26 dae gelede
Mama Mary kry haar wens van baie begrafnisblomme
IN ROU: Somizi Mhlongo groet sy ma. Sy man, Mohale Motaung, staan hom by.  ~ Gallo Images

DIE veteraan-aktrise Mary Twala is gister in Soweto ter ruste gelê.

In lyn met die regering se inperkingsreëls was daar net 50 bedroefdes en almal het maskers aangehad.

Die begrafnis is live op Twitter en YouTube uitgesaai.

Mary se bekende seun, Somizi Mhlongo, was gebroke.

Hy het vertel dat sy ma voor haar dood vir hom gevra het vir baie blomme op haar begrafnis.

“En vandag is sy in die mooiste kis met die mooiste rangskikkings,” het hy gesê.

“Sy het daarvoor gevra. Snaaks genoeg, sy het Saterdag voordat sy gesterf het, gevra vir baie blomme.

“Sy het ook gesê sy wil in dieselfde rok begrawe word wat sy op haar troudag gedra het.”

RUS SAG: Mary Twala is gister ter ruste gelê op ’n begrafnis in Soweto.

Hy het Mzansi ook bedank vir die liefde wat deur die jare aan sy mammie betoon is.

Hy het gesê: “Ek is nie hartseer oor my mammie dood is nie. Ek is net hartseer oor die naelstring vir ewig gesny is.

Emosioneel

“Sy het my gesien toe ek getroud is; sy het haar kleindogter gesien; sy het haar susters en familie gesien. Sy was lief vir haar familie en haar familie was lief vir haar.”

Somizi se dogter, Bahumi, was baie emosioneel toe sy oor haar ouma se lewens­geskiedenis gepraat het.

Sy het haar ouma onthou as ’n “performance phenomenon en ’n rare globale talent met ’n pragtige en kragtige siel”.

Vriende van Mary in die filmbedryf, soos Connie Chiume, Rapulana Seiphemo en Jerry Mofokeng, het haar werk in video’s onthou.

Dr Rebecca Malope, Mzansi se gunsteling-gospel-dogter, het die familie met sang bemoedig.

Rus sag, Mama Mary.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters