12 dae gelede
Liefde is in die kollig
Die musiekant reik sy eerste album uit.  ~ foto verskaf

DIE talentvolle baskitaar­speler Chadleigh Gowar van Hanover Park is baie opgewonde oor wat voorlê.

Hierdie jaar vier die musikant tien jaar in die musiekbedryf en hy borrel oor van vreugde, want hy gaan sy eerste album uitreik.

Volgens hom was dit nie maklik om groot te word in ’n gemeenskap vol uitdagings nie.

Gowar het altyd ’n baie positiewe gesindheid en uitkyk op die lewe en kom uit ’n musikale familie. Sy liefde vir dié instrument het op tien al begin.

Sy ma en haar susters het altyd gesing op familiebyeenkomste terwyl sy oom die kitaar gespeel het en sy nefie die tromme.

Hy vertel laggend daar was darem plek vir hom om die baskitaar te speel.

Gowar het die verhoog al gedeel met van die land se topkunstenaars soos Bianca le Grange, Brandon October, Jannie Moolman, Ernie Smith en die gewilde gospelgroep Dumisani.

Sy beste oomblik in die musiekbedryf was toe hy by die Cape Town International Jazz Festival met die klavierspeler Ramon­ Alexander die verhoog gedeel het. In 2012 het Gowar sy EP Mr Afrika uitgereik en op 30 September reik hy sy eerste volledige album uit.

Die titel van die album is The Love I Know en dit beskryf sy lewensreis en die liefde wat hy ervaar het as kunstenaar.

Gowar hou op 30 September konsert by die Jubilee Life Ministries in Parow.

Dit begin 17:30 vir 18:15 en die toegang kos R50.

  • Kontak Gowar by 081 435 0444.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters