8 dae gelede
Laat local reekse jou tuis hou
AANTREKLIK: Vuyo Dabula speel ook in die Netflix-reeks Queen Sono.  ~ Foto Verskaf

DIÉ naweek gaan almal (hopelik) social distancing toepas en die meeste van ons gaan natuurlik series lê en kyk.

As jy wonder wat jy dié naweek kan kyk, hoef jy nie jou mooi koppie daaroor te breek nie.

Ek het ’n lys saamgestel van plaaslike reekse wat jy kan binge watch.

Queen Sono

Ek het laas week die reeks Queen Sono gekyk en ek moet sê dis dêm goed. Dis die eerste African crime-reeks op die stroomdiens Netflix.

Pearl Thusi en die sexy Vuyo Dabula speel daarin.

Pearl vertolk die rol van Queen Sono. Sy werk vir ’n Suid-Afrikaanse geheime agentskap wat hom daarop toespits om die mense van Afrika te beskerm.

Ná die sluipmoord op haar ma word Queen Sono ’n spioen. Dan, tydens ’n gevaarlike field mission, begin sy skokkende details oor die moord op haar ma ontdek. Dit lei haar op haar eie sending om die waarheid te ontbloot.

Still Breathing

M-Net se trots Suid-Afrikaanse reeks Still Breathing is elke Donderdagaand 20:00 op die kassie. As jy wil opvang kan jy op DStv Now daarna gaan kyk.

Dié nuwe dramareeks bekyk ’n groep ou vriende se liefde, vriendskap, ingewikkelde verhoudings, verraad en diepe geheime.

Die vriende het met die jare uitmekaar gedryf, maar dan bring ’n verskriklike tragedie hulle weer byeen.

In kort handel die reeks oor die liefde, die dood en al die gemors tussenin.

Projek Dina

Dié reeks handel oor drie speurders met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom sake van vermistes in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaarval. Dít en nog meer kan jy verwag.

Die taakspan is deur die Wes-Kaapse polisie saamgestel as ’n manier om die vinnige toename in gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika onder beheer te probeer kry.

Die drie speurders, spesifiek uitgesoek deur brig. Patricia Dlomo, werk dae aaneen sonder veel slaap. Hulle is regdeur die nag op bystand vir oproepe en moet die Kaap se gevaarlikste hoekies teen wil en dank betree.

Die Byl

Dié reeks is perfek om te binge watch. Seisoen een en twee is op Showmax.

Dit handel oor ’n speurder, Piet van der Bijl (gespeel deur Waldemar Schultz), beter bekend as die Byl, en sy span wat grusame misdaadtonele ontleed in hulle hunt na gewelddadige reeksmoordenaars.

Getroud

Die eerste seisoen van dié aangrypende speurdrama het ongelooflike reviews gekry en die tweede seisoen is beskikbaar slegs op Showmax.

Die forensiese sielkundige kapt. Lena Evans is terug.

Sy is intussen getroud en het die ma geword van ’n driejarige seuntjie.

Dit is nou ná die gap van vyf jaar tussen die twee reekse.

Ja-nee, local bly mos maar lekker!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters