5 maande gelede
Shimmy wikkel voor én agter skerms
Shimmy Isaacs
Shimmy Isaacs as Petra Meintjies in Arendsvlei.  ~ Foto Verskaf

OM NOU nog na Shimmy Isaacs te verwys as net ’n stand-up comedian, sal ’n klap in haar gesig wees.

Dié Worcesteriet het die laaste paar jaar bewys daar is baie fasette aan haar en dat sy nie gelabel kan word nie.

Shimmy, wat al oorsese gehore laat skaterlag het, het haar nou ook as aktrise, vervaardiger en skrywer bewys.

Sy is tans te sien in twee kykNET-dramas: as Lena in die derde seisoen van Sara Se Geheim en as Petra Meintjies, ma van die sokkersterleerder, Zane, in Arendsvlei.

Voordat Shimmy die rol van Petra aangepak het, was sy lid van die span wie se taak dit was om met nuwe storielyne vorendag te kom.
Die rol het steeds as ’n verrassing gekom.

“Toe ek die eerste paar lyne lees, het dit vir my gevoel ek ken dié vrou,” vertel Shimmy.

“Natuurlik wou ek haar nie mean maak nie. Ek wou haar ook ’n element van comic coolness gee. Sy’s comical deur hoe sy die kind indruk by die Hoërskool Arendsvlei.

“Sy is ook net ’n ma wat alles sal doen vir haar enigste seun. Ons is almal bewus van die omstandighede rondom dwelmmisbruik in ons gemeenskappe. Sy as ma is bereid om enige iets te doen om seker te maak hy is op die regte pad.”

Shimmy sê Petra se vrees dat haar seun nie gaan uitstyg nie, dryf haar.

Hoewel Petra effe grof oorkom en maak dat iemand soos antie Gerty liewers uit haar pad wil bly, skuil menslikheid en broosheid agter die aggressie en attitude.  

Shimmy sê Petra se gedrag is net haar defence mechanism teen die buitewêreld.

Hoewel Shimmy voor die kameras baie besig is, het sy nie agter die skerms laat slap lê nie.

Sy het haar eie sitkom, Frieda, geskep. Dit gaan binnekort aanlyn die lug sien.

Frieda is gegrond op haar kinderdae.

Haar ma, Frieda, het in st. 7 skool verlaat en as fabriekswerker die pot aan die kook gehou. Tog het education steeds baie vir haar beteken.

Sy het later haar werk gelos en ’n haarkapster geword. Sy is mettertyd terug skool toe om haar matriek klaar te maak.  

“My ma is ’n uiters aspirerende mens. Ek kyk na haar en ek vra myself af hoekom ons nie haar storie op die TV sien nie.

“Ons wil nie net van die struggles hoor nie. Ons lewe dit, ons sien dit. Kom ons wys die positiewe kant van iemand wat uit die Riverview-woonstelle in Worcester kom en ’n droom gehad het.

“Haar droom was dalk nie om ’n dokter te wees en miljoene te het nie, maar om iets te besit.”

Shimmy sê Frieda word in die Kaap geskiet, al speel dit in Worcester af.

Frieda word beskryf as ’n “celebration of characters”, waarin die liefde in ’n gemeenskap en mense se lojaliteit teenoor mekaar uitgebeeld word.  

Christian Bennett (van Noem My Skollie, Arendsvlei en Suidooster) speel ’n jack of all trades daarin. Carl Weber is ook daaraan te sien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters