Verlede maand
Sam Smith kanselleer shows
aksie: Sam Smith sing een van sy gunstelinge ... terwyl hy nog kan. Foto: PeterAbrahams  ~ 

’N SEER KEEL het Sam Smith se Kaapse konserte vir sy The Thrill of It All-wêreldtoer gekelder.

Smith was wel Dinsdagaand by die GrandWest op die verhoog. Die Britse ster (26) het die skare verwelkom en vertel hoe bly hy is om ná sowat ses jaar in die bedryf in Kaapstad en Suid-Afrika op te tree.

Hy het van sy fan favourites gesing, onder meer “Stay With Me” en “Lay Me Down”.

Maar net 45 minute later het hy van die verhoog verdwyn.

Vloek-vloek

Daarna is aangekondig die konsert is gekanselleer omdat Smith se keel seer is.

Die sowat 5 000 konsertgangers was uiteraard geskok. Hulle het geduldig gewag dat Smith terugkeer na die verhoog.

Een van die konsertgangers, Riaan Kleintjies van Kraaifontein, het gesê: “Sam was besig om die song ‘Save Me’ te sing.

“Ek het gedog hy het sy kostuum gaan verander.

“Sowat vyf minute later is aangekondig hy kan nie meer optree nie oor hy mediese hulp gekry het. Daar is gesê hy kan nie verder sing nie. Ons het gedink dit is ’n April Fool’s joke.

“Van die skare was ontsteld en het die konsert­lokaal vloek-vloek verlaat.”

Gistermiddag is bekend gemaak Smith se stembande gee soveel probleme dat die shows wat gisteraand en vanaand sou plaasvind, ook van die baan is.

Big Concerts het gesê mense wat hulle kaartjies met ’n kredietkaart op Computicket se website en/of by hulle call centre gekoop het, sal outo­maties gerefund word.

Ander moet die kaartjies na hulle naaste Computicket, Shoprite of Checkers vat om hulle geld terug te kry.

Die afsnydatum vir refunds is Vrydag 31 Mei 2019.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters