5 dae gelede
Kroonjaar toe nie net sonskyn en sjampanje
agter die skerms: Rolene Strauss vertel wat sy alles moes prysgee vir haar titel.Foto: Getty Images  ~ 

MENSE sal ’n fout maak as hulle dink jy word net die hele tyd gewine en gedine as jy Mej. Suid-Afrika is.

Rolene Strauss, wat in 2014 as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld aangewys is, het onlangs verklap wat sy alles moes prysgee toe sy gekroon is.

Rolene het in ’n YouTube-video vertel watter ses dinge sy moes groet toe daai sash om haar skouers val.

Heel eerste moes sy oornag grootword. Rolene was net 21 toe sy wen, en daar was meteens baie verwagtinge waaraan sy moes voldoen.

Haar natuurlike hare en plat skoene was ook vir eers iets van die verlede. Rolene sê sy het so gepressure gevoel om heeltyd soos ’n skoonheidskoningin te lyk dat sy haar hare nooit meer natuurlik gedra het nie.

Hoëhakskoene was ook ’n moet – of sy nou lus was om daarin rond te hobbel of nie. Sy is bly sy het darem deesdae ’n keuse.

Saamgaan

Nadat sy aangewys is as Mej. Suid-Afrika, moes Rolene ook haar vrees vir praat in die openbaar oorkom.

Boonop moes sy haar mediese studie vir eers halt.

Die kroondraer moet al haar tyd wy aan die verpligtinge wat met die titel saamgaan.

Daar bly dus weinig tyd oor vir behoorlik studeer.

Privaatheid was ook een van die dinge wat sy moes inboet.

Van die oomblik dat die wenner die Mej. Suid-Afrika-kroon ontvang, is sy in die kollig.

Skielik is die girl nie meer net die oulike, mooi meisie wat deelneem nie; sy is ’n volwaardige celeb.

Mense – wildvreemde­linge – dink hulle ken die meisie en dink hulle weet wat die beste vir haar en haar lewe is.

Die laaste ding wat Rolene moes prysgee, is haar roetine. Voorheen kon sy gereeld gaan oefen en was daar tyd om gesonde lunches in te pak. Nadat sy die kroon gewen het, was dit moeilik om daai roetine vol te hou. Sy het gewig aangesit en toe wou mense ewe weet of sy swanger is!

Ten spyte van al die opofferings, dink Ro­lene steeds die kompetisie het haar lewe ten goede verander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters