3 maande gelede
Smeltkroes van jazz, kaas en wyn wink op Delheim
KOm loer in: Moenie die geleentheid misloop om lekker wyn, kaas en musiek te geniet nie. FOTO VERSKAF  ~ 

DELHEIM se Jazz-en-Kaasfondue-reeks spog met ’n nuwe baadjie. Dié Sondag-bederfie van live jazz, wyn en smelt-in-die-mond-kaas word elke Sondag van 24 Junie tot 26 Augustus aangebied.

Die reeks fluit vanjaar ’n heel nuwe deuntjie in die wynlande van Stellenbosch danksy die aankondiging van hul samewerking met die Cape Town Music Academy (CTMA) en Jazz in the Native Yards.

“Ons is baie in ons noppies om vanjaar ’n inspirerende vertoonstuk van vars, nuwe talent aan besoekers voor te stel. Ons “Downstairs”-kelder is die perfekte platform vir jong musikante wat nie net standaard-uitvoerings lewer nie, maar ook interpretasies en hul eie komposisies met ’n internasionale aanslag,” sê Nora Sperling-Thiel van Delheim.

Delheim is net buite die Eikestad, in die Simonsberg-substreek van die Stellenbosch-wynroetes, geleë.

Kaartjies kos R450 en sluit in die live musiekuitvoerings, ’n glas tradisionele Glühwein wanneer jy instap en die hartlike kaasfondue-maaltyd gekomplementeer met Delheim se bekroonde wyne.

Kaartjies moet vroegtydig bespreek word by webtickets.co.za.

Geen kaartjies sal by die deure te koop wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters