17 dae gelede
Jess sê Bauke is beslis die haantjie vir haar
GESPIERD: Bauke Hanekom het Jessica Calder se hart gesteel.  ~ Instagram

JESSICA Calder van die tweede seisoen van The Bachelor SA het haar gespierde ridder op sy wit perd gevind.

Toe Marc Buckner Jessica sonder ’n roos huis toe gestuur het, het sy die Bachelor mansion verlaat met die wete dat sy tog steeds in die liefde glo en dat haar tyd daarvoor wel sal kom ... min wetende dat dit sommer reg voor haar deur was.

Die chef en bakkery-eienaar het liefde gevind met die aantrek­like Bauke Hanekom, wat deelgeneem het aan ’n ander plaaslike maat­soek-program, Hoor My, Sien My, Soen My.

En al het die twee albei om liefde gaan aanklop het op ’n maatsoek-program, is dit nie hoe hulle ontmoet het nie.

Jess het hul verhouding met ’n vuurwarm foto van haar en Bauke op Instagram official gemaak. In die foto deel die twee duifies ’n hartstogtelike soen.

Sy het aan Channel24 bevestig dat sy en Bauke wel nou ’n item is.

“Ek sal sê dat dit liefde met die eerste oogopslag was.

“Bauke sal my doodmaak oor ek dit sê,” het sy liggies gegrap.

Sy het verder vertel dat sy en haar liefie aanvanklik in die sosiale media begin gesels het. Hul eerste date was eers dié maand.

Dit het Bauke nie lank gevat om te besef dat hy Jess syne wou maak nie, want net ’n week ná hul eerste date het sy haar gevra om sy meisie te wees.

Opgewonde

Jess het aan die publikasie verklap dat hulle sedertdien onafskeidbaar is.

“Ons kom so goed oor die weg. Hy is so ’n wonderlike ou en ek is regtig baie, baie gelukkig,” kloek sy.

Jessica sê sy sien uit na haar toekoms saam met hom.

“Ek is opgewonde oor wat vir ons voorlê.

“Ons is albei baie verlief. Dit het alles so vinnig gebeur, maar as ’n mens weet, dan weet jy net.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters