5 maande gelede
Vroue misgekyk vir Oscars
SANTA MONICA, CALIFORNIA - JANUARY 12: Cynthia Eri
Cynthia Erivo is 'n sterk aanspraakmaker vir die Oscar vir Beste Aktrise.  ~ FilmMagic

DIE gebrek aan diversiteit was weer die groot besprekingspunt toe die benoemings vir vanjaar se Oscars bekendgemaak is.

Daar is veral gal gebraak omdat daar geen vroue benoem is in die kategorie vir beste regisseur nie - dit nadat 10% van die top films in 2019 deur vroue gemaak is. 

Vanjaar is die derde jaar agtereenvolgens dat 'n vrou vir dié gesogte kategorie misgekyk word.

In die Academy Awards se 92-jaar geskiedenis het net een vrou - Kathryn Bigelow in 2010 vir The Hurt Locker - al die Oscar-beeldjie as beste regisseur huis toe geneem.

Kort ná die benoemings aangekondig is, het die hashtags #OscarsSoWhite en #OscarsSoMale begin trend.

Suid-Afrika se golden boy Trevor Noah was van die eerstes om sy mening te lug.

"Daai is nie net almal manlike regisseurs nie, daai is ook almal baie manlike movies. Soos, as jy vir Parasite weghaal, het vroue seker net 10 minute van dialoog in al die ander films saam. Daar is geen rede dat vroue nie groter rolle in hierdie movies moet het nie, behalwe vir 1917, want daar was nie vroue tot en met die '30's nie. Dis 'n feit," het hy op The Daily Show gesê.

Stacy L. Smith, direkteur by die USC Annenberg Inclusion Initiative, sê aan AP die uitslae is veral frusterend omdat 2019 'n breakout year vir vroue-regisseurs was.

"Hulle was daar in groot getalle. Dit was die jaar van die hoogste persentasie van vroue regisseurs wat ons al gesien het," sê Smith.

"En tog, word hulle nie toegelaat om deur hierdie kulturele instellings geloof te word vir hul bekwaamdheid nie."

Cynthia Erivo, die enige persoon van kleur wat in die top vier kategorieë benoem is, het vanuit Japan aan AP gesê sy het gehoop vanjaar sal 'n stepping stone wees om die deure oop te maak vir 'n meer diverse groep kusntenaars.

Florence Pugh, wat benoem is vir beste ondersteunende aktrise vir haar rol as Amy in Little Women, sê aan BBC News: "Dis hartseer, maar die feit dat ons laas jaar meer vroue skrywers en regisseurs as ooit gehad het en steeds misgekyk is, is 'n ooglopende probleem. Maar ons praat daaroor en hopelik verander dit".

Behalwe dat vroue vanjaar misgekyk word, is daar ook net een persoon van kleur wat vir 'n akteursprys benoem is.

Die Britse aktrise Cynthia Erivo, wat Harriet Tubman in die rolprent Harriet vertolk, is in die kategorie vir beste aktrise benoem.

Akwafina (The Farewell), Jennifer Lopez (Hustlers), Eddie Murphy (Dolemite is my Name), Lupita Nyong'o (Us) en Jamie Foxx (Just Mercy) is almal vanjaar misgekyk.

Erivo sê aan die Chicago Tribune haar eerste Oscar-benoeming is 'n bittersoet-oomblik.

"Hoewel ek baie hard gewerk het vir wat besig is om te gebeur, sou ek ook daarvan gehou het om dit met ander mense van kleur te vier wat ook vanjaar baie hard gewerk het.

"Ek glo daar was ongelooflike werk vanjaar en pragtige skeppings wat uitgekom het. Nie net deur mense van kleur nie, maar ook deur vroue-regisseurs. So ek hoop dat ek ons goed kan verteenwoordig wanneer die vieringe plaasvind."

Die Oscars word op Sondag 9 Februarie 2020 in Los Angeles aangebied.

BRONNE: Sky News; Eonline; CNN, AP, BBC News, New York Times, BuzzFeedNews, TheHill.com, Chicago Tribune

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters