Verlede maand
Kurt Darren mors landslied op
Kurt Darren  ~ 

SUID-AFRIKANERS is glad nie impressed met Kurt Darren nie.

Dié Afrikaanse popster het lelik drooggemaak toe hy voor Maandagaand se Varsitybeker-eindstryd die landslied opgemors het. 

Die Universiteit Stellenbosch (Maties) het teen die Universiteit van Pretoria (Tukkies) in die eindstryd gespeel. Maties het die beker vir 'n vyfde keer gewen.

Darren, veral bekend vir sy liedjie Kaptein, het heel gemaklik begin. Dis toe hy by die Sesotho-deel van die landslied gekom het dat dinge skeef begin loop het.

The Citizen berig hy het die eerste reël van die Sesotho-deel ““Morena boloka setjhaba sa heso” reg gesing, maar die volgende een (“O fedise dintwa le matshwenyeho”) sommer heeltemal uitgelaat en vervang met die Zoeloe-reël (Yizwa imithandazo, yethu) van die eerste vers.

Van die Tukkies- en Maties-spelers het die blapse opgetel en was sigbaar dik van die lag tydens die landslied.

Kurt self het duidelik geen fout met sy weergawe van die landslied gevind nie.

"So 'n ongelooflike eer om die Volkslied acapella saam 20 000 studente te kon sing gisteraand," het hy na die wedstryd getwiet.

Darren het Dinsdagoggend op Eusebius McKaiser se program op Radio 702 gevra of dit regtig nuus is.

"Dis altyd 'n eer vir my om die landslied te sing. Ek het vanoggend opgestaan en dis so funny vir my. Is dit rerig nuus. Ja ek het een reël opgemors, maar jy sing voor 20 000 mense by die Varsitybeker-eindstryd. Dis net crazy. Ek het een reël opgemors. Ek het Kaptein ook voorheen opgemors.”

Darren het die foon in Eusebius se oor neergedruk toe hy verder oor die blapse gepols is.

 


Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters