18 dae gelede
Fliek oor gesinsmoord nog net ’n paar dae op die kassie
kyk: Die fliek Griekwastad is tans op DStv Box Office te sien. Gaan check dit uit.foto’s verskaf  ~ 

AS JY nog nie die briljante fliek Griekwastad gekyk het nie, moet jy vinnig spring.

Die fliek is tot 2 Julie op DStv Box Office. Griekwastad is nou al ’n hele rukkie op die kanaal en sowat 100 000 mense het dit al gekyk.

In moeilike tye soos dié moet ons natuurlik ons plaaslike produksies ondersteun.

Onthou julle nog toe Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), in 2012 in hul huis op die plaas Naauwhoek buite Griekwastad in die Noord-Kaap vermoor is?

Slagoffers

Hul 15-jarige seun, Don, het net ná sononder by die Griekwastad-polisiestasie ingestorm. Sy gesig, hande en hemp was vol bloed.

Hy’t vir die polisie gesê sy gesin was die slagoffers van ’n plaasmoord en dat hy in die skuur weggekruip en eers na die huis teruggegaan het nadat die skietery opgehou het. Sy suster het in sy arms gesterf, het hy vertel.

Maar foto’s van krapmerke aan sy nek en sy bebloede, geskeurde hemp was eerder ’n bewys van ’n hewige gestoei met sy suster.

Dick de Waal, die speurder, moes sy mening dat die jong seun onskuldig is, laat vaar en hom daarop toespits om ’n driedubbele moord op die Steenkamps se plaas op te los.

STER: Arnold Vosloo vertolk die hoofrol van kol. Dick de Waal.

Griekwastad is die storie van die soeke na die waarheid oor wat daardie dag gebeur het.

Die fliek is gegrond op die boek Die Griekwastad-moorde – die Misdaad Wat Suid-Afrika Geruk Het, geskryf deur Jacques Steenkamp.

Die rolprent is vervaardig deur SCENE 23 se Deon Meyer, Tim Theron, Cobus van den Berg en Tracey Lange.

Vertolk

Die akteurs is onder andere Arnold Vosloo, Alex van Dyk, Jane de Wet, Albert Pretorius, Albert Maritz, Deon Lotz, Ira Blankenberg, Rolanda Marais, Tim Theron en Jody Abrahams.

Vosloo, die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse akteur, vertolk die hoofrol van kol. Dick de Waal.

Dis Suid-Afrika se verlore filmseun se eerste Afrikaanse fliek in 30 jaar.

So, dié is dus een fliek wat jy móét onder oë kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters