12 dae gelede
#KYK: Grootste jol van die jaar kom
Sybil  ~ Peter Abrahams

DAAR is net drie weke oor vir die grootste jol anderkant Sir Lowryspas en die kaartjies verkoop soos soetkoek. So, jy beter spring as jy nog kaartjies wil kry.

Son se Jolkol op 30 November by die Elgin Grabouw Country Club beloof pret en plesier vir die hele gesin.

Daar gaan ’n pret-area vir die kinders wees met onder meer jumping castles en waterglybane­.

Kaartjies vir dié area kos R70 tot R90 per kaartjie, afhangende van waar jy sit.

Daar gaan ook nie ’n tekort wees aan kos om te koop nie. Hamburgers, hot dogs, pizzas, chicken strips, noem maar op – alles om die magies vol te hou.

Daar gaan twee groot bar-areas vir die grootmense wees om die keel nat te hou. Dié areas is net vir mense ouer as 18 en daar gaan streng sekuriteit rondom albei areas wees.

Dan kom ons by die hoogtepunt van die dag: die vermaak op die verhoog met nege van die grootste kunstenaars in die land, onder wie Early B, The Rockets, Salomé, Loukmaan Adams, Jarrad Ricketts en andere.

Maar die kersie op die koek is ongetwyfeld die Amerikaanse diva Sybil. Sy gaan haar groot treffers en Kaapse gunstelinge sing, soos “The Love I Lost”, “When I’m Good and Ready”, “Don’t Make Me Over”, “Make it Easy on Me” en nog baie meer. 

Veilig

Die hekke sal 08:00 oopmaak en die eerste kunstenaar sal 10:00 op die verhoog verskyn.

Sybil sal die dag se pret afsluit met haar vertoning van 18:00 tot 19:00.

Daar is natuurlik ook ’n paar reëls wat op die dag nagekom moet word om dit veilig en plesierig vir almal te maak.

Almal is welkom om met hulle kampstoele en komberse op die lieflike grasoppervlakte te sit, maar geen gazebos, sambrele of cooler boxes word toegelaat nie.

Kaartjies vir algemene toegang kos R170 en Golden Circle-kaartjies is R250.

VIP-kaartjies, wat ’n meet and greet insluit, kos R350.

Die Son Jolkol gaan vir seker die paartie van die jaar wees en sal seker maak ons skop die festive season op die regte noot af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters