3 maande gelede
Mnr. SA-deelnemer kuier by sy ou skool
NAMAKWALANDER: Godfrey Dirkse is een van die finaliste in die Mnr. SA-kompetisie. foto’s verskaf  ~ 

SUID-AFRIKA se mooiste man word môreaand gekroon.

En Godfrey Dirkse van Carolusberg naby Springbok in die Noord-Kaap is ’n finalis in die Mnr. SA 2019-kompetisie.

Hy woon die afgelope 11 jaar in die Kaap nadat hy aan die Hoërskool SA van Wyk gematrikuleer het. Hy het aan die Universiteit van Wes-Kaapland gaan swot en ’n graad in aptekerswese behaal.

Hy het ook aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) ’n kwalifikasie in die organisering van events verwerf.

“Mnr. Suid-Afrika was nog altyd ’n groot droom vir my – al van skooldae af. Laas jaar het ek besluit om in te skryf, want die kompetisie is deur nuwe bestuur oorgeneem.

“Nou is daar nie meer ’n ouderdomsbeperking nie en ek het onmiddellik ingeskryf.”

Die kompetisie het in Junie 2018 begin. Dit gaan gepaard met ’n stemming deur die publiek. Die finaliste moes aan sekere aktiwiteite deelneem om hulleself te bemark.

Dirkse het byvoorbeeld onlangs ’n motiveringstoespraak by sy ou hoërskool gaan hou. Hy is hartlik ontvang en alle voorspoed toegewens.

Hy voeg by: “Ek wil die jeug in my tuisdorp, Carolusberg, wat hulle drome prysgegee het en vasgevang is in uitstellery, hiermee inspireer.

“Hulle moet eendag as gevolg van my sukses kan sê hulle het nie tou opgegooi nie. Moet dus nie dink julle drome kan nie ook eendag verwesenlik word nie.”

Die finale event vind môre in die Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad, plaas. Ons hou duim vas!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters