14 dae gelede
Nuwe karakter in die Laan
Danielle Retief.
Danielle Retief  ~ Verskaf/ 7de Laan

DAAR is weer ’n nuwe gesiggie in die Laan.

Danielle Retief sluit haar binnekort aan by die 7de Laan as Nikki Basson, die dogter en oogappel van DeWet Basson.

Haar karakter word in 'n verklaring beskryf as iemand wat sedert geboorte 'n bevoorregte lewe gehad het, die wêreld vol gereis en die fyner dinge in die lewe ervaar het wat meeste van haar portuurs net oor kon droom.

Tog hunker Nikki na 'n doel in die lewe en smag na vervulling.

Sy vestig haar dan in Hillside waarna haar avontuurlustige soeke na haar nis haar laat paaie kruis met 'n kamstige Prince Charming.

"DeWet, wat opmaak vir sy afwesigheid deur haar toe te gooi onder die presente, kom met 'n dramatiese reddingspoging vorendag om sy dogter uit die kloue van die kamstige prins te red.

"Hillsiders is vriendelik, maar ook nuuskierig oor hul nuwe inwoner en selfs meer so wanneer hulle uitvind sy is DeWet se dogter," lui die verklaring.

Kykers sal maar moet wag om te sien of dit nie 'n geval is van "die appel val nie ver van die boom nie".

Danielle het al voorheen in ander Suid-Afrikaanse reeks gespeel soos High Rollers en Geraamtes in die Kas.

Danielle sê sy weet watter impak die show op Suid-Afrikaanse TV het en dat dit wonderlik is om deel daarvan te wees.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters