3 dae gelede
Verwag drama in Projek Dina
NUWE REEKS: Projek Dina gaan jou voor die kassie vasgenael hou.  ~ Foto Verskaf

Jy kan drama verwag kykNET se nuwe reeks Projek Dina, wat handel oor 'n taakspan vir vermistes in Kaapstad.

Drie speurders met verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom sake van vermistes in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaarval. Dít en nog meer kan jy verwag.

Die drie speurders – spesifiek uitgesoek deur brig. Patricia Dlomo – werk dae aaneen sonder veel regte slaap. Hulle is regdeur die nag op bystand vir oproepe en moet die Kaap se gevaarlikste hoekies teen wil en dank betree.

Die spanleier, kapt. Deon Visagie (Tim Theron), is van nature ’n strateeg en ’n ware speurhond. Hy raak obsessief oor die kleinste detail, maar sy vermoë om mense te lees, skiet lelik tekort.

Hy sukkel veral met sers. Lux Dladla (Chumani Pan) se benadering tot speurwerk. Dié maak staat op ’n sterk intuïsie en die vermoë om ’n groot netwerk kontakte op te bou en te benut.

Die taakspan gebruik die hulp van ’n nie-amptelike informant – die vernuftige kuberkraker Charlene “Charlie” Botha (Kay Smith).

AO Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) is die persoon wat die span bymekaarhou. Sy is eerlik, hardwerkend en ’n gesinsvrou, maar moenie met haar kom sukkel nie.

Kykers kan ook uitsien na ander akteurs in die reeks soos: Lee-Ann van Rooi, Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Nadia Valvekens, Pierre van Pletzen, Jane de Wet, Zenobia Kloppers, Crystal-Donna Roberts, Christia Visser, Mila Guy, Neels van Jaarsveld, Paul du Toit, Trix Vivier, Elsabé Daneel, Ilse Roos en André Roothman.

Projek Dina begin Dinsdagaand 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters