11 dae gelede
Skrywer van Noem my Skollie sterf
John W. Fredericks  ~ Edrea du Toit

JOHN W. Fredericks, die skrywer van Noem my Skollie, is dood.

Die 73-jarige, wat volgens Channel24 vroeër vanjaar met kanker gediagnoseer is, het Sondag vreedsaam by die huis gesterf.

Volgens Penguin Random House-uitgewers is John op die Kaapse Vlakte gebore.

"Sy pa was 'n dustman en sy ma het by die slagpale gewerk. Hy het meeste van sy grootwordjare op 'n tiep deurgebring waar hy vir boeke gesoek het om te lees en enigiets wat weer verkoop kon word," lui 'n verklaring op hul werbwerf.

"Lees het sy mind oopgemaak tot 'n nuwe wêreld. Hy het op 'n jong ouderdom besluit om 'n skrywer te word. Hy het ondanks 'n gesukkel sy doelwit bereik, maar moes eers bo die stigma van die tronk en armoede uitstyg."

Fredericks het 'n paar draaiboeke geskryf, insluitend die bekroonde Noem my Skollie. 

David Brown, 'n vervaardiger van Noem my Skollie, het op Facebook gesê "ons almal het geweet die dag gaan kom om te groet, maar dit is steeds te gou".

"John, jy was 'n konstante inspirasie. Jy en jou stories sal in ons harte en gedagtes voortleef," skryf Brown.

Irshaad Ally, wat 'n rol in die movie gehad het, sê Fredericks was altyd bemoedigend en wys.

"Jy het my altyd laat voel dat ons belangrike goed het om te doen en dat ek een van die ouens is. Ons gaan jou mis Uncle John en sal probeer om daai stories te vertel."


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters