5 dae gelede
‘Queenie-hulle’ kry 7 Fiësta-benoemings
TALENT: Brendon Da­niels, Jaques de Silva, Jill en Lynelle.  ~ Foto Verskaf

DIE toneelstuk Queenie-hulle is ’n groot gunsteling by 2020 se Fiësta-prysuitdeling. Dis in sewe kategorieë benoem.

Die gesoute toneelspelers Jill Levenberg en Brendon Da­niels is as beste aktrise en akteur benoem vir hulle vertolking van onderskeidelik Queenie en Joey.

Jill is bekend vir haar rol as Mymoena in Suidooster en haar spel as Ellen Pakkies in Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies. Brendon is onder meer bekend vir sy rol as Farakhan in Four Corners.

Straatmense

Queenie-hulle is ook benoem vir beste aanbieding en beste duo of ensemble.

Christo Davids is benoem vir beste regie. Hy en Lloyd Davids is saam benoem vir die beste nuutgeskepte Afrikaanse teks. Jaques de Silva is benoem in die kategorie vir beste manlike byspeler.

Queenie-hulle gaan oor straatmense se struggle, bevoorregtes se omgee vir dié mense en oor wie se plig dit is om te help.

Die doel van kykNET se Fiëstas is om debuutproduksies op die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste te vereer.

Van die ander benoemdes sluit in Cantona James (bekend vir sy rol as Daniel in Arendsvlei) as beste opkomende kunstenaar en Anna-Mart van der Merwe as beste vroulike byspeler vir haar rol in Koningin Lear.

Die 10de Fiësta-prysaand word op Sondag 9 Februarie in Kaapstad gehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters