8 dae gelede
kykNET daag stadsjapies uit
plaasjapie
Plaasjapie word eersdaags op kykNET uitgesaai.  ~ Foto Verskaf

OM TE boer is nie kinderspeletjies nie.

Dit is presies wat kykNET met hul nuwe werklikheidsreeks, Plaasjapie, aan deelnemers en kykers gaan wys.

Plaasjapie gee deelnemers die geleentheid om te wys of hulle die deursettingsvermoë het om op ‘n plaas te oorleef.

20 stads- of dorpmense (wat geen plaas- en boer ervaring het nie) word weggevoer na 'n plaas om vir 'n maand in 'n skuur te leef en werk.

"As jy dink dat dit kinderspeletjies is om op ‘n plaas te woon en werk, dink weer, want met Plaasjapie gaan jy met die basiese elemente op ‘n plaas moet oorleef – dit beteken geen van die luukshede wat op vandag se moderne plase te vind is nie.

"So as jy dink jy kan harde bene kou, maar ook uithouvermoë het en slim genoeg is, dan is Plaasjapie vir jou," lui kykNET se verklaring.

Deelnemers wat hul spanmaats uitoorlê in die uitdagings sal die geleentheid kry om sekere luukshede vir hulself te wen, maar die res sal maar moet voel hoe dit was om op ‘n plaas van jare gelede te woon.

"Plaasjapie gaan nie net oor oorlewing en fisiese werk op ‘n plaas nie – allesbehalwe. Dit gaan oor strategie, deursettingsvermoë en slimmer wees as die res van die deelnemers. En planne beraam, want dis tog wat ‘n boer doen," verduidelik kykNET. 

"Sommige van die uitdagings vind plaas in spanne, en ander is individuele uitdagings. En, daar mag dalk ‘n gekonkel agter jou rug wees, wat jy tot jou voordeel kan gebruik, of wat jou moontlik jou kaartjie huis toe gaan kos. So, maak seker jy weet wie jou ware vriende is en wie is wolf in skaapklere..."

Voornemende deelnemers kan op kykNET.tv inskryf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters