10 dae gelede
'Ons was geseënd om in sy geselskap te wees'
John W Fredericks
David Max Brown en John W. Fredericks  ~ david max brown

DIE vervaardiger van die bekroonde fliek Noem my Skollie, David Max Brown, sê almal wat in John W. Fredericks se teenwoordigheid was, was geseënd.

Fredericks (73), 'n skrywer en filmmaker, is Sondag dood nadat hy vroeër vanjaar met pankreas-kanker gediagnoseer is.

Hy was bekend vir sy boek, Skollie, wat gebasseer is op sy lewensverhaal. Sy storie is ook op die grootskerm in die fliek Noem my Skollie vertel.

Brown, 'n goeie vriend van Fredericks, sê in 'n verklaring "ons het geweet dit kom, maar toe dit wel Sondagmiddag gebeur, was dit hartverskeurend".

David het John die eerste keer op die trappe van die Kunstekaap in 2002 ontmoet. Daar het hul reis begin wat in 'n vriendskap van wedersydse respek gegroei het.

Dit het daartoe gelei dat die twee in 2005 aan 'n dokumentêr, Freedom is a Personal Journey, gewerk het.

Hulle het in 2016 begin werk aan Noem my Skollie.

Die fliek was Suid-Afrika se inskrywing vir die Oscars.

"John het sedert sy vroeë tienerjare in die stofstrate van Kewton begin stories vertel en nooit opgehou nie. Dit is wat sy lewe in Pollsmoor, 'n tronk wat hy en baie ander gevangene help bou het, gered het," skryf Brown. 

Brown sê dit is wat hom uiteindelik 'n bekende in die bruingemeenskappe van die Wes-Kaap gemaak het.

"John het sy drome 'n werklikheid gemaak. Ons almal wat saam met hom gewerk het, weet ons was geseënd om op hierdie reis te wees en om ons drome in sy geselskap te kon droom," sê Brown.

"John het 'n wonderlike kapasiteit gehad om sy lewe in besonderde detail te kan onthou.

"Baie van sy lewensoomblikke was life-changing of lewe-en-dood situasies, maar wat die meeste deurgekom het was die liefde en respek wat hy vir sy vrou, Una en hul nabye en breë familie en vriende gehad het.

"John was 'n man wat geweet het misdaad en armoede gaan nie op sy eie verdwyn nie en het meeste van sy lewe spandeer om met jong oortreders in Wes-Kaapse tronke te werk. Sy doel was om jong mense aan te moedig om 'n plek in die samelewing te vind pleks om teen dit en hulself te werk." - Channel24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters