meer volwasse as seuns.”

Lee-Anne staan op sonder om iets te sê en hang haar skoolromp in die kas. Sy’s nou klaar gepraat, besef Adreana. Sy móét egter weet. Vir seker weet.

“Jy gaan baie oor die pad na tant Ralie toe. Wat gesels julle so vreeslik baie?”

Sy probeer versigtig wees met die vrae en hou Lee-Anne se gesig dop.

Sy merk egter niks op nie. Ewe ongeërg sê haar sussie net: “Agge nee. Ons gesels nie eintlik nie. Ons werk net lekker”.

“Werk? Watse werk?”

“Ja, dis nogal nice. Het jy geweet antie Ralie maak die mooiste armbande met krale?”

Adreana vat dadelik aan die armband wat Lee-Anne Kersfees vir haar geskenk gegee het. Die krale is met verskillende skakerings van blou en pers gemeng.

“Ek het allie tyd gedink jy het dit iewers gekoop.”

“Sélf gemaak, sussa!”

Adreana glimlag toe sy haar sussie agterna kyk.

“Dankie, liewe Here.” Dis ál wat sy sê. Gelukkig het hy dit nie aan haar sussie ook gedoen nie.

Sy glimlag wrang. Sy wou hê haar sussie moes praat, maar sy praat self met niemand oor wat met haar gebeur het nie. Dit was lank terug, maar sy kry steeds nagmerries. Sy was maar nege jaar oud.

“Kom gou saam met my. Ek wil jou iets wys,” het hy gesê en haar hand geneem. Saam het hulle in stilte om die huis geloop. Buite was dit stikdonker.

Sy skeef 6getrapte nr. 8-skoene het haar na die buitetoilet gelei.

Hy’t nie ’n enkele woord gesê nie. Nie een keer eens in haar verskrikte bruin oë gekyk nie. Al wat sy kon hoor, was hoe sy anderste asem hard by sy mond en neusgate uitgebeur en hoe hy kort-kort gesluk het.

Haar kop het begin sing. Dit was asof sy na ander mense kyk. Dit was nie sy nie. Beslis nie sy nie!

Al wat sy in die beknopte toilet kon sien, was die wit van sy hemp. Sy wou naar word van sy sweetreuk wat sy elke keer vir ewig sou wou weg was. Soos vantevore het hy weer R5 in haar hand gedruk en hom dan na buite gehaas. Sy’t haar broekie opgetrek en lank in die toilet bly sit.

Adreana staan voor die vollengte spieël in haar kamer en haar oë skiet vol trane. Sy begin haar bos swart hare kam. Sy moes nie stilgebly het nie, weet sy nou.

Sy’t gedog sy kon vir niemand vertel nie. Hy het elke keer gesê, “Dis net ek en Adri’tjie se geheimpie, nè?”

En elke keer as hy met sy jaende asem oor haar geleun het, het sy net na die hemel gestaar.

Sy streel ingedagte oor haar gladde okkerneutbruin vel, maar versteen onmiddellik toe dit byna voel soos wanneer hy dit doen.

Sy kyk weer na haarself. Byna alle meisies van 17 of 18 jaar se hare is in ’n kort styl gesny.

Sy vleg hare steeds met ’n visgraatvlegsel agteroor. Iewers het die negejarige meisie bly vassteek.

Sy hoor ’n bekende liedjie oor die radio: “When I’m feeling blue, I will think of you.”

Adreana sit en haal haar dagboek tussen haar skoolboeke uit.

Blou, soos die liedjie sê, is soos haar lewe die afgelope ag jaar was.

Vir haar was dit nog altyd ’n tipe ontvlugting om al haar deurmekaar gedagtes op papier neer te pen. Die warboel in haar kon sy altyd op papier uitwoed. So word sy geledig en gereinig.

Voor in haar dagboek het sy ’n ou Chinese gesegde geskryf: “Ou ink is beter as die beste geheue.”

As alles net in die ou ink bly vassit en nie elke keer terugkruip in haar geheue nie! Terwyl die trane loop, skryf sy oor daai laaste keer toe hy dit aan haar gedoen het.

Sy het daai nag na tant Ralie toe gegaan en net gehuil en gehuil.

Met ’n hartseer wat sy nie kon verstaan of wat nie wou weggaan nie, het sy aan die slaap geraak.

Adreana kyk vinnig op toe sy sien haar ma het in die kamerdeur kom staan.

“Dis jou oompie Koos,” sê sy met ’n bewerige stem.

“Hulle’t nou gefoun. Hy… hy’t homself geskiet. Ek het nie eens geweet my broer het ’n gun nie.”

Adreana kyk weg van haar ma se vraende bruin o?.

As sy haar ma se bekende voetstappe weer in die kombuis hoor, skryf sy die laaste sin in haar dagboek: “Dis beter dat jy dood is, want jy’t my doodgemaak toe ek nege jaar oud was. Maar ek sal weer opstaan.”

Later sit sy ná ’n lang tyd voor die kolestoof by tannie Ralie.

Sy sal daar sit totdat die herinneringe in ink tot as verbrand het. Van nou af sal sy elke kind waarsku om nooit, ooit stil te bly nie.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters